Laer pryse, invoer maak melkboere boos
Boere is woedend dat sommige melkkopers produsentepryse vanweë ’n plaaslike surplus verlaag het, terwyl groot hoeveelhede langlewemelk en ander suiwelprodukte terselfdertyd ingevoer word. Meer deursigtigheid is in die mark nodig.
Daar is mediaberigte van melkboere wat hul melk laat uitloop omdat kopers pryse verlaag het te midde van bekgevegte oor die invoer van langlewemelk uit Pole. Dit raak vir kleiner boere al hoe moeiliker om te kan meeding, tensy hulle uitbrei om skaalekonomie na te jaag. Dit is nie noodwendig waar dat ’n groot melkery melk heelwat goedkoper produseer as ’n kleiner melkery nie, maar melkkopers verkies om eerder op een slag ’n groot tenkwa by een boer vol te maak as om by ’n paar kleiner boere op te laai. Daarom bied hulle ’n premie aan die groot boer.
Landboubeleid skiet in hierdie opsig tekort, veral as dit regeringsbeleid is om nuwe, kleiner boere te probeer vestig. Dit is ’n klassieke voorbeeld waar die markwerking nagevolge het wat nie met beleidsdoelwitte klop nie. Dit bied gewoonlik ’n grondslag om sekere regstellings aan die ongenaakbare werking van markkragte te maak.
Daar word ook vermoed dat kleiner melkboere se pryse voor dié van groot voorsieners verlaag word.
Opkomende varkboere is in dieselfde bootjie. Hulle het baie laer speengetalle per sog omdat hulle nie kan bekostig om moderne sogbehuising en biosekerheidsmaatreëls daar te stel nie. ’n Aansienlike kapitaalbelegging en ’n taamlik hoë vlak van bestuurskundigheid is nodig, anders is jou koste per speenvark eenvoudig hoër as dié van doeltreffender boere.
Die werking van die mark vir vars melk bly problematies. Dit wil voorkom of daar gedurig wanbalanse is. Daar is ook baie klagtes van boere oor die ondeursigtigheid van die mark. Die melkpryssiklus en die voerpryssiklus val ook nie altyd saam nie. Sowat drie tot vier jaar gelede is verskeie kleiner melkboere uit die bedryf gedwing deur baie ongunstige voer- en melkpryse.
PRODUKSIE EN VERBRUIK
GRAFIEK 1 toon die gevolg van skaalekonomie as die mark toegelaat word om onbeperk te funksioneer. Die getal kommersiële melkboere het die afgelope paar jaar aansienlik gedaal, terwyl die totale produksie aansienlik gestyg het. Volgens die Melkprodusente-organisasie (MPO) se opnames het die getal melkboere gedaal vanaf sowat 2 551 in 2009 tot 1 503 verlede jaar. Dit is ’n daling van 58%, terwyl die jaarlikse produksie met 26% gestyg het.
Dit kan daaraan toegeskryf word dat die gemiddelde melkkoeikudde aansienlik groter geword het namate kleiner kuddes uit produksie gehaal is. Volgens die MPO bestaan die gemiddelde koeikudde uit 303 diere (in 2016).
Daar was die afgelope paar ook ’n groot geografiese verskuiwing – weg van graanverbouingsgebiede na weidingsgebiede aan die kus, want tydens die droogtejare was dit net te duur om ’n melkery met volvoerrantsoene te bedryf. ’n Kommersiële melkkudde in die Oos-Kaap, byvoorbeeld, bestaan uit gemiddeld 584 koeie, teenoor 105 in Noordwes en 173 in die Vrystaat.
Sowat 83% van Suid-Afrika se melk word nou in die kusgebiede geproduseer. Dié verskuiwing het tot gevolg gehad dat boere in die binnelandse somerreëngebiede al hoe meer wegbeweeg het van melkboerdery. Daarmee saam het die koste van melkverwerkingsinfrastruktuur en vervoer toegeneem.
INVOER
GRAFIEK 2 toon die stygende neiging van suiwelinvoer die afgelope paar jaar, ten spyte van verwerkers wat sê dat daar by tye melksurplusse in Suid-Afrika is, wat hulle dwing om boere se prys te verlaag. Melk SA se syfers toon dat suiwelinvoer verlede jaar sowat 42% meer was as in 2016.
