Nick Serfontein skryf aan Cyril Ramaphosa: ‘Ons boere is jou oplossing!’
Daar moet nuwe lewe geblaas word in die landbou . . . Dit kan die vonk aansteek vir nasiebou wat ons so dringend nodig het.
In ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa speel die leierboer mnr. Nick Serfontein oop kaarte — vergeet van die Gucci-brigade, sê hy, en volg ’n beproefde sewepuntplan wat werk en Suid-Afrika se kommersiële landboubedryf kan help met broodnodige hervorming.
Geagte mnr. Ramaphosa.
U sal my waarskynlik nie onthou nie omdat u so baie mense ontmoet. Ons het mekaar in 1996 ontmoet op ’n private vlug van Kaapstad na die destydse Mafikeng waar u die gasspreker was op Madiba se 78ste verjaarsdag. Dit was ’n baie aangename vlug en u wysheid en visie het ’n blywende indruk op my gemaak.
Nou is dit 22 jaar later. U is nou die President van hierdie pragtige land. Ek boer in die Noord-Vrystaat op 6 000 ha grond, wat ek met baie bloed, sweet en trane bymekaargemaak en opgebou het. My besigheid onder die naam Sernick het 550 mense in diens en behels ’n geïntegreerde waardeketting wat ’n Bonsmarastoetery, ’n veevoerfabriek, ’n voerkraal, ’n abattoir, ’n ontbeningsaanleg en kleinhandelafsetpunte insluit.
Die motivering vir hierdie skrywe is nie omdat ek onteiening van my grond vrees nie, maar eerder dat ek eerstehands die hel ondervind het waardeur swart opkomende boere in Suid-Afrika gaan.
Vir 24 jaar is hierdie mense, wat meestal ware, eerlike en ernstige bedoelings, drome en aspirasies het om te boer, deur die Regering versaak. Dit is hoofsaaklik weens beleid, korrupsie, ’n gebrek aan leierskap, kapasiteit en kundigheid en, ja, politieke wil.
Hoe anders kan ’n mens die jammerlike begroting en toekenning van geld vir transformasie in die landbousektor beskryf wat veronderstel is om grond vir swart boere aan te koop? Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die probleem nie lê by die tekort aan geld en grond nie, maar eerder by die gebrek aan wil en leierskap deur die Regering, asook by belanghebbendes in die private sektor.
In 2015 het ek besluit dat ek nie langer vir die Regering kan wag om iets te doen aan die huidige situasie nie en begin om ’n program toe te pas om opkomende boere te ondersteun. Met ons eerste boeredag in 2015 het hier 250 opkomende boere opgedaag. Die honger in dié mense se oë na inligting en die opgewondenheid op hul gesigte het my geïnspireer om voluit voort te gaan met die program.
Sedertdien is nóg 3 mega-boeredae en 64 mini-boeredae in verskillende streke van die Vrystaat gehou om hierdie mense bloot te stel aan inligting oor die vleisbeesbedryf, terwyl 75 opkomende boere formele opleiding (NQF3) ontvang het.
Ek kan voortgaan met nog inligting oor wat ons alles gedoen het om opkomende beesprodusente in te sluit en te bemagtig, maar dit is nie die punt nie. Die punt is dat een kommersiële boer uitgereik het na dié mense en ondervind het watter reuseverskil dit aan hul lewens gemaak het – in so ’n mate dat dit ons verder aangevuur het om berge te versit ten opsigte van opleiding en mentor- skap. Ons kan vandag bevestig dat ons reeds verskeie swart kommersiële boere het op wie ons geweldig trots is. Buitelandse besoekers dring selfs aan om dié boere te besoek.
In 2016 het ons R25 miljoen by die Land Bank geleen en aan opkomende boere voorgeskiet om speenkalwers te koop en op kontrak in ons voerkraal te voer. Die geld is nege maande later terugbetaal en die proses is verlede jaar herhaal met ’n bedrag van R50 miljoen.
Ons het pas ’n transaksie beklink met Jobs Fund, die Regering se fonds vir werkskepping, waarvolgens ons ’n toekenning van R150 miljoen kry. Dit gaan saam met ’n R100 miljoen-lening van die Land Bank en eie finansiering aangewend word om 660 opkomende boere in die volgende drie jaar op te lei.
Uit dié groep van 660 opkomende boere is die doelwit om 50 van hulle ten volle te ontwikkel tot kommersiële status en om hulle ten volle toegang te gee tot ons waardeketting. Hulle sal ook aandele kan bekom in Sernick se groothandelafdeling.
Sernick sal produkte aan hulle lewer en hul speenkalwers koop, of hul speenkalwers volgens ’n kontrakvoerstelsel voer. Hulle sal nie ’n “Agripark” benodig nie; Sernick sal hul “Agripark” wees.
Ongelukkig gaan die gebrek aan toepaslike hulp van regeringskant af, asook die gebrek aan beleid onverpoos voort sonder ’n afname in korrupsie, nepotisme en misdadige agendas. Ek het persoonlike ondervinding van mense met politieke verbintenisse wat absoluut niks weet van die landbou nie, maar wat groot stukke grond gekry het en wat elke week by my opdaag in hulle weeldemotors,
Gucci-skoene en ontwerpersklere.
Dié mense, tesame met die korrupte amptenare, is die ware aasvoëls van ons natuurlike en finansiële hulpbronne. En maak geen fout nie, daar is ander (lees wit) Suid-Afrikaners wat ook op die wa van korrupte aktiwiteite en gierigheid klim. Ons weier om met hulle sake te doen.
