FINANSIËLE DRUK
Kirsten sê hoewel graanboere hoopvol is ná die reën, bestaan groot onsekerheid oor wat hulle nou te doen staan ten opsigte van produksiekoste. Die boere het seergekry met die lang droogte en swak oeste.
“Wat die boere verder onder kwaai finansiële druk plaas, is die feit dat hul produkpryse nie styg nie, maar produksiekoste klim aanhoudend – kyk maar na die
prys van diesel alleen.”
Al wat die Swartlandse graanboere gaan help oorleef, is hoër produksie met die hulp van nuwe kultivars met ’n hoër produksie per hektaar.
“Ons vra koringkultivars wat ons ’n 20% hoër produksie sal gee sonder om enige gehalte in te boet. Ons lewer van die beste koring ter wêreld, en die bakgehalte daarvan is baie beter as dié van ander lande, maar ons
word nie behoorlik vergoed nie.”
Lupiene en kanolakultivars met hoër produksiemoontlikhede is ook nodig. “Ons kyk reeds na verskillende tipes bone en peulgewasse – soos kekerertjies – as alternatiewe gewasse.”
Wat die Swartlandse graanboere bevoordeel, is die rand-dollar-wisselkoers wat die pryse ondersteun. Wat egter nog probleme skep, is die feit dat die owerheid nie invoertariefaankondigings betyds maak nie. “Die vertraging met sulke aankondigings keer dat pryse verskans kan word en dit destabiliseer die hele graanbedryf.”
Tans lyk die koring op die lande baie goed, maar die koringoes word in September finaal bepaal. Daarvoor is opvolgreën tot September noodsaaklik, meen Kirsten. Ook die hawer lyk goed, maar die kanola wissel van uitstekend tot swak.