WILDBESTUUR: ‘DIESELFDE BESTUURSBEGINSELS GELD AS BY VEE’
Dr. Leon de Bruyn, veearts by die Port Alfred-veeartsenykliniek, sê net soos by vee, is bestuur en die habitat binne ’n kampstelsel net so belangrik vir wild en dat dieselfde beginsels vir gesondheid geld.
“Dit fassineer my dat baie suksesvolle veeboere hul vee goed bestuur ten opsigte van weidingsbestuur, rotasiesbestuur en rus. As hulle die wildbedryf betree, sit hulle eenvoudig die diere in ’n kamp en dink die wilde diere is anders.”
Hy sê rotasiebeweiding en russtelsels vir wilde diere is noodsaaklik vir die bekamping van parasiete en weidingbestuur.
“As jy diere in dieselfde kamp gaan aanhou, gaan hulle die goeie gras kies en wanneer jy weer sien, neem die gehalte van die gras af.”
De Bruyn sê wildkampe moet steeds vir ses maande laat rus word vir bosluise om te vrek. Meer intensiewe kampstelsels sal tot die opbou van parasiete lei.
Voorts het hy boere daaraan herinner dat lusernpille nie ’n goeie vervanger is vir goeie beweiding nie. “Ek begin probleme waarneem met wilde diere se metabolisme omdat hulle in kleiner kampies aangehou word. Hou die kampe so groot en natuurlik moontlik en skuif ook die diere gereeld rond.”
Proteïene, asook makrovoedingstowwe, soos kalsium, moet in gedagte gehou word, aangesien dit tot ’n goeie immuunstelsel bydra. “As jy diere se immuunstelsel gesond kan hou en opbou, help jy hulle om parasiete en siektes af te weer.”
De Bruyn sê boere moet bedag wees daarop dat wanneer hulle diere dip en doseer en na ’n nuwe kampstelsel skuif, net die nie-weerstandige parasiete sal vrek. “Só word net die weerstandige parasiete na die nuwe kampe aangeskuif en gevolglik teel jy superweerstandige parasiete.”
Hy sê luise en luis-oordraagbare siektes het na die Karoo versprei omdat boere ongedoseerde wild van ander dele van die land, soos KwaZulu-Natal, daarheen verskuif
het. Hy maan boere om wilde diere altyd te doseer voor hul vervoer word. “Die luise het nie al die pad Karoo toe geloop nie.”
Met die toename in weerstandigheid sal boere ook ’n nuwe benadering tot parasietbestryding by vee en wild moet volg.
“In die verlede het jy medikasie gegee en diere gedoseer, en met al die gebruik daarvan het weerstand begin opbou, nes bakterieë weerstand teen antibiotika opbou.”
Volgens hom is dit moeilik om akkurate doserings vir wilde diere te gee.
Met medikasievoerpille kan diere oor- of onderdoseer word, aangesien daar nie beheer is oor hoeveel elke dier daarvan vreet nie. Daarby word toetse vir medikasie nie op wilde diere uitgevoer nie, en word skattings vir dosisse van skape en beeste bloot geëkstrapoleer.
Volgens De Bruyn moet boere ook spesieseleksie in gedagte hou. Wanneer diere van buite die streek waarin hulle aangepas is, soos die binneland, na die kusstreke geskuif word, is dit ’n verdere knou vir hul immuunstelsel, wat tot siektes en parasietbelading kan lei.
Hy moedig boere aan om dr. Faffa Malan se bekende Famacha-klassifikasiestelsel te gebruik om vir weerstandige diere op die plaas te selekteer. “As jy diere kry wat anemies is, of baie parasiete dra, moet jy hulle uit jou kudde verwyder.”