OM JAPANNEES TE WEES
Sport was onlangs weer baie goeie afleiding. Eers was dit Rassie Erasmus se bemoedigende debuut met die Bokke teen die besoekende Britte. Toe kom die Wêreldbeker-sokkertoernooi (al sokker wat ek kyk), en tennis op Wimbeldon, waar Kevin Anderson se leeuehart ’n mens weer trots laat voel het op Suid-Afrika.
Die Japannese was egter die hoogtepunt. Ná ’n paar buitengewone groepwedstryde tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi het hulle teen België verloor. Nadat almal oor die skok gekom het, het ’n eienaardige ding gebeur. Die Japannese toeskouers het plastieksakke uitgehaal en die stadion begin skoonmaak. In die kleedkamer het die verslane Japannese sokkerspelers ook alles mooi skoongemaak en ’n briefie gelos wat eenvoudig in Russies sê: “Baie dankie”. Tant Emsie Schoeman sou trots gewees het.
Ek dink gereeld aan daardie Japannese toeskouers wanneer ek wonder hoekom ons ’n grondberaad in Augustus wil hou (sien bl. 30), veral wanneer so baie van die probleme met grond net pure hebsug en politieke oëverblindery is. Soos die vent wat nou die dag by die ANC se hoofkantoor, Luthuli-huis, in hegtenis geneem is vir ’n transitorooftog in Soweto. Errol Velile Present is dieselfde ou aan wie Gugile Nkwiniti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, ’n paar jaar gelede ’n plaas van R97 miljoen pasella gegee het. Deliotte het later aanbeveel Nkwinti behoort van korrupsie aangekla te word, maar daar het dadels van gekom. In die lig van sulke snert, hoekom sukkel ons nog om oor grond te praat?
Dan dink ek aan daardie Japannese toeskouers. En ek dink dat dit in Suid-Afrika veral ons landboumense is wat die tyd afstaan en die moeite doen om ons stadion skoon te hou. Die hele wêreld behoort dit te hoor.
Boere, landboubesighede en produsente-organisasies kry reeds die onmoontlike reg — om wen-wen-situasies te bewerkstellig op die platteland wat gebuk gaan onder growwe regeringsvergrype. Dit gebeur op van kommunale grond tot familieplase, restitusieplase, plase in vennootskappe met werkers en buitebeleggers, groot boerderye en klein plasies. Die voorbeelde is daar. Almal vind êrens die kapitaal om die waarde in bestaande en nuwe ondernemings sodanig te ontsluit dat meer geleenthede vir almal geskep word sodat die platteland kan herleef. Die platteland moet eenvoudig weer funksioneel word. Die klipgooiery en geplundery moet end kry. Kinders moet skool toe gaan, ouers moet gaan werk, en elke bate in ’n boerderydistrik (soos groot dorpsdamme en meentgrond) moet optimaal ingespan word om welvaart vir gemeenskappe te skep.
Ons gaan dus ál die ouens wat ons en Agri SA ken wat al die haas onmoontlike reggekry het, teen einde van Augustus vir twee dae in Bela-Bela in Limpopo bymekaar kry. Ons moet eens en vir altyd die landbou se kant stel — nie net aan die plaaslike en internasionale media nie, maar ook aan die landbou self.
Op dié eiesoortige geleentheid wil ons weer die hoop skep dat ’n beter toekoms werklik moontlik is — sonder die waansinnigheid van onteiening sonder vergoeding. Dit gebeur ook kort voor die Parlement terugvoering moet kry oor die wenslikheid daarvan om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding nog makliker te maak. Hopelik sal daar sommer ook ’n hele paar vullissakke uitgedeel word. Bespreek nou en wees deel van die oplossing.