Die geel golf
Min vrugtegewasse in Suid-Afrika kan geel kiwivrugte klop wanneer dit by inkomste kom, meen die kiwiboer mnr. Peter Nicholson van Roselands Farm naby Richmond. Hy vertel lesers van sy ervaring met dié gewas wat ál helderder skyn.
Wêreldwyd kan die aanbod kiwivrugte nie met die vraag byhou nie. Voorspellings dat dié gewas die volgende witgoud is, is nie ’n oordrywing nie. Statistieke wat onlangs oor die huidige groeityd in Nieu-Seeland bekend gestel is, wys die gemiddelde inkomste uit geel kiwivrugte was NZ$114 345 (sowat R1 miljoen) per hektaar. Let daarop dat dit die gemiddelde inkomste is – sommige boere het veel meer gemaak.
Hierdie inkomste is beslis haalbaar in Suid-Afrika, en kan selfs hoër wees as gevolg van die land se vroeë produksietydperk en meer sonskyndae. Sien ook “Kiwi’s op die kruin”, LBW, 4 Mei 2018, waarin aangevoer is R400 000 per hektaar wins vir Suid-Afrikaanse boere is ’n konserwatiewe som.
In die Suidelike Halfrond is Nieu-Seeland Suid-Afrika se enigste werklike mededinging, maar danksy Suid-Afrika se breedteligging kan hy vier tot twaalf weke vroeër as Nieu-Seeland uitvoer. Dié vrugte sal die markgaping in Asië en Europa vul waartydens daar geen of baie min vrugte beskikbaar is en die mark bereid is om hoë pryse te betaal.
Vanjaar het Zespri, die maatskappy wat alle kiwivrugte in Nieu-Seeland beheer, lisensies vir 400 ha geel kiwi’s beskikbaar gestel. Voornemende kwekers het meer as NZ$240 000/ha (meer as R2,2 miljoen) aangebied vir ’n lisensie om ’n kultivar bekend as G3, oftewel Sungold, te verbou. Voorspellings vir die komende jaar is dat die G3-lisensie sowat NZ$300 000/ha (R2,8 miljoen) werd sal wees (dit is voor vestigingskoste). In die afgelope ses maande is drie geelkiwiplase in Nieu-Seeland vir NZ$1 miljoen (R10 mil-
joen) per hektaar verkoop.
Die kultivars wat tans in Suid-Afrika verbou word, kos ’n fraksie daarvan – sowat R20 000 per hektaar.
Die feit dat Nieu-Seelandse boere bereid is om meer as R2,5 miljoen per hektaar te betaal net om ’n lisensie te kry om geel kiwivrugte te verbou, is ’n aanduiding van die opwindende toekoms wat op kwekers van geel kiwi’s in Suid-Afrika wag.
’n Goeie inkomste uit vrugteproduksie is gewoonlik gekoppel aan die volume wat verbou word en in hierdie opsig is geel kiwivrugte uitsonderlik. Die gemiddelde op-
brengs wêreldwyd is van 40 t/ha tot 60 t/ha in voldrag. Pryse terug op die plaas wissel van R20/kg tot R40/kg.
BOERE WIL VERENIG
Tans boer sowat 14 kwekers met geel kiwivrugte in Suid-Afrika, meestal in die KwaZulu-Natalse Middelland, Mpumalanga en die Kaap. ’n Aantal nuwe kwekers het ook rondom George begin. Op Roselands Farm by Richmond in KwaZulu-Natal word sedert 1983 met kiwivrugte geboer en 21 ha is tans onder kiwivrugte, waaronder 10 ha met drie geel kultivars – Skelton Y368, Soreli en Y356 of TopGold. Die eerste klein oes van 16 ton op die eerste 3 ha is vanjaar gepluk. Dit is na Europa, Asië en die Midde-Ooste uitgevoer.
Die bestaande kwekers is besig om ’n vereniging (die Suid-Afrikaanse Kiwivereniging) te stig en dit is uiters belangrik dat nuwe kwekers daarby aansluit. Aangesien van die beskikbare geel kultivars nog ongetoets is en tot groot inkomsteverliese kan lei, behoort voornemende kiwiboere eers met gevestigde kwekers te gesels en die nodige huiswerk te doen. Soos in enige nuwe bedryf het boere tot nou toe baie duur foute gemaak waaruit nuwe kwekers kan leer.
