Boereplan: Driery-planter haal angel uit pampoenplant
In Suid-Afrika word pampoenpitte nog grotendeels met die hand geplant. Die Bultfonteinse planmakerboer mnr. Michris Janse van Rensburg het ’n planter ontwerp wat met swaaikoppelings aan ’n raam vas is en ’n egalige plantdiepte verseker. Ses werkers vervan
Bultfontein se patentkoning skaaf voortdurend aan sy ontwerpe, wat strek van sy byna ikoniese handmielieplanter en omgeboude koringwerktuie tot kunsmisstrooiers. Mnr. Michris Janse van Rensburg van die plaas Mooiuitsig, wat onlangs ook op kort kennisgewing ’n baie suksesvolle TED-praatjie gelewer het (sien die KASSIE ), het jare gelede al ’n gaping in die mark gesien vir ’n pampoenplanter.
Michris is oorval deur versoeke van groenteprodusente, want plantwerk van veral pampoenpitte is ’n gespesialiseerde veld en min voorafvervaardigde werktuie is beskikbaar.
“Die egalige plant van pampoenpitte is ’n wilde perd om op te saal.” Hy sê as jy mooi kyk, sal jy sien die pitte van dieselfde kultivar verskil baie. Party pitte is die helfte kleiner as die ander. “Die saad raak ook net te duur om foute te bekostig. Party kultivars se saad kos al R1 per pit!”
Oorspronklik het Michris sy hand-mielieplanter vir pampoenplant aangepas. Danksy die ontwerp word pitte nou op ’n
eenvormige diepte geplant.
Die pitte word een-een by ’n kanaalvormige yster, wat as geut dien, ingegooi, en met ’n verstelbare, vierkantige ysterstafie wat aan die handvatsel vas is, in die grond ingedruk. “Met die aangepaste handmodel was slegs ’n derde van jou gewone arbeidsmag nodig om die pitte te plant.”
DRIE RYE SPORE . . .
Meer boere het egter ’n trekkermodel gesoek wat akkuraat is én arbeid bespaar, en Michris het ’n enkelrypampoenplanter ontwerp wat saad egalig kon plant (sien ook “Plant pampoene maklik met dié werktuig”,
LBW, 15 Junie 2012). Nou het hy ’n drierymodel vir ’n Oos-Vrystaatse groenteboer gebou waarvan die plantereenhede met ’n swaaikoppelstuk aan die werktuigbalk geheg is. Al drie funksioneer afsonderlik om die gewenste plantdiepte te behou ondanks die wisseling in die helling van die plantoppervlak.
Die raamwerk van die plantereenhede is van kanaalysterbalke van 76 mm x 38 mm x 2 mm gemaak. Die wiele is van platyster en ronde stawe van 12 mm gemaak, met speke van platyster. Die omtrek daarvan is 1,25 m. Die werktuigbalk is 4,5 m wyd, met die plantereenhede 1,8 m uit mekaar geplaas.
Michris het twee sitplekke aan weerskante van elke draaiskyf, wat van teflon gemaak word, agter die trekkerkoppeling aangebring. Twee operateurs kan dus per eenheid ingespan word om die draaiskyf te voer. Die gewig van die ses operateurs help voorts om die plantereenheid stabiel te hou.
As die skyf oor die skag voor die wiel beweeg, val ’n saadjie in die grond, wat vooraf deur ’n verstelbare planterskoen tot op die gewenste plantdiepte oopgekloof is. Die agterste drukwiel bedek weer die saad met grond.
REUSE-ARBEIDBESPARING
In die geval van waatlemoene en ysterpampoene wat verder uitmekaar geplant word as ander rankgewasse, is die skyf gekalibreer om stadiger te draai, wat maklik deur een man per eenheid behartig kan word.
Die afstand tussen kultivars kan van 1 m tot 40 cm wissel, wanneer ’n tweede helper baie help.
Volgens Michris kan die duurste pampoenplanter ter wêreld nie individuele pitte vir die plantproses selekteer nie – ’n eienskap wat syne wél regkry.
Die plantestand word nie deur die trekkerspoed bepaal nie, maar met die ratverhouding van die plantereenhede. Die
plantspoed is sowat 5 km/h, wat neerkom op sowat 10 ha per dag in die geval van die drierymodel.
Die trekkerkombinasie met ses werkers per drierymodel vervang sowat 60 werkers wat pampoenpitte met die hand plant.
Die drierywerktuig kos R30 000.