Onteiening sonder vergoeding: Sókies staat plase
GRONDEIENAARS wat nie die grondwaardeerder-generaal se waardasie op hul grond aanvaar het nie, is in die Regering se visier om te toets of die Grondwet wél toelaat dat grond sonder vergoeding onteien mag word.
Die 139 plase wat die ANC geoormerk het om sonder verdaarvan goeding te onteien, is grond wat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming onder verskeie programme wou aankoop en waar eienaars nie die vergoedingsbedrag wat die grondwaardeerder-generaal vasgestel het, wou aanvaar nie.
Volgens die departement is die plase wat vir dié toetslopie geïdentifiseer is, in verskillende dele van Suid-Afrika geleë, en val hulle onder verskeie van die departement se programme, hetsy as deel van restitusie of die aanskaffingstrategie vir die verkryging van grond (Plas).
RESTITUSIEPLASE
Landbouweekblad het einde 2017 berig dat me. Nomfundo Gobodo, die hoof-grondeisekommissaris, gevra het dat sewe restitusieplase onteien word nadat die eienaars die grondwaardeerder-generaal se prys verwerp het.
Die kantoor van die grondwaardeerder-generaal is in 2015 tot stand gebring om te bepaal wat “billike” en “regverdige” vergoeding beloop vir grond wat die staat wil bekom.
Me. Linda Page, woordvoerder van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê vir onteiening om plaas te vind, moet me. Maite Nkoana-Mashabane, die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, ’n kennisgewing aan die grondeienaar bedien. Die grondeienaar kry dan die geleentheid om sy kant van die saak te stel.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri Limpopo se landbou-ontwikkelingskomitee, sê in ’n verklaring die organisasie “vrees dat die ANC ’n geweer teen die koppe van die regters (in hierdie 139 toetssake) hou”, omdat die regters “weet dat die party hul uitsprake sal gebruik as ’n verskoning om die Grondwet te verander wanneer die uitsprake nie in sy guns is nie”.
GROOT GEVEG KOM
Teenstanders van onteiening sonder vergoeding het egter ook nou met mening die moue begin oprol om pogings in hierdie verband teen te staan.
Kort ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging op die SABC dat die ANC wél ten gunste van ’n grondwetwysiging oor onteiening sonder vergoeding is, het Cope laat blyk hy maak hom reg vir ’n regsgeding. Dit is op grond dat die aankondiging geskied het nog voor die grondwetlike hersieningskomitee se openbare verhore oor dié kwessie afgehandel was.
Me. Glacier Nkhwashu, Cope se woordvoerder, sê gedurende ’n regs- of ’n grondwetlike proses word niemand toegelaat om die uitkoms daarvan vooraf te gaan of uitspraak te lewer voor ’n beslissing gemaak is nie.
“Die ANC het die sub judice-beginsel oortree, en dit kan in die Grondwethof uitgedaag word,” sê sy.
BEWOORDING
Me. Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grondsake, sê die hof kan genader word sodra die finale bewoording vir die wysigingswetsontwerp wat onteiening sonder vergoeding toelaat, deur die Parlement goedgekeur is.
Wanneer die komitee sy wysigings aanbeveel het en die Parlement dit byvoorbeeld ingestem het, sal ’n wysigingswetsontwerp opgestel moet word. Die normale parlementêre prosedure, wat verdere openbare verhore en skriftelike kommentaar insluit, sal dan gevolg moet word.
Van die gronde waar die hof se hulp ingeroep kan word, is wanneer daar prosedurele foute in die parlementêre proses gemaak is of die wetgewing se substansie aangevat kan word.