Ascendis betree SA entstofmark
Ná jare se intensiewe navorsing en ondersoek stel Ascendis Animal Health nou ’n reeks entstowwe vir produksiediere in Suid-Afrika bekend.
Kuddegesondheid is vir Ascendis Animal Health van die uiterste belang. Die doelwit met die bekendstelling van die nuwe reeks entstowwe wat volgens goeie vervaardigingspraktyke gesertifiseer is, is om konstruktief by te dra tot die gesondheid en welsyn van produksiediere, asook die dieregesondheidsbedryf in sy geheel.
Die aanleg wat die entstowwe vervaardig, is ’n toonaangewende internasionale eenheid met meer as 30 jaar se ondervinding in die vervaardiging en sintetisering van produkte vir veeartsenykundige gebruik.
Meer as 50 miljoen dosisse entstof word jaarliks deur dié aanleg vervaardig en dit het die vermoë om noemenswaardig uit te brei.
Die versekering van gehalte is ook ’n kritieke suksesfaktor vir alle Ascendis Animal Healthverskaffers en -vennote wat oorgedra is na die entstofvervaardigingsgerief. ’n Span navorsers, tegnici, bioloë, veeartse en biochemici verseker die handhawing van internasionale standaarde wat biosekerheid en goeie vervaardigingspraktyke betref, asook die voldoening aan die streng riglyne van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE).
Die geriewe voldoen aan dieresorgregulasies en is gesertifiseer vir die huisvesting van al die diere waarvoor entstowwe vervaardig word.
Die entstowwe word op hierdie diere getoets as deel van die gehaltebeheerproses om die veiligheid en doeltreffendheid daarvan te verseker.
Dié proses verseker dat die diere voldoende teenliggaampies en beskerming teen die siekteveroorsakende organismes in die natuurlike omgewing sal hê.
Entstowwe van hoë gehalte is die eerste stap vir boere se suksesvolle belegging in hul toekomstige kuddegesondheid.