Meneer die President, kommersiële boere – inteendeel, boere in alle kategorieë – word daagliks gekonfronteer deur talle bedreigings en struikelblokke. Aspekte, soos klimaatsverandering, internasionale markte, infrastruktuur wat ineenstort, munisipale dienste wat nie bestaan nie, en ’n totale gebrek aan steun van Regeringskant, is enkele voorbeelde van sake wat dringend aandag moet kry.
Dit is nie die doel van dié skrywe om uit te wei en te kla oor die onteieningskwessie wat tans voor die parlementêre komitee dien nie. Tog kan ek nie anders as om te waarsku dat dit nie net die ontwikkeling van die kommersiële landbousektor kan ontspoor nie; dit gaan ongetwyfeld ook die ontwikkeling van die opkomende sektor vertraag.
Artikel 25 van die Grondwet kan verander word of nie, en grond kan onteien word of nie. Die waarheid is dat die opkomende sektor slegs ’n kans het op sukses deur middel van opleiding, mentorskap en morele steun van kommersiële boere, bedryfsorganisasies en landboubesighede.
Ek sê dit terwyl daar meer as 200 000 ha net in die Vrystaat is wat toegeken is aan sogenoemde opkomende boere by wie daar absoluut geen produksie is nie. So min as wat ek glo die huidige situasie ten opsigte van grondeienaarskap is volhoubaar en moet verander, so min glo ek dat onteiening sonder vergoeding volhoubaar is. Dit behoort nie en moenie plaasvind nie.
Die besluit om artikel 25 van die Grondwet se wysiging te ondersoek, tesame met die pas voltooide verhore daaroor, het kommersiële voedselprodusente kwaai ontmoedig.
Wat baie van ons kommersiële boere doen om opkomende boere op eie koste en sonder erkenning te steun en te ontwikkel, is ’n jammerlike klag teen die politieke klimaat in Suid-Afrika. Die vlak van radikalisme en rassisme het ’n gevaarlike spiraal geword na ’n plek waar ons nie behoort te wees nie.
Ek het dié projek van stapel gestuur omdat ek omgee vir Suid-Afrika en sy mense. Dit is dalk nie algemeen bekend onder ons land se huidige leiers, politieke organisasies, Regering en algemene publiek nie, maar daar is baie wit kommersiële boere en landbou-organisasies wat werklik omgee, wil help en betrokke raak.
Wat werklik saak maak, is die toekoms van ons land en sy mense. Daar is geen plek vir ego’s, kleinlikhede, minderwaardigheidskomplekse en vooroordele nie. Daar kan nie mededinging wees om erkenning en roem nie.
Suksesvolle lande is gebou op die Bybelse sweet op die aangesig van hul mense, lojaliteit, doelgerigtheid, toewyding, opoffering, hoop, eerlikheid en etiese standaarde.
Suid-Afrika se landbousektor is dinamies. Ons land se boere kán boer en produkte lewer. Wêreldwyd lê ons 25ste wat vleisbeesgetalle betref, maar ons lê 12de op die vleisbeesproduksieranglys. Dit is ten spyte daarvan dat 40% van ons vleisbeeskudde in die sogenoemde kommunale gebiede is waar die produksie laag is. Dink net wat kan gebeur indien die hele landbousektor suksesvol getransformeer kan word deur die ontwikkeling en die insluiting van opkomende boere, hand aan hand met suksesvolle kommersiële boere?
Die opgradering van ons opkomende boerderysektor is moontlik op die volgende grondslag (waarvoor geen duur werksessies, konferensies en talk shops nodig is nie): Kies boere op grond van hul vermoë en bekwaamheid. Bly weg van die “Guccimense” en politieke begunstigdes. Gee titelaktes, selfs op voorwaardes, aan hierdie mense om sodoende toegang tot finansiering te kry. Vergeet die huidige konsep van Agriparke. Dit is net nóg ’n skuiwergat vir korrupsie. Gebruik eerder daardie geld om opkomende boere se grond te herkapitaliseer. Heroorweeg die rol en funksie van distriksgrondkomitees. Hulle is duur en ondoeltreffend. Ontwikkel ’n professionele landbou-ontwikkelingsagentskap om alle aspekte ten opsigte van die ontwikkeling van opkomende boere te koördineer, soos die toekenning van grond, beplanning, die ontwikkeling van boere, mentorskap, toegang tot markte, finansiering en die ontwikkeling van samewerkingsmodelle. Hou regeringsdepartemente weg van dié aspekte. Die departemente se funksie is die ontwikkeling van infrastruktuur, dienste, beleid, wetgewing en om ’n klimaat te skep waarbinne die landbou kan funksioneer. Betrek die kommersiële boere. Hulle voel vervreem. Hulle is gewillig om te help en in staat om ’n reuseverskil te maak. Hou politiekery weg van die ontwikkeling van plase en opkomende boere. Meneer die President, indien u bereid is om te luister en te lei volgens die bogenoemde riglyne, belowe ek u ’n suksesvolle landbousektor waarbinne werk geskep kan word, armoede verlig sal word en voedselsekerheid verseker sal wees. Dit klink eenvoudig, want dit is nie ingewikkeld nie – dit is regtig uitvoerbaar.
U het tydens u staatsrede gesê: “Stuur my.” Ek wil vandag vir u sê: “Stuur ons.” Daar moet nuwe lewe geblaas word in die landbou in hierdie pragtige land. Afgesien van al die moontlikhede wat hierbo genoem is, kan dit die vonk aansteek vir nasiebou wat ons so dringend nodig het.
Nick Serfontein is direkteur van die bekende Sernick-groep buite Edenville in die Vrystaat, ’n toonaangewende teler en ondervoorsitter van Bonsmara SA.