Brahman het gesonder vleis
Sal verbruikers meer betaal vir een soort beesvleis as dit ’n hoër voedingkundige vlak as ander beesvleis het?
Prof. Raluca Mateescu is medeprofessor in dierkunde aan die Universiteit van Florida se instituut vir voedsel- en landbouwetenskappe. Luidens ’n artikel in die Amerikaanse landboutydskrif The Progressive
Farmer het sy haar bevindings oor gesonde beesvleis aan Florida se beesboervereniging bekend gemaak.
Mateescu is op soek na maniere om die vetsuurinhoud van beesvleis te verander.
“Volgens navorsing oor die afgelope dekade hou die hoeveelheid vet in die dieet nie regtig met siektes verband nie. Dit word duideliker dat slegte vette — trans- en kortlengte-versadigde vette — die risiko van koronêre hartsiektes en ander siektes verhoog, terwyl goeie vette — mono- en poli-onversadigde en langerlengte-versadigde vette — dié risiko’s verlaag. Die sleutel tot ’n gesonde dieet is nie om die totale vetinname te verlaag nie, maar om slegte vette vir goeie vette te verruil.”
Mateescu en haar navorsingskollegas het byvoorbeeld vasgestel ’n Brahmanbiefstuk bevat méér polionversadigde en minder versadigde vet as die Angusras. Die Brahman het 47,5% versadigde vette teenoor die Angus se 51,3%, terwyl die Brahman 6,9% poli-onversadigde vette teenoor die Angus se 4,3% het. Met dié vergelyking kan hulle verklaar die Brahman is ’n gesonder bron van vleis.
Hulle werk nou aan genetiese waardes waarmee boere beeste kan identifiseer wat aan sekere standaarde vir voedingkundige gesondheid voldoen sodat hulle vir gesonder beesvleis kan selekteer en dit só kan bemark.
In ’n opname onder duisend mense het die navorsers vasgestel verbruikers is gewillig om R30/kg tot R45/kg méér vir vleis te betaal indien hulle oortuig is dit is gesonder.