Blink toekoms vir Bonsmaras
Die Bonsmara is ’n doeltreffende beesras wat maklik hanteer en nie aanhoudend aandag nodig het nie. ’n Boer van Senekal sê egter as ’n mens wel ook baie lief is vir die ras, sal jy suksesvol kan boer.
Bonsmaras is vrugbaar en goed aangepas by die plaaslike omgewing. Die beeste raak ook vinnig markgereed op weiding en ’n goeie lek, sê mnr. Neels de Villiers wat met Bonsmaras tussen Senekal en Ventersburg in die Vrystaat boer.
“Die koeie is baie doeltreffend en speen elke jaar gesonde, swaar kalwers .’ n Dragtig hei d sper sen- ta sie van 97 is behaal nadat onlangse dragtig hei ds ondersoeke op alle koeie gedoen is, waaronder eerstekalfkoeie.”
De Villiers was voorheen ’n raadgewende veekundige by die Vleisraad in Pretoria, maar toe sy skoonpa in 1989 hulp op die plaas nodig kry, het hy en sy gesin Hayfield toe getrek. Dit was ’n goeie wegspring om die stoetery saam met sy skoonpa te kon begin, sê De Villiers.
“My skoonpa was ’n uitstekende veeboer. Hy het altyd vir my en my swaer gesê as ’n koei nie elke jaar ’n lewende kalf gee nie, moet sy haarself gee. Ons het ’n Bonsmara-stoetery met goeie basisdiere begin waarop ek verder kon bou. Met verloop van jare het ons die stoetery uitgebrei tot ’n volstoet wat vandag topbulle aan kommersiële en stoetboere verkoop.”
KUDDEGROOTTE
Op die plaas is die drakrag sowat 5 ha tot 6 ha per grootvee-eenheid en die weiveld is soet.
“Weens die droogte moes ons vroulike diere minder maak, maar ons weiveld kon vervolgens goed herstel nadat die reënval die afgelope twee jaar na normaal teruggekeer het.
“Vanweë die kleiner koeikudde het ons begin om verse op 15 maande te dek sodat hulle op tweejarige ouderdom kan kalf. Die eerste jaar was ’n uitdaging omdat ons uit ’n droogtetydperk van vyfjaar gekom het. Die dragtig hei ds persentasie van dié verse was 91.”
ONDERHOUD
Die ras is baie gewild onder voerkrale en laasgenoemde is selfs bereid om ’n premie vir Bonsmara-kalwers te betaal.
“In die fase D-toetse wat ons doen, kan van die kalwers met tot 2,3 kg per dag groei. Ons wil nie te veel druk op hulle plaas nie en probeer groei van 1,5 kg per dag te handhaaf. Die bulle word op driejarige ouderdom verkoop. As jy aan die begin te veel druk op hulle plaas, raak hulle te groot en oorvet.
“Ons selekteer vir groei sonder om melkeienskappe in te boet. Ons bulle is gewild by boere wat vir swaar speenkalwers teel.”
Omdat die Bonsmara so goed aangepas is, verg die bees nie baie onderhoud nie. Die beeste kry ’n fosfaatlek in die somer, ’n oorgangslek voor en ná die winter, en ’n onderhoudslek tydens winter saam met die soetveldweiding van Hayfield wat ’n hoë voedingswaarde het.
“Die beeste raak met min produksiemiddele vinnig markgereed en lewer goeie karkasse.”
PLAE
De Villiers doseer sy kalwers hoofsaaklik in Januarie en Februarie teen lint- en rondewurms.
“Ons spuit ook die verse met stam 19 in teen brucellose (BM). In Mei spuit ons die kudde in met ’n inspuitbare doseermiddel wat vitamien A, D en E bevat. Dít help teen bosluise en inwendige parasiete. Ons spuit ook die verse twee keer in met RB 51 omdat BM ’n groot probleem raak.”
In die somer gebruik hulle opgietdoseermiddels.
“Ons sal daarna kolbehandeling toepas as ons sien daar is baie bosluise. Ons sal veral die bulle in die dektyd met bosluisghries behandel, maar nie met ’n opgietbare middel nie omdat dit hul vrugbaarheid kan benadeel.”
Gelukkig het die ras ook ’n gladde vel. Bosluise is dus nie lief daarvoor om op hulle te sit nie.
TOEKOMSBLIK
Die Bonsmara is uitstekend vir kruisteling omdat dit deur prof. Jan Bonsma, die vader van die Bonsmara-ras, ontwikkel is uit ⅝ Afrikaner vir gehardheid, ⅜ uit Hereford vir vleisgehalte en Melkkorthoring vir melk. Dit kan op alle tipe beeste gebruik word en die basterkrag wat die Bonsmara bied, is baie goed.
De Villiers sê die Bonsmara se toekoms is rooskleurig. “Sowat 60% van alle boere in Suid-Afrika kan nie verkeerd wees nie.”