Kyk met nuwe oë na jou oes
Die koms van hommeltuigtegnologie in die landbou het presisieboerdery na die volgende rat laat oorskakel. Dié vlieënde oog het bestaande lugfotodienste ontwrig, alles tot voordeel van die landbou.
DroneAnalitix (DAX) is aan die voorpunt van hommeltuigtegnologie vir die SuidAfrikaanse landbou. Hul vindingryke aanbod van hommeltuie en ontledende sagteware het die potensiaal om die landbou se kans op volhoubare produksie vir ’n groter bevolking te verseker.
Maar hoe verander hommeltuie se sensortegnologie die speelveld vir boere? Met die antwoorde wat hommeltuig, kamera en sensortegnologie bied, kry die boer meer inligting om beter besluite betyds te neem en selfs om akkurater oesvooruitskattings te maak.
Multispektrale beeldsensors wat aan hommeltuie gemonteer is, verander ’n standaardlugfoto in ’n multivlakkige databom. DAX verskaf die beste toerusting op die mark, soos die MicaSense RedEdgeM™ multispektrumsensor en PrecisionHawksagteware van wêreldgehalte.
Voor die koms van hommeltuie is spesiale kameras en sensors op vliegtuie gemonteer. Die vliegtuig het dan oor die gekose landery, wingerd of boord gevlieg om data en beelde in te samel. Dié opsie was egter besonder duur en is hoogstens ’n paar keer per jaar uitgevoer as die boer dit kon bekostig.
Nie net is die hommeltuig en die multispektrale beeldsensors veel goedkoper as die vliegtuig nie, die proses is ook vinniger, makliker uitvoerbaar en die gehalte en kombinasie van inligting wat dit inwin, is ongeëwenaar.
Met tegnologie, soos infrarooisensors aan boord van die hommeltuig, kan dié slim oog infrarooilig “sien” wat die menslike oog nie kan nie. Hommeltuie met sulke sensors kan die ingesamelde data met behulp van rekenaartegnologie interpreteer. Die boer weet dus sonder raaiwerk of hy byvoorbeeld swamdoder moet toedien en ook waar die siekte moontlik wegkruip.
Tydige optrede beskerm die oes en presisietoediening spaar tyd en produksiekoste. In só ’n geval verg dit minder chemikalieë om net die siek kol te behandel en is die impak op die omgewing minder skadelik.
Duidelike fotobeelde word danksy rekenaartegnologie en slim programmering aanmekaar “geheg” sodat ’n groot geheelbeeld of kaart van die boord, wingerd of landery sigbaar is (orthomosaïek). Dié kaart kan verskillende weergawes weergee na gelang van wat die multispektrale sensor afgeneem het. Na gelang van die data wat ingesamel is, kan die gebruiker spesifieke algoritmes in die sagteware invoer. Die kaart kan byvoorbeeld afwykings in ’n landery met verskillende kleure aandui vir verdere ondersoek, ontleding en optrede.
Die volgende stap is om dié magdom inligting en beelde te gebruik om ’n beter oes te lewer – veral met die oog op toekomstige produksie. Met die hulp van ’n geïntegreerde boerderybestuurstelsel kan die data wat die hommeltuig ingesamel en die algoritme “vertaal” het, gebruik word om tot aksie oor te gaan.
’n Geskiedenis van gewasproduksie, produksiemiddele wat gebruik is, die voorkoms van siektes of voedingstoftekorte help die boer om toekomstige beplanning en besluitneming beter uit te voer en selfs spesialiswerktuie of spesifieke middels betyds aan te skaf.
SENSITIEWE SENSORS
Van die doeltreffendste indekse waarvolgens die sensors gewasgesondheid meet, is die sogenoemde NDVI (normalized difference vegetation index). Dit meet die vlak van groen in ’n landery wat sal aandui of ’n nadere ondersoek vir gewasgesondheid nodig is. Die NDVI is ook ’n aanduider van plante wat onder stres, plaag of swamdruk verkeer. ’n Ander maatstaf is om die stikstofinhoud in plante uit die lug te “sien”. Dit help om bemestingsprogramme aan te pas en plantgesondheid in kritieke stadiums te monitor.
Verder kan die verbruiker selfs die opkoms van aanplantings monitor en vroeg in die seisoen reeds die potensiële opbrengs vooruitskat. DAX, met behulp van die internasionale kennis van PrecisionHawk, help ook die klant om ’n opbrengs op belegging akkurater te bepaal.
VERSTAAN WAT JY SIEN
DAX verskaf PrecisionHawk se rekenaarsagtewarepakket vir die landboubedryf. Dit sluit in verskeie programpakkette en algoritmes wat doelgerigte opmetings en monitering kan toepas vir lesings oor stikstof, die vorming van die blaredak en of daar probleemkolle is wat siektedruk of insekplae kan aandui. Sekere programme kan ook die opkoms van onkruid monitor.
Mnr. Erald Smith, besturende direkteur van DroneAnalitix, sê: “Met hierdie nuwe tegnologie word verseker dat kliënte toegang het tot die beste moontlike ontledende platform vir elkeen se unieke vereistes in die landboubedryf.”
DAX integreer dié tegnologie by bestaande presisieboerderypraktyke om boere te help om verder te optimaliseer en beter wins te lewer. Gewasse, soos koring, kanola, lusern, aartappels, sonneblomme, blomkool, druiwe, sitrus en suikerriet, het reeds suksesvolle gevallestudies en voorbeelde van hoe beter besluitneming en bestuur op die plaas toegepas word.