WEERSKANTE VAN DIE HEINING
Die verskynsel van heiningkontraste
(fenceline contrasts), wat gewoonlik aan verskille in weidingsdruk en veldbestuur toegeskryf word, het ’n paar vars gedagtes opgelewer.
Mnr. De Graaff Genis van die plaas Brakkies sê navorsers vind dikwels sulke teenstellings sonder om die geskiedenis van die grond of die rigting van die heining in ag te neem. In daardie deel van Namakwaland is die suidewind die heersende wind in die somer. Die skape beweeg instinktief in ’n suidelike rigting tot by die grens teen die wind op. Die grond aan die suidekant van die draad kan dus swakker as sy buurman s’n lyk, maar die kamp se noordekant lyk beter as die buurplaas se suidekant.
Op De Graaff se plaas is daar ook ’n plek langs die grensdraad waar die skape jare lank geslaap het.
“Ek dink jare se mis en uriene is net te veel vir plante om daarin te groei en dis waarom dit so lank duur om te herstel. Dis ook een van die redes waarom die grond rondom ou veesuipings so lank neem om te herstel.”
Me. Annelise le Roux, afgetrede botanis van Kaapse Natuurbewaring in Namakwaland, sê die ureum in die uriensuur is nie goed vir plante nie.
“As jy kyk waar die ou veekrale is, sien jy dikwels soutslaai (Mesembryanthemum guerichianum) kom eerste op. Soutslaai trek sout uit die grond uit.”