SÓ SÊ ’N SUIKERBOONBOER
Jan Scheepers van die Liberhof-landgoed boer tussen Fouriesburg en Bethlehem, een van die min gebiede in Suid-Afrika waar gespikkelde suikerbone verbou kan word. Hy vertel meer oor dié gewas.
Waarmee boer julle alles?
Vanweë die tipografie van die OosVrystaat, met sy berge én vlaktes, bedryf ons ’n gemengde boerdery met ’n veevertakking en ons plant mielies, suikerbone en koring.
Waarom aard suikerbone net in die Oos-Vrystaat en Mpumalanga?
Dis ’n gewas wat van koel weer hou, veral in die hoogsomer. Die plante hou nie van warm temperature in Januarie en Februarie nie, want dan gooi die plante hul blommetjies af en dra nie baie goed nie. Ons het matiger somers, met dagtemperature van sowat 25 °C tot 28 °C.
Hoe besluit jy watter suikerboonkultivars jy gaan plant?
Ons kry kultivars van Dry Bean Seeds en Pannar. Ons doen ook proewe en woon boeredae by om agter te kom watter kultivars die beste in ons omgewing gaan vaar. Suikerbone is ’n spesialisgewas en sekere kultivars vaar goed in ons omgewing, maar die boere in Mpumalanga hou dan weer nie van daardie kultivars nie. Selfs in die Oos-Vrystaat is daar verskille. Jy moet dus seker maak jy plant wat in jou omgewing aard.
Hoe werk suikerbone se produksiesiklus?
Dis ’n gewas wat nogal vinnig groei. Ons plant in November en Desember en stroop dan einde Maart en April. Dit is ’n plant wat bederf wil word, want die plante is vatbaar vir swamsiektes en roes en jy moet ook oppas vir bolwurms. Ons bespuit die bone dus ’n paar keer per seisoen met ’n vliegtuig. Suikerbone se produksiekoste is beslis hoër as byvoorbeeld mielies s’n. Die chemiese bekamping is duur en die saad kos ook meer.
Wat is ’n goeie opbrengs vir suikerbone?
Suid-Afrika se gemiddelde opbrengs is 1,4 ton/ha, maar ons het vanjaar meer as 2 ton/ha gestroop. Dit was ’n goeie jaar waarin dit goed gereën het.
Waar bemark jy die bone?
Ons verbou die gespikkelde suikerbone (’n sopboontjie) en verkoop dit hoofsaaklik aan verwerkers in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Die Zoeloes, Xhosas en Indiërs is lief vir suikerbone en gebruik dit in baie van hul disse, soos kerries. Daar is ook ’n kleiner mark vir die heel beste graad bone, wat op gesondheidsbewuste verbruikers gemik is. In Mpumalanga verbou boere die wit boontjie, wat aan die inmaakmark gelewer word.
Verg bone baie arbeid of kan jy meganiseer?
Ja, dit is meer arbeidsintensief, want die bone moet met die hand uitgetrek en in windrye gegooi word. Jy kan dit nie reguit silo toe vat nie, want dit breek maklik middeldeur. Ons stroop al meganies, maar die bone moet in die skure in sakke uitgetap en geweeg word. Ons verkoop dit in sakke van 50 kg of 1 ton.