Kiwivrugte is oorspronklik in die vroeë 1980’s in Suid-Afrika aangeplant, maar die aanvanklike opbloei is gou deur ’n ineenstorting gevolg. Daar was verskeie redes voor, maar die klaarblyklikste was dat groen kiwivrugte ’n nuutjie vir Suid-Afrikaners was en met die skielike oorvoorsiening toe al die kwekers in produksie gekom het, het pryse skerp gedaal met min boere wat oorleef het. Minder as 100 ha groen kiwivrugte bestaan vandag nog. Interessant genoeg Nieu-Seeland is van dieselfde lot gered deurdat boere daarin geslaag het om baie van hul vroeë vrugte uit te voer. Die ontluikende bedryf het dus oorleef en saam met die wêreldwye vraag na kiwivrugte gegroei.
Deesdae beheer Zespri ’n verstommende 25% van die wêreld se kiwivrugte-uitvoer en bestee jaarliks meer as $100 miljoen (sowat R13,5 miljard) aan bemarking. Suid-Afrikaners moet daarop let dat dit ’n eenkanaal-bemarkingstelsel is wat hulle so suksesvol gemaak het omdat die hele Nieu-Seelandse kiwibedryf deur een maatskappy saamwerk.
In 2010 het die eerste Skelton Gold-kiwikultivars van Nieu-Seeland na Suid-Afrika gekom en kommersiële aanplantings het in 2012 by Richmond begin.
Kiwiverbouing is steeds in sy kinderskoene in Suid-Afrika en tans is daar verskeie kultivars wat belofte toon. Binne die volgende jaar of twee behoort Suid-Afrikaners te weet op watter kultivars hulle klem moet lê. Suid-Afrika het vanjaar die eerste werklike kommersiële volume van sowat 100 ton uitgevoer. Probleme is ondervind weens onervarendheid met koueopberging en pakhuisbestuur, wat daartoe gelei het dat van die vrugte sag in Asiatiese en Europese markte aangekom het. Die potensiaal is egter steeds uiters goed sodra die skoolgeld betaal is.
GESOND ÉN GEWILD
Die vraag na geel kiwivrugte in die Noordelike Halfrond is besonder groot. In Asië is dit een van die drie vrugtesoorte wat die meeste geëet word. Die Asiërs het ’n soettand, wat geel kiwivrugte gewild maak. Die soet en verfrissende smaak van geel kiwi’s is heeltemal anders as dié van groen kiwi’s en uiters gewild by volwassenes én kinders.
Kiwivrugte word as een van die drie gesondste vrugte beskou en bevat drie keer soveel vitamien C as ’n lemoen.
‘Dat Nieu-Seelandse boere bereid is om meer as R2,5 miljoen per hektaar te betaal net om ’n lisensie te kry om geel kiwivrugte te verbou is ’n aanduiding van die opwindende toekoms wat op kwekers van geel kiwi’s in Suid-Afrika wag.’
China, waar kiwivrugte inheems is, is die wêreld se grootste produsent. Feitlik al die vrugte word egter in China self verbruik met niks of min wat uitgevoer word. Wanneer China en die res van Asië se kiwivrugte dus op is, wag hulle vir vrugte uit Nieu-Seeland. Dit is waar die belangrike vroeë markgaping vir Suid-Afrika vóór Nieu-Seeland ontstaan. Geel kiwivrugte het ’n betreklik kort opbergtyd van sowat vier tot vyf maande en daar is dus min oorvleueling tussen vrugte uit die Noordelike en Suidelike Halfrond.
DUUR VESTIGING
Die vestigingskoste vir kiwivrugte is hoog en boere moet hulle regmaak om oor die eerste drie tot vier jaar meer as R500 000/ha te bestee, wat haelnette van sowat R300 000/ha insluit. Nadat dit betaal is, is slegs sowat R50 000/ha tot R60 000/ha per jaar nodig.
Omdat dit ’n rankplant is, moet kiwivrugte teen strukture opgelei word. Die algemeenste is die pergola-stelsel. Dit maak dit duurder as die meeste gewasse om te vestig. As hael ’n faktor is, moet nette gespan word, wat die vestigingskoste aansienlik verhoog. As hael nie ’n probleem is nie, is die vestigingkoste baie minder. (Nette hoef eers in die jaar voor produksie opgesit te word, wat ’n groot besparing kan wees.)
