‘HELP DIT PRAKTIES UITVOER’
AGRI SA werk hard om omstandighede en skemas te skep deur middel waarvan boere hul boerderye teen die risiko van onteiening kan beveilig.
Die geslag boere wat vandag in Suid-Afrika boer, moet egter besef die mandaat vir grondhervorming gaan nie verdwyn nie, het mnr. Pierre Vercueil, ondervoorsitter van Agri SA, op Mpumalanga Landbou se kongres in Witrivier gewaarsku.
“Die kwessie van ongelyke grondbesit wat verskeie kommissies en komitees van die staat oor honderde jare nie kon regkry nie, is nou op ons pad. Die vind van ’n oplossing vir die probleem is nou genoeg kere uitgestel. Ons moet nou hierdie ding takel.”
Hy waarsku dat aanhoudende groei die enigste manier is waarop familieboerderye kan oorleef in ’n land soos Suid-Afrika waar daar weinig subsidies vir die landbou is. “Hoewel ons baie van die 80-20-beginsel hoor, is familie-boerderye die ruggraat van die Suid-Afrikaanse landbou. Dit is wat die waardeketting stabiel hou en dit laat werk,” sê hy.
Wat grondhervorming betref, sê Vercueil dit kan net werk in ’n omgewing van private besitreg.
“In 1814 het die Kaapse goewerneur sir John Cradock weggedoen met die huurpagstelsel en eiendomsreg aan boere oorgedra om ekonomiese groei te bewerkstellig. Eiendomsreg is die bakermat van groei en daar is eintlik nie ’n plan B nie.”
Hy sê egter boere moenie dink die Regering sal ekonomiese groei bo grondhervorming kies nie. “Die politiek is ’n korttermynbe-sigheid en die landbou ’n lang-termynbesigheid. Ons gaan dus nie wegkom van spanning tussen die Regering aan die bewind en die landbou nie,” sê Vercueil.
BIED GELEENTHEID
Grondhervorming is ’n werklikheid en boere se enigste opsie is om te help verseker dat dit op ’n praktiese manier uitgevoer word. Vercueil sê grondhervorming in Suid-Afrika was egter nog nooit bekostigbaar nie.
“Dit is ook nie nou bekostigbaar nie. Daar is 20 000 plase op die mark en hulle is nou al teen ’n diskonto te koop, maar die staat kan dit nie bekostig nie.”
Daarom meen hy grondhervorming bied ’n geleentheid vir boere om hul besighede te laat groei. “Jy het mos nog nooit gehoor van iemand wat gaan boer met ’n 100% markverhouding en ’n 100% lening nie. Die waarheid is dat omstandighede geskep moet word waar ons vir nuwe toetreders toegang tot die landbou kan gee.
“Ons gaan dit doen, want ons wil nie onteiening sonder vergoeding van kommersiële boere se plase hê nie en ons wil deel van die suksesverhaal van die vestiging van nuwe boere wees.”
Vercueil sê boere weet dit is nie moontlik om ’n klomp nuwe boere sommer sonder subsidies op die been te kry nie.
“As ons egter sê ons is bereid om ons ondervinding en kennis aan ander mense oor te dra, maak ons ’n begin. Ons kennis dra waarde, op grond waarvan elkeen van ons met ons banke en finansiële instellings kan praat oor maniere om hierdie goed gedoen te kry.”
—
‘Daar is 20 000 plase op die mark en hulle is nou al teen ’n diskonto te koop.’