KAROO VERKLAP ’N PAAR GEHEIME (EN NUWE SOORTE)
15 nuwe plant-, insek- en diersoorte is in die Karoo beskryf danksy ’n spanpogingstudie genaamd die Karoo BioGaps-projek.
As gevolg van die voorgestelde skaliegasontwikkeling in die Karoo het navorsers met verskeie strategiese omgewingstudies begin. Hulle het toe besef dat die data vir soorte in die streek maar redelik skraal is. Die projek is toe van stapel gestuur.
“Dit is eenvoudig wonderlik dat wetenskaplikes steeds nuwe soorte in die moderne tye ontdek,” sê me. Domitilla Raimondo, die hoofondersoeker.
Dié nuwe soorte sluit twee soorte skerpioene, ’n plant wat lid is van die katstertfamilie, verskeie valdeurspinnekoppe, asook twee spinnekoppe wat in die grond woon, drie moontlike aalwurmsoorte, endemiese varswatervisse, swamme, ’n moontlike sprinkaansoort en soorte reptiele.
“Voor die Karoo BioGaps-projek was die Karoo een van die streke in Suid-Afrika wat die swakste bestudeer is, moontlik weens die strawwe omgewingstoestande en die indruk dat die streek relatief arm is aan verskillende soorte diere, plante en insekte,” lui ’n verklaring wat deur die projekspan uitgereik is.
“Die Karoo is egter as ’n belangrike area vir ontwikkeling in Suid-Afrika geïdentifiseer. Daarom is dit van belang dat die streek se biodiversiteit goed bestudeer word om ingeligte besluite oor ontwikkeling te neem.”
Benewens die nuwe soorte wat beskryf is, is die taksonomiese inligting van verskeie soorte ook weer bygewerk en die verspreiMinstens dingsgebied van verskeie reptiel-, skerpioen-, spinnekop- en aalwurmsoorte is aangepas.
Die projek is gelei deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi), onder leiding van die Foundational Biodiversity Information Programme, met die samewerking van die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die Nasionale Navorsingsinstituut.
’n Australiese mynmaatskappy se planne om uraan in die Karoo te myn is reeds verlede jaar in die wiele gery, onder meer danksy die ontdekking van ’n nuwe vygiesoort (Nananthus) naby Aberdeen.