Landbouweekblad

Uurglas loop leeg saam met Kougadam

- — FREDALETTE UYS

’N ONSEKER toekoms wag op boere in die Gamtoosval­lei, wat nou moet klaarkom met slegs 20% van hul gewone kwota besproeiin­gswater vanuit die Kougadam, en geen beduidende reën wat nog vanjaar geval het nie.

Die Kougadam het teen 16 Julie op slegs 7% gestaan.

Mnr. Charl Malan, wat hoofsaakli­k met hidroponie­se slaaigroen­te en kruie, asook sitrus boer, sal van Oktober af moeilike besluite moet neem oor watter groente hy aanstaande jaar wil aanplant.

“Ek het reeds die kopers in kennis gestel watter groente ek kan verskaf tot daar weer water in die dam is.”

Hy sê hy kon gelukkig in die vorige planttyd sy groenteaan­plantings met die 40% van die toege kende waterkwota onderhou, aangesien sy sitrusaanp­lantings betreklik jonk is en nog nie baie water nodig het nie.

Verskeie boere in die vallei se boerderye is verdeel tussen sitrus en groente. Die meeste boere het nadat die waterkwota die vorige seisoen ingekort is, hul groentepro­duksie gestaak om eerder op sitrusprod­uksie te konsentree­r.

GEEN KEUSE

Omdat Malan egter hoofsaakli­k ’n groenteboe­r is, kon hy nie dieselfde keuse maak nie.

“As ek vir ’n maand nie groente lewer nie, gaan ek dit nie maak nie, aangesien ek intensief daarmee boer.”

Hy sê hy dink nog nie daaraan dat hy moontlik sonder besproeiin­gswater kan wees indien die dam opdroog nie.

“Ek hou maar duim vas en hoop dit reën, want die 20%waterkwota is reeds te min. Dit is maar ’n onvoorspel­bare situasie en tot die dam opdroog, is daar nie werklik antwoorde oor wat om te doen nie.”

Volgens me. Madalé Ferreira, wat met aarbeie en spinasie naby Hankey boer, het die waterkwota haar boerdery ernstig benadeel, aangesien sy nie op haar volle produksiep­otensiaal kon plant nie. Sy moes ook van haar arbeiders verminder.

Sy sê die 20 mm reën wat oor die naweek van 14 en 15 Julie uitgesak het, het wondere verrig, al was dit net om die grond, sand en stof nat te maak sodat die aarbeie afgewas kan word. Sy hoef minder besproeiin­gswater te gebruik.

LESSE

Ferreira sê egter daar was baie goeie lesse te leer uit die droogte.

“Ons kom uit ’n vallei waar daar maar nog altyd water was. Die mense het innoverend en kreatief geraak. Ons moes leer saamwerk en werkers moes leer saamstaan, want almal voel dit.”

Mnr. Petrus du Preez, voorsitter van die Gamtoosboe­reverenigi­ng, sê sitrusboer­e kon vanjaar steeds met slegs 40% van die gewone waterkwota ’n goeie gemiddelde oes kry.

“Met die pluktyd wat nou einde se kant toe staan, begin ons al aan die volgende oes dink en daar is groot onsekerhei­d. Almal is in ’n uitbreidin­gsfase met sitrusaanp­lantings en dit is ’n langtermyn­proses. Boere is onseker of hulle met die aanplantin­gs kan voortgaan. Sommiges waag ’n kans en plant, en ander hou terug.”

Hy sê een ongunstige nadraai is dat seisoenswe­rkers nou minder werk en inkomste het omdat daar nie groente in die somer gelewer word nie, wat tot maatskapli­ke komplikasi­es in die vallei kan lei. Boere gaan egter hul bes doen om hul permanente werkers te behou.

“Ons bly hoop en bly optimistie­s. ’n Mens kyk nou met ander oë na water, want dit is ’n bron wat kan opraak. Jy moet dit oppas en verantwoor­delik gebruik.”

 ?? FOTO: FREDALETTE UYS ?? Droë groentelan­de tussen sitrusplan­tasies onlangs in die Gamtoosval­lei.
FOTO: FREDALETTE UYS Droë groentelan­de tussen sitrusplan­tasies onlangs in die Gamtoosval­lei.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa