BOERE IN SA HET MEER MAG AS WAT HULLE DINK
SUID-AFRIKAANSE boere is in ’n baie beter posisie om die mark te beheer as boere in Europa en Noord-Amerika, en verskaffers wat ’n goeie begrip van handelaars se sakeplanne het, kan ’n sterk mededingende voordeel geniet. Dít was die boodskap van me. Lindie Stroebel, hoofbestuurder van die produkbemarkingsvereniging PMA in Suider-Afrika op Farmer’s Weekly se AgriBesigheid Afrika-konferensie in Kempton park. “(Suid-Afrikaanse boere) is nie net afhanklik van groothandelaars nie. Daar is minstens vyf bemarkingskanale waarvan hulle gebruik kan maak. Dit sluit in uitvoer, plaaslike en streeksgroothandelaars, varsproduktemarkte, oorgrenshandel binne die streek en informele markte.” Sy het op ’n paneelbespreking oor wie die waarde in die waardeketting besit, gesê boere en sommige ander belanghebbendes in die landbouwaardeketting het nie genoeg kennis van die groothandelkant nie en raak nie betrokke by die hele waardeketting nie.
“Supermarkte is maar vir 40% van varsprodukverkope in die land verantwoordelik.”
TOELAES
Sy sê daar is 18 miljoen mense in die land wat toelaes ontvang, en hulle bestee jaarliks R22 miljard by een groothandelaar wat moeite doen om hierdie mark te bedien.
Volgens Stroebel is min boere daarvan bewus dat byvoorbeeld 40% van ZZ2 se tamaties en 60% van die Dutoit-boerdery se uie op die informele mark verkoop word.
In Suid-Afrika is daar ook baie minder probleme met afvalvoedsel. Hoewel gehalte nie ingeboet moet word nie, is verbruikers baie minder behep met die handelsmerk en die vorm van die produk.
“Al is die wortel ’n bietjie skeef, daar is steeds ’n mark vir hom.”
Prof. Johann Kirsten, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê daar is groot interafhanklikheid tussen die belanghebbendes binne die waardeketting. As een byvoorbeeld ’n voedselveiligheidsprobleem kry, ly almal daaronder.