BETREKLIK HOË PRYSE VIR DIÉ RAS
Die vraag na die Van Rooy as een van die oudste Suid-Afrikaans ontwikkelde skaaprasse blyk duidelik in die betreklik hoë veilingpryse wat die afgelope tyd in die Noord-Kaap behaal is.
Me. Adri Stadler van die Van Rooy-skaaptelersvereniging met sy huidige ledetal van 30 sê die gewildheid van die ras vir die gebruik van rasegte teling, maar ook vir kruisteling, neem daagliks toe.
Dié ras het sy ontstaan aan senator Johannes Cornelius van Rooy van die plaas Koppieskraal, Bethulie, te danke toe hy in 1906 blinkhaar-Afrikanerramme by Rambouillet-ooie begin gebruik het. Die idee was om geharde en vrugbare diere met ’n goeie vleisbouvorm vir slagdoeleindes te teel. Later is ’n poenskop-Wensleydale-ram bygevoeg om die diere se bouvorm te verbeter.
Die veilingsneigings van die afgelope nege maande is soos volg: Nasionale veiling (Augustus 2017): Ramgemiddelde R5 587 stuk (hoogste prys, R11 000), ooigemiddelde R2 716 stuk (hoogste prys: R3 800).
Griekwastad-veldramveiling (September 2017): Gemiddelde prys: Kudderamme R8 357 stuk en stoetramme R9 628 stuk (hoogste prys: R12 200).
Prieska-veldramveiling (Februarie): Gemiddelde prys: Kudderamme R6 714 stuk (hoogste prys: R12 000). Griekwaland-Wesstoetveeveiling, Postmasburg (Februarie): Gemiddelde prys: Ramme: R9 344 stuk (hoogste prys: R23 000) en kommersiële ooie: R2 300 stuk.
Navrae: Me. Adri Stadler, sel 073 310 2225, e-pos: admin@ vanrooysa.co.za
— JOHAN NORVAL