HOF POOTJIE POLISIE SE INSAMEL-PLANNE
’N DRINGENDE aansoek deur die drukgroep Vuurwapeneienaars Suid-Afrika (Gosa) het die polisie se landwye insameling van vuurwapens waarvan die lisensies verval het, tydelik gekeer.
Regter Bill Prinsloo het in die Noord-Gautengse hooggeregshof op 27 Junie ’n tussentydse interdik toegestaan wat die polisie verbied om sulke vuurwapens te aanvaar, in te samel of aan te dring daarop dat die eienaars van sulke wapens dit aan die polisie oorhandig.
In ’n omsendbrief wat op 30 Julie uitgestuur is, beveel genl. Khehla Sithole, nasionale polisiekommissaris, aan dat provinsiale kommissarisse dadelik hul opdragte dat sulke vuurwapens ingesamel word, ophef.
Hy sê mense wat reeds hul vuurwapens aan die polisie oorhandig het, se vuurwapens moet aan hulle teruggegee word indien hulle dit verlang.
Die Grondwethof het op 7 Junie beslis dat vuurwapens waarvan die lisensies verval het, nou onwettig in die besit van hul wapens is en dat dié wapens aan die staat verbeurd verklaar en vernietig moet word. Die hof het ook beslis dat vuurwapeneienaars wat hulle in dié situasie bevind, nie vervolg moet word nie.
APPÈL KOM
Sithole sê egter ook in sy omsendbrief dat die polisie sal appèl aanteken teen dié nuutste hofbevel en “verdere instruksies (sal) tydig volg”. “Slegs opdragte en/of instruksies wat uit hierdie kantoor uitgereik is, moet nagekom word,” lui die omsendbrief.
In die weke ná die Grondwethof-uitspraak was daar groot verwarring oor hoe die insamelingsprosedure sal verloop. Dit was omdat Sithole aan provinsiale kommissarisse opdrag gegee het om die insamelingsproses op provinsiale vlak te inisieer.
Dit het daartoe gelei dat verskillende provinsiale opdragte mekaar weerspreek. Sommige vuurwapeneienaars het ook gemeen dat hulle die provinsiale opdragte kon ignoreer omdat daar nog nie ’n landwye opdrag uit Sithole se kantoor uitgereik was nie.
Sommige vuurwapeneienaars meen ook dat vuurwapenlisensies wat ingevolge die ou Wet op Wapens en Ammunisie (Wet 75 van 1969) gelisensieer is, steeds
geldig is, selfs in gevalle waar dié lisensies later omgeskakel is na die nuwe lisensies (Wet 40 van 2000) en dié lisensies verval het. Daar is egter nie eenstemmigheid daaroor nie.
AMNESTIE
Intussen het die Parlement se portefeuljekomitee oor polisie aangekondig hy gaan ’n versoek om ’n vuurwapenamnestie van genl. Bheki Cele, Minister van Polisie, oorweeg. Die datums wat oorweeg word, is vanaf 1 September vanjaar tot 28 Februarie volgende jaar.
Die komiteevoorsitter, mnr. Francois Beukman, sê in ’n verklaring die hoofdoel van dié amnestie is om die aantal onwettige vuurwapens in sirkulasie te verminder. Dit is glo ook om te keer dat wettige vuurwapens gesteel word en “verlore raak in die poel van onwettige vuurwapens”.