Landbouweekblad

Jou storie: My vuurdoop op Danny se rug

Pa was ’n kort, gesette man wat moeilik geloop het, maar hy het altyd gesorg dat daar ’n ryperd op sy werf was. Ons kinders het geweet: As hy veld toe gaan, moes die ryperd nader gebring word.

- Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Talle boeke en kontreisto­ries uit sy pen het al die lig gesien. Stuur e-pos aan sarrisam@telkomsa.net of skakel 027 581 1021 om ’n boek te bestel.

Op ons familiepla­as, Sarrisam, was stalle waarin die trekdiere en ryperd versorg is, maar op ons winterplaa­s, Klipheuwel, was geen geriewe nie. Daar was geen lyndrade nie en die ryperd is gespan en met die halterriem geknieband. Pa het haar gereeld bederf met ’n pitvoertji­e en almal moes haar bedags dophou sodat sy nie te ver van die werf wei nie.

Dit was wintervaka­nsie en elke oggend is ons kinders vroeg uit die warm kooi geboender. In die kookskerm is ’n groot staanvuur gemaak en ons het almal om die vuur gestaan om ons warm te maak. Die groot sterre het nog in die hemelruim geflikker, terwyl die rooibeenki­ewiete met hul skril bekkies hardekwas hul nes op die werf beskerm. Broer Sarel was op ’n rugbytoer en ek en Jacob was die koeimelker­s. Die ander kinders is saam met Ma bokkraal toe. Terwyl ons met die klinkende emmers kraal toe aangestryk het, het die harde kors van die ryp onder ons voete gekraak.

Pa was ’n baas op sy werf en het rustig op sy veldstoel by die vuur gaan sit, want sy boerdery was op volle stoom. Hy het met halftoe oë met sy groot hande bak teen die hitte gesit met die leë enemmelkof­fiebeker wat nog aan sy regtervoor­vinger gehang het. Ma het hom soos ’n kind versorg en bederf.

In die kookhuis het die groot driebeenpo­t reeds op die vuur gestaan en Ma het stadig die bokbies ingeroer. Toe die son oor Melkboskli­pheuwel loer, het ons elkeen met ’n fris sny brood in die hand gestaan. Ons tandjies het spoor gemaak in die dik laag vars beesbotter wat Ma vir ons opgesmeer het. In die ander hand was ’n beker warm bokbies wat aan elkeen van ons ’n wit snor besorg het.

Pa het sy hoed opgesit en na my gekyk. “Sluk-sluk, my kjint, ik wil hê jy moet gou vir Danny gaan haal.” Toe ek my beker omkeer, het hy opgestaan en in die verte getuur. “Ik sien sy wei onderkant die Toring . . . Gaan maak haar los lat ik haar kan opsaal.” My beentjies was sopnat van die môredou toe ek Danny se span losmaak. Selfs my kortbroeki­e was onder nat soos die bosse my gepiets het. Terwyl ek met die stywe halterriem huis toe draf, het ek gewonder waarheen Pa wou ry, want ons het nooit geweet wat in sy grys borselkop aangaan nie.

VREES EN BEWERASIE

Voor die kliphuisie het hy reeds met die saal en toom gewag. Stadig het hy die opgesaalde perd ’n entjie van die huis weggelei. Skielik het hy vasgesteek en na my gedraai. “My kjint, ik wil hê jy moet vemôre Sarrisam toe ry en vir Mollie en haar vul gaan haal.” Ek het koud geword en my dun beentjies met die groot kniekoppe soos ’n volstruisk­uiken het begin bewe, want ek was nog nooit op ’n perd se rug nie. Danny was ’n mak perd, maar toe Pa die toom in haar bek sit, het ek geskrik toe ek haar lang, geel tande sien. Daardie krom tande kon mos my ou maer perdebylyf­ie met een hap middeldeur byt, het ek bang gedink.

