GRONDHERVORMING: RPO SE STANDPUNT DUIDELIK
DIE Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het sy standpunt oor grondhervorming omskryf in ’n voorlegging aan die komitee wat die moontlike wysiging van artikel 25 van die Grondwet hersien.
Volgens mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die organisasie, erken die RPO in sy voorlegging dat die patroon van grondbesit en -gebruik in die verlede ongelyk en onregverdig was. Dit het ook tot die huidige ernstige vlakke van armoede en ongelykheid in die algemeen en onder vroue in die besonder bygedra.
Hy sê die Suid-Afrikaanse Grondwet (Wet 108 van 1996) vereis van die Regering om redelike wetlike en ander maatreëls binne sy beskikbare bronne aan te wend om toestande te skep wat burgers in staat sal stel om op ’n gelyke grondslag toegang tot grond te hê.
“Verder maak die Grondwet daarvoor voorsiening dat geen voorskrifte in artikel 25 die staat beperk om wetlike en ander maatreëls in te stel om grond, water en verwante hervorming te bewerkstellig om die gevolge van die historiese verlede op te los nie.
“Die RPO ondersteun artikel 25 omdat dit ’n organisasie is wat grondwetlikheid aanhang,” sê Schutte.
Hy het sekere aspekte in die voorlegging beklemtoon wat vir sy organisasie belangrik is. Dit is die volgende:
Die RPO is in die belang van Suid-Afrika en die landbou verbind tot grondhervorming en ander hervormings om gelyke toegang tot natuurlike hulpbronne te bewerkstellig.
Die RPO glo in ooreenstemming met die Grondwet aan sekerheid van verblyfreg en dat die begunstigdes van grondhervorming grond moet bewoon, besit en op so ’n manier gebruik dat hulle betekenisvolle sekerheid van verblyfreg op die eiendom sal hê.
Die RPO dring daarop aan dat die Regering die maatskaplike, ekonomiese en omgewingsregte van alle burgers sal eerbiedig, beskerm en bevorder om in die basiese behoeftes van voorheen benadeelde gemeenskappe te voorsien.
Die RPO, die burgerlike gemeenskap en ander organisasies vereis dat die staatsliggame hul funksies ten opsigte van grondhervorming ywerig sal uitvoer en op só ’n manier dat dit tot voordeel van die hele Suid-Afrika is.
VOORLEGGING
’n Verkorte deel van die RPO se voorlegging lui soos volg:
“Die gees van Suid-Afrika se Grondwet word in die voorwoord vervat en kan opgesom word as ’n poging om die wanbalanse van die verlede uit die weg te ruim, dus is dit transformerend van aard. Die doel van die Grondwet was nooit om strafmaatreëls in te stel nie, aangesien dit op waardes gebaseer is en nie op reëls nie.
“Die Grondwet bevat geen definisie van die verskillende soorte eiendomme in Suid-Afrika nie. Artikel 25 van die Grondwet is op alle eiendom van toepassing, ongeag of dit plaasgrond, kommersiële plaasgrond, kommunale grond of eiendom in stedelike woongebiede is. Daar word ook verwys na ander eiendom as grond. Artikel 25 is uiteraard omvattend en dit maak nie net vir een of twee soorte eiendom voorsiening nie, maar vir alle eiendom.
“Verder kan artikel 25, soos vervat in hoofstuk 2 van die Handves van Menseregte, nie afsonderlik beskou word nie, maar dit moet saam met verskeie ander afdelings van die Grondwet gelees word.
“Grondhervorming in ooreenstemming met die beginsels van die Grondwet is ’n komplekse oefening wat baie regeringsliggame betrek. Dit verg daarom konsultasie in ’n gees van korporatiewe regering. Om slegs een klousule van die Grondwet te verander sal nie die probleme van die verlede oplos nie. Dit is iets wat deur die geskiedenis van grondhervorming bewys word.
MISLUKKINGS MET HERVORMING SEDERT 1994
“Suid-Afrika het meer mislukkings as suksesse met grondhervorming behaal. Dit kan toegeskryf word aan die verskillende benaderings tot grondhervorming wat tot dusver gevolg is. Politieke alliansies en die verryking van sekere elitegroepe (veral in mineraalryke gebiede), pleks van pogings om strukturele ongelykhede ten opsigte van die eienaarskap en beheer oor grond reg te stel, is die belangrikste redes waarom onlangse grondhervormingsbeleid misluk het.
’N GRONDOUDIT IS BELANGRIK
“Die gebrek aan voldoende bewyse oor grondbesit is ’n hindernis in die weg van grondbeleid. Dit is nou belangriker as vantevore dat beleid gerugsteun word deur feite. Argumente oor grondbesit word al vir te lank op persepsies pleks van op feite gebaseer.
“Daar is geen betroubare syfers oor grondbesit in Suid-Afrika nie. Om dié probleem op te los, het Agri SA en sy bondgenote beklemtoon dat dit van kritieke belang is dat die beleidsdebat oor volhoubare grondhervorming op betroubare data gebaseer moet wees. Kortliks beteken dit dat enige debat wat sonder ’n grondoudit onderneem gaan word, ’n mislukking sal wees.
‘Die doel van die Grondwet was nooit om strafmaatreëls in te stel nie, aangesien dit op waardes gebaseer is en nie op reëls nie.’
DEFINISIE VAN ‘ONBENUTTE GROND’
“Toe die debat oor die onteiening van grond sonder vergoeding begin het, is daar na die onteiening van onbenutte grond verwys. Daar is egter nêrens ’n definisie oor onbenutte grond in landelike of plattelandse gebiede nie.
“Veeboerdery behels dat verskillende weidingsmetodes aangewend word om die maksimum produksie te behaal en dit mag die wanindruk skep dat grond nie benut word nie. Sonder ’n duidelike omskrywing van onbenutte grond, is die gebruik van ’n eenvoudige term onaanvaarbaar.
BEGROTINGSTOEKENNING
“Om prosedures vir die toekenning van grond in werking te stel sal die Regering nie net ’n sleutelrol moet speel om strukture aan te pas om beleggings aan te moedig nie; ’n kapitaalinspuiting in programme sal ook nodig wees.