Daarteenoor het melkproduksie in die tweede deel van verlede jaar begin styg en verder toegeneem vanjaar danksy taamlik goeie produksietoestande, hoewel dele van die Oos-Kaap en Wes-Kaap steeds droogte ervaar. Dit bevestig net dat die produksie per melkboer ál hoër word in ’n poging om die stygende produksiekoste te klop.
In alle billikheid moet ’n mens ook verwys na die uitvoer van Suid-Afrikaanse suiwelprodukte, meestal na Afrika-lande. Dit was verlede jaar gelykstaande aan 423 miljoen liter melk. Dit toon ’n stadig stygende neiging.
Die internasionale prys van suiwelprodukte sal na verwagting in 2018-’19 daal namate produksie in die groot uitvoerlande toeneem ná die vorige twee tot drie jaar se stygings.
Botterpryse kan met sowat 11% in dollarwaarde daal en kaaspryse met sowat 3%. Die prys van volroommelkpoeier kan met 4% daal. Die verswakking van die rand moet natuurlik in gedagte gehou word.
In Australië sal boere na verwagting in die volgende jaar sowat R4,80/liter vir hul melk kry. Ander ontledings toon ook dat Suid-Afrika se produsenteprys baie mededingend met dié van ander lande, waaronder uitvoerlande, is.
Die wêreldmark word verder onder druk geplaas deurdat die Europese Unie sy opgehoopte staatsvoorraad melkpoeier verminder en groot hoeveelhede per tender verkoop vir uitvoer. In Mei vanjaar is 42 000 ton melkpoeier op tender verkoop en in April 24 000 ton. Die totale opgehoopte voorraad beloop 330 000 ton. Tenderpryse was sowat 20% onder die heersende markpryse.
Die verwagting is dat die groot voorraad in 2018-’19 verder verminder gaan word. Dit gaan volgehoue druk op internasionale melkpoeierpryse plaas. ’n Mens kan nie help om te wonder of dit van dié melkpoeier is
wat gebruik word in die ingevoerde langlewemelk op Suid-Afrikaanse winkelrakke nie.
PRODUSENTEPRYS
Die jongste dalings in produsentepryse wat sekere melkkopers onlangs aangekondig het, moet teen dié agtergrond beskou word. Soos genoem, voer hulle aan dat daar ’n melksurplus in die land is omdat plaaslike produksie bly styg. Natuurlik sal melkboere omgekrap wees as daar te midde van “surplusse” ’n toename in die invoer van langlewemelk en ander suiwelprodukte is. Dít boonop terwyl die rand aansienlik verswak het en invoer duurder behoort te word.
Dit bly ’n raaisel dat die mark vir melk en ander suiwelprodukte in Suid-Afrika taamlik ondeursigtig is en dat die mark, anders as by ander bedrywe, nie vooraf aanduidings kry dat ’n surplus op pad is wat pryse kan laat daal nie. Dit bly vir kleiner en middelslagmelkboere ’n steen des aanstoots. toon die verloop van die geraamde produsenteprys vir melk die afgelope paar maande. Die effens afwaartse neiging in pryse kan gesien word. Die ander grafieklyn toon die melk-tot-voerprysverhouding. Die voerprys is ’n samestelling van die mielie- en sojaboonprys. Die verhouding was in 2015 erg onder druk toe voergraanpryse hoog was. Baie melkboere het verliese gely en die bedryf verlaat. Die situasie het verlede jaar met die groot oeste verbeter, maar die verhouding is die afgelope paar maande weer besig om laer te neig weens die daling in melkpryse. Die melkkopers se benadering is gewoonlik as hulle die produsentepryse laat daal, sal dit die melkboer genoegsaam knyp om sy produksie in te kort sodat balans sal terugkeer.
Die ironie is natuurlik dat die gaping tussen die plaasprys en die winkelrakprys al hoe groter word (vanweë talle redes), maar dit maak melkboere verder die josie in dat hulle die spit moet afbyt. Die vraag wat ek baie hoor, is: Waarom word laer produsentepryse nie na verbruikers deurgegee om die vraag te stimuleer nie?
Dit wil voorkom of korrekte en vroegtydige marktekens aan die melkboer die bedryf steeds ontwyk. Intussen is skaalekonomie volstoom aan die werk, terwyl die staat dink hy kan klein melkboere suksesvol vestig in ’n mark waar daar met invoer meegeding word.