Pa het met die sambok in sy hand begin beduie. “Jy ry tot by die ou gronddam by die hoë rand . . . kyk na vars spore en dan bring jy hulle.” Ek het gehipnotis­eerd daar gestaan en gewonder: Hoe kom ek op Danny? Ek was nege of tien jaar oud en Pa het my soos ’n pop opgetel en in die saal gesit en die teuels in my hand gestop. “Trap met jou voete in die stiegriem bokant die stiebeuel en hou net die teuels kort,” het hy kortaf gesê toe hy die sambok aangee. Ek het afgekyk na die grond daar onder en toe na Pa en verboueree­rd my koppie geknik. Die bang het my van agter bekruip toe dit my byval van die dag toe Pa al kermende by die huis aangekom het. ’n Beneukste perd het hom afgegooi en hy het sy sleutelbee­n gebreek. Beangs het ek van onder my hoed na die huis gekyk, maar Ma was nêrens te sien nie.

Pa het vir Danny met die plathand op sy boud geraps en Danny het koeikraal toe gestap. “Trek die perd pad toe!” het Pa kwaai geskrou. Ek het aan die teuels gerem en Danny het kromnek-kromnek pad toe gekom. Sy het rustig aangestap en toe skree Pa: “Man, slaan die bleddie perd!” Ek het gewaag vir Danny ’n raps gegee en skielik het sy begin draf. Ek het met my ou beentjies geknyp en verbete aan die saalboom vasgeklou, terwyl my tandjies van elke skud opmekaar geklap het. Aanmekaar het ek net gebid: “Heretjie, lat ek assemblief­tog nie afval nie . . . hoe sal ek weer opkom?” My ou stertbeent­jies was later so seer, dat dit gevoel het of ’n hamer my slaan soos die saal my van onder af kap. Ek het glad nie geweet dat ek op die stiegriem moet staan om die stampery draagliker te maak nie.

Gelukkig was daar geen hekke nie, maar met die stampery het my blaas ál voller geword. Toe my nood op sy hoogste was, het ek die teuels ingetrek en Danny se nek deurweek.

HANG SOOS ’N VLERMUIS

Die ou perd het rustig voortgesta­p en toe ek Sarrisam se huis sien, het ek sambok ingelê. Danny het skielik oorgeslaan op ’n stywe galop. Ek was in ekstase toe ek sien hoe Danny se hoewe die klei langs die pad gooi. Toe ek verby die soutkuil ry, het twee eendjies met ’n gefladder skielik voor my opgevlieg. Danny het geskrik en met ’n gesnork op haar agterpote gestaan. Ek is uit my droomwêrel­d

geskud en het soos ’n vlermuis langs die saal gehang, met ’n pluis maanhare in my hand vasgeklem. Met ’n groot gesukkel het ek weer paniekerig in die saal gekom, terwyl my hartjie onstuimig te kere gegaan het.

Ek het haar die hoë rand se boskaas, waarheen Pa my beduie het, ingestuur, maar net ou spore gekry.

Ek het geweet ek moet soek, want Pa was streng en sou nie verstaan as ek sonder die perde daar aankom nie. Ou Danny was natgesweet toe ek later op die gronddam se wal uitry. Skielik het haar kop regop geruk en met gespitste ore het sy ’n uitgerekte runnik gegee. In die verte het ek die twee perde in dolle vaart sien aankom. Kort-kort het Danny gerunnik en na hulle begin draf. My blydskap was van korte duur, want Molly se vul het intussen ’n jong hings geword.

VRYERSVUL

Danny was bokant die wind en die hingsie het die wonderliks­te boodskap ontvang wat ’n vryersklon­g se hart onstuimig laat klop. Hy het soos ’n gesoute vryer vir ouma Danny van agter bespring. Toe ek omkyk, was sy bolip opgetrek en sy bek opgesper. Sy lang voortande het vir my gegrynslag. Ek het verskrik vorentoe geskuif en my ruggie bak getrek uit vrees dat hy my kon hap. Die bruinkolhi­ngsie se omgedopte oë het nóg meer vrees ingeboesem. Ek het ’n desperate poging aangewend om hom met die agterkant van die sambok oor sy kop te slaan, maar ’n uitgevrete vryersperd laat hom nie so maklik afskrik nie.

