NEONIKS NOU OOK BY WILDE VOËLS GEVIND
Neonikotinoïede bedreig klaarblyklik nie net die voortbestaan van byekolonies nie, maar ook ander natuurlewe as insekte.
’n Studie deur navorsers verbonde aan die Universiteit van Guelph in Ontario, Kanada, het gewys daar was betekenisvolle neerslae van dié klas plaagbestrydingsmiddels in die lewers van wilde kalkoene. Dit is ’n duidelike bewys dat hierdie middels ook deur wilde voëls ingekry word.
Neonikotinoïede, in die spreektaal ook bekend as neoniks, word oor die wêreld heen wyd in die landbou gebruik. Een van hulle, die aktiewe bestanddeel imidaklopried, is die plaagbestrydingsmiddel wat wêreldwyd die heel algemeenste gebruik word. Nikotinoïede se chemiese samestelling is soortgelyk aan nikotien en is giftig vir insekte deurdat dit hul sentrale senustelsel aanval.
Dit is al geruime tyd omstrede en op plekke in Europa en Amerika verban nadat navorsing gewys het dat dit ’n oorsaak van die algemene ineenstorting van heuningby-kolonies (colony collapse disorder, oftewel CCD) en massavrektes van dié bestuiwers kan wees.
Prof. Claire Jardine, ’n patobioloog van die veeartsenykunde-kollege Ontario, verbonde aan die Universiteit van Guelph, sê hulle het met die ondersoek begin nadat amptenare van Ontario se federasie van jagters en hengelaars gevra het navorsing moet gedoen word oor die moontlike bedreiging wat neoniks vir wilde kalkoene inhou.
Heelparty jagters in die suide van dié staat het gesien hoe die kalkoene saad wat met neoniks bedek is, in die lande oppik.
In party gebiede het hulle opgelet dat daar nie meer jong voëls te siene is nie, en het gewonder of verminderde reproduksie van die kalkoene nie dalk iets daarmee te make kan hê nie.
Dít kom te midde van groeiende kommer onder natuurlike hulpbronbestuurders en bewaringgesindes dat neoniks met verswakte voortplanting onder die kalkoene verband kan hou.
Dit is nog nie bekend wat die langtermyn-uitwerking van die neoniks op die kalkoene se gesondheid sou wees nie, sê Jardine.
In vorige studies is reeds bevind dat saad wat met neoniks bedek is, ’n gesondheidrisiko vir patryse, kwartels en duiwe kan inhou.