Die plante kom natuurlik in woude voor en windskerms is noodsaaklik omdat hulle gevoelig vir wind is. Haelnette is tweedoelig, want dit verleen beskerming teen die wind en voorkom haelskade. Wind kan merke op die vrugte veroorsaak. Omdat geel kiwi’s betreklik delikaat en dunner skille het vergeleke met groen kiwi’s is, kan wind oormatige windskuring veroorsaak.
BOERDERYPRAKTYKE
As twee jaar oue plante (soos in gevestigde boerderybedrywe wêreldwyd) geplant word, sal die eerste klein oes binne twee jaar gereed wees, met die derde oes wat sowat 5 t/ha tot 15 t/ha beloop. Die vierde jaar se oes is die een waarmee die boer gelyk behoort te speel.
Kiwivrugte is ’n tweeslagtige gewas wat vereis dat manlike plante in ’n verhouding van 1:4 tot 1:8 tussen vroulike plante geplant word. Plante word om en by 4 m x 2,5 m uitmekaar geplant, met sowat 1 000 vroulike en 250 manlike plante per hektaar.
Kiwiplante is bladwisselend – in die winter is hulle dormant en hul blare val af. Hulle kan temperature van tot -15 °C weerstaan en vereis winterkoue vir optimale produksie.
Waar dit nie koud genoeg word in die winter nie, toon proefnemings in Mbombela met “hidro-afkoeling” uitstekende belofte. Daar bestaan dus ’n moontlikheid dat besproeiing gehibridiseer kan word om water, rypbeskerming en afkoeling tydens somerhitte, asook verhoogde winterkoue te kan verskaf.
In die somer hou kiwiplante nie van temperature bo 35 °C nie en dus kan oorhoofse besproeiing temperature aansienlik verlaag. Kortliks kom dit daarop neer dat ’n groot deel van Suid-Afrika ideaal vir die verbouing van geel kiwivrugte is. In die kouer gebiede kan laat ryp ’n probleem wees omdat bloeiselvorming in die lente plaasvind en swaar ryp die delikate bloeisels kan beskadig.
Dit is ’n wêreldwye probleem en daar is verskeie maniere om ryp teen te werk, waarvan besproeiing die belangrikste is.
In Nieu-Seeland is die oes so kosbaar dat helikopters in die lente op bystand geplaas word om vroegoggend bo die boorde te vlieg om lug te sirkuleer en só rypskade te voorkom.
Arbeid is gemiddeld sowat 1,5 arbeidseenhede/ha/jaar (Nieu-Seelandse standaarde), maar daar is verskeie intensiewe tydperke, soos tydens enting in die winter en die oplei van plante en pluk van vrugte in die lente. Afgesien daarvan is daar maande van die jaar wanneer geen of baie min werk vereis word.
Kiwi’s is een van die maklikste vrugte om organies te verbou omdat hulle feitlik geen bespuiting benodig nie. Die enigste noodsaaklike bespuiting is rusbreekmiddels as die winter nie koud genoeg was nie.
Die watervereistes van geel kiwivrugte is nogal hoog vir ’n vrugtegewas (na raming dubbel soveel as dié vir sitrus) en daar is kritieke tyd wanneer water benodig word, naamlik in die lente tydens botselvorming en in die weke voor oestyd wanneer seker gemaak moet word daar is geen waterstres wat die oes kan beïnvloed nie. Die grootste deel van Suid-Afrika is in die somerreëngebied.
Op Richmond word selde in die somer besproei. In die winter is die plante dormant en saam met die minimale verdamping in die koue maande word baie min water benodig.
Kiwivrugplante hou van ryk grond met baie organiese materiaal, hoewel dit in sommige dele van Europa wil voorkom asof die plante byna hidroponies in swak grond kan groei. Hulle het ’n wye, vlak wortelstelsel en kan nie swak gedreineerde grond verdra nie. Dié probleem word egter opgelos deur die plante op banke te plant, indien nodig.
Die enigste insek wat tans ’n probleem in Suid-Afrika is, is die vrugtevlieg wat maklik met lokvalle in’ n geïntegreerde plaagbestryding stelsel bestry kan word. Geen volledige bespuiting behoort nodig te wees nie.
Wêreldwyd is die gewildste onderstam ’n groen kultivar bekend as Bruno. Die geel kultivar van jou keuse, word daarop geënt. Op Roselands Farm is Bruno in die vorige planttyd op 3 ha aangeplant. Hulle het Y356 daarop geënt. Kiwivrugte is van die maklikste plante om te ent en as jy standaardtegnieke gebruik, is amper 100% sukses nie ongewoon nie.