Ek het desperaat vir Danny begin slaan. Traag het sy later met die dowwe paadjie begin draf en die ander twee perde agterna. Ek het gevoel hoe die saal my beentjies in die binnekant rou geskaaf het, maar dit verduur, terwyl ek kort-kort angstig oor my skouer geloer het. Ek het geweet ek moes aanstoot om voor donker by die huis te kom sodat die spoke my tog nie langs die pad vang nie.

Ek het hard met Danny gepraat en met my hakskene in haar ribbes gepomp. Danny het gehoorsaam begin draf en toe ek die sambok inlê, het sy oorgeslaan na ’n haastige galop. Vir die eerste keer het ek ’n bietjie lekkerte gesmaak toe die skilpadbos­se by my verbyvlieg en die koel windjie verby my ore suis.

GENOT VAN KORTE DUUR

My genot was van korte duur toe ek voel hoe die saal ál losser raak en na onder begin draai. Wanhopig het ek alles in die stryd gewerp om die saal weer in posisie te kry, maar niks wou werk nie. Dit was asof Danny se liefdesvuu­r aan haar nuwe energie verskaf het, want sy hol skoon weg van Molly af. Dis net die bruinkolhi­ngs wat kort op haar hakke gebly het. Met die afdraand na die rivier toe voel ek hier kom nou moeilikhei­d. Dis nog net my hand in Danny se dik maanhare wat my bo gehou het, want die saal het reeds skeef gedraai.

Ek het paniekerig vir Danny gefluit, maar dit was net ’n lang blaasgelui­d wat ek kon uitkry. Later het ek soos ’n vink langs die perd gehang en die teuels met al my mag getrek in ’n desperate poging om haar tot stilstand te dwing. Toe sy eindelik gaan staan, hoor ek hoe die ou perd se asem jaag. Verboueree­rd het ek my greep verslap en met ’n paar maanhare in my hand, het ek tot onder Danny se pens gegly. Ek het soos ’n vrot vel karplaks op die grond geval. Haastig het ek my broekgat afgeslaan en die saal weer reggeskuif. Ek het inderhaas gesukkel om die buikgord te verstel, want die kolhings was lastig en wou van hierdie gulde geleenthei­d gebruik maak.

Ek het die buikgord met al my krag gegryp en dit vaster getrek, terwyl Danny haar oorgee aan die saligheid. Ek het eers die wet van die natuur eerbiedig en ná ’n tydjie het ek vir Danny na ’n miershoop gelei. Die hingsie het tevrede gelyk en my ook kans gegee om weer in die saal te kom.

Die son was besig om water te trek toe ek voor die kliphuisie sukkel om die saal af te kry. Ek kon beswaarlik op my bene staan, want my voete was vol blase en my bene styf en rou geskawe van die dag se ry. Die wasem het vanaf Danny se natgeswete rug getrek toe ek kruppel-kruppel die saal, wit van die salpetersk­uim, teen die klipmuur neersit.

Toe Pa my gewaar, het hy uitgekom en verbaas uitgeroep: “Magtag, maar kyk hoe groot het die verdomde vul geword na ik hom laas gesien het. Hulle is mos glad verhaar. Lei vir ons die perd eers koud.” Ek het maar geswyg oor die stoute dinge van die vul.

Daardie aand, terwyl Pa al in die kamer was, het Ma teruggekom en in die lanternlig my bene met soutwater afgespons en afgedroog. Terwyl ek op my tande byt, het sy wit salf oor die rou skaafplekk­e gesmeer. Toe sy my liefdevol met die velkombers toegooi, het sy saggies gefluister: “My kind, dis môre Sondag. Jy hoef nie môreoggend so vroeg op te staan nie. Ek sal vir Jacob sê hulle moet die koeie gaan melk.”

Toe sy die kamerdeur agter haar toetrek, het ek die lantern doodgeblaa­s en gevoel hoe die traantjies oor my wange loop.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa