Die valkoog
Na raming het die ikoniese breëkoparend se getalle die afgelope 20 jaar met sowat 60% gedaal. Die Karoo se ooptes bied ’n goeie tuiste vir dié arende, maar dit is nie sonder probleme nie.
Breëkoparende (Polemaetus bellicosus) vlieg buite hul broeityd oor baie groot gebiede op soek na kos en onvolwasse voëls swerf selfs verder. Dié reise neem hulle ver buite die grense van bewaarde gebiede, waar hulle meer blootgestel is aan talle gevare. Huidige navorsing lê dus klem op die bewaring van hierdie voëlsoort binne én buite bewaarde gebiede (soos die Krugerwildtuin), veral ten opsigte van hul benutting van grondgebiede en broeisukses.
Die status van die breëkoparend word weens die drastiese afname in sy getalle nou as bedreig beskou.
NAVORSING IN DIE KAROO
Veral die Karoo is belangrik vir die toekomstige bewaring van dié arendsoort en heelwat navorsing word gedoen oor die status en verspreiding van breëkoparende in die Karoo. Na raming kan daar van 150 tot 200 broeipare in hierdie gebied wees. Vervolging en habitatsverlies is van die groot bedreigings wat die arende in die gesig staar.
Ongelukkig glo mense steeds dat arende en aasvoëls verantwoordelik is vir verliese onder kleinvee, ondanks ’n gebrek aan werklike bewyse en baie inligting om die teendeel te wys.
In ’n studie oor vrektes by lammers is byvoorbeeld gevind dat minder as 1% van hierdie vrektes aan arende toegeskryf kan word. Daar is egter ’n klein persentasie voëls wat wél jong skape of bokke sal vang. Dus word roofvoëls steeds geskiet, vergiftig of in valle en strikke gevang wat vir ander probleemdiere uitgesit word.
Deurlopende opvoedkundige projekte om boere oor hierdie probleem in te lig, word aangebied. Borde word selfs op plaashekke aangebring om aan te toon dat daar breëkoparende op die plaas broei.
Breëkoparende verkies baie groot bome om in te broei en van daar af te jag. Die kragmaste wat die relatief boomlose Karoo deurkruis, bied aan die arende geskikte broeiplek.
Hierdie meevaller het egter ook sy nadele omdat die voëls doodgeskok kan word. Op die kleiner maste en elektriese drade kan die arende met hul reusevlerkspan maklik aan albei die lewende drade en metaalstrukture raak, met noodlottige gevolge.
Self smet die hoogspanning s dra deen hul gepaardgaande groot maste is daar ’n pro- bleem omdat die voëls op die maste sit en dan met hul stroom ontlasting die drade tref – met dieselfde gevolge. Die kortsluitings en onderbreking van kragtoevoer wat daardeur veroorsaak word, beloop elke jaar etlike miljoene rande.
Studies word uit die lug en per voertuig onderneem om die ligging van hierdie arende se neste te probeer bepaal. Daarmee word die grootte van die broeigebiede bepaal en probeer om bestuur s beginsels vir die bewaring van die voëls te ontwikkel.
Nog ’n probleem wat nie so maklik meetbaar is nie, hou verband met veldbestuur. Swak veldbestuur (soos oorbeweiding) benadeel die gehalte van ekostelsels, wat kan veroorsaak dat die arende ’n gebied verlaat.
Arende is wél die boer se vriend, soos ’n studie toon wat op witkruisarende (Aquila verreauxii) in die Karoo uitgevoer is. Die witkruisarende vang meestal dassies, wat veiligheidshalwe verkies om in klipperige koppies te bly. Dit beperk moontlike mededinging tussen die dassies en kleinvee om weiding.
VOLWASSE VEREDOS
Die breëkoparend het ’n donkerbruin kop, rug, vlerke en bors, met tipiese liggeel oë. Die res van die onderlyf is wit, met kenmerkende donkerbruin kolle. Die wyfie is groter as die mannetjie, met meer kolle op die onderlyf. In vlug vertoon die ondervlerk donkerbruin.
Die jong voëls is hoofsaaklik wit, met ’n grys rugkant en in vlug vertoon hulle gewoonlik heeltemal wit. Dit duur meer as vyf jaar vir die jong voëls om volwasse kleure te ontwikkel. Hoe ouer hulle word, hoe meer vertoon hulle die donkerbruin veredos.
Boere kan ’n belangrike bydrae lewer tot die navorsing oor die voëls deur die ligging van neste op hul plase en vrektes weens botsings met kragdrade by martialeaglesigh tings@gmail.com aan te meld. In die Krugerwildtuin is verskeie geringde breëkoparende. Meld dit gerus aan as jy enige van hierdie voëls opmerk. Stuur verkieslik ’n foto, tesame met die datum en ligging aan die bogenoemde e-posadres.
Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg. Hy woon op Hermanus.