Cyril maak ook skuiwe in die donker
MANIE is bekommerd oor die huidige onsekerheid rondom eiendomsreg en die skote in die donker oor onteiening sonder vergoeding. Alles oor dié sentiment pla.
Daar is talle voorbeelde van regerings wat eienaarskap ontneem het en al dié lande was slegter daaraan toe daarna. Dink byvoorbeeld aan Zimbabwe, Suid-Soedan en Venezuela. Die wanorde in daardie lande is nie ’n mooi prentjie nie.
Wat Manie regtig dwars in die krop steek, is die afsydigheid van die Regering jeens die burgers van Suid-Afrika. Tydens die onlangse openbare onteieningsdebat op Citrusdal was dit duidelik dat die mense van Suid-Afrika desperaat is.
Pres. Cyril Ramaphosa het besluit, nog voor die openbare debatte afgehandel is, dat artikel 25 van die Grondwet verander moet word. Dit is kommerwekkend. Dié stap van die President is ’n subtiele bewys van die ongeërgdheid waarmee die regeerders en wetmaker met die publiek omgaan.
Die argumente op Citrusdal het minder gehandel oor grond as wat dit gehandel het oor die desperaatheid van Suid-Afrikaners om hul waardigheid te herstel en te behou.
Aan die een kant het die boere hande in die lug gestaan. “Hoekom is dit so moeilik om te sien dat jy nie 30 miljoen arm mense ryk gaan maak deur 30 000 mense se grond te onteien nie. Waar is die logika? Daar is mos reeds talle goeie voorbeelde van hoe bemagtiging en grondhervorming suksesvol gedoen kan word as die wil daar is,” het Manie tussen die reëls gelees.
Aan die ander kant het blouboordjiewerkers, krotbewoners en werklose en arm mense hande in die lug gestaan. Desperaat en kwaad het hulle gepleit om menswaardigheid, regverdigheid en ondersteuning om ook hul drome ’n kans te gee om waar te word. ’n Titelakte vir ’n huis is verseker ’n stap in die regte rigting. Om alle wit mense wat grond besit te wil verjaag, soos wat ook op Citrusdal versoek is, is ’n stap in die verkeerde rigting.
Manie reken Ramaphosa is alte bewus van hierdie eenvoud, maar is nie dapper genoeg om standpunt in te neem en die staat se grond aan die burgers van die land te gee nie.
Die debatte het min gehandel oor die voordele en nadele van eienaarskap en onteiening. Die paneel parlementslede het op die verhoog gesit, belangrik gelyk met hul snyerspakke en goue penne, druk besig om notas te maak vir ’n proses wat twee dae vantevore eensklaps nutteloos gelaat is deur nóg ’n middernagtelike presidensiële aankondiging.
Manie het gehoop dat Zuma die enigste een is wat in die donker sy skaakstukke skuif, maar nou blyk dit Ramaphosa maak ook sy skuiwe in die donker.
Dit maak Manie bekommerd, want valse hoop is ’n gevaarlike ding. Wanneer mense meer verwag as wat realisties moontlik is weens leë beloftes, dan raak dit gevaarlik. As mense hoop verloor
het, het hulle niks verder om te verloor nie.
Daar is min dinge so onverskillig soos ’n mens wat kwaad is en niks het om te verloor nie.
RAMPROJEK SE DAE MOONTLIK GETEL
Ongeveer 3 000 ramme wat vir die Nasionale Wolkwekersvereniging se genetiese verbeteringsprojek bestem is, se voorland is nou heel moontlik die slagpale.
Hoewel Manie verneem dat die NWKV reeds in Julie die jawoord vir geld van die Tesourie gekry het, sukkel die NWKV steeds om enige skriftelike toestemming te kry.
Die ramme staan op telers se plase waar hulle gevoer en onderhou moet word. Paar- en dektyd is reeds einde Mei verby.
Manie verneem indien die betaling nie realiseer nie, is dit ook heel moontlik die einde van die projek.
Dié projek word gereeld en herhaaldelik van verhoë en in toesprake deur politici en organisasies geprys as een van Suid-Afrika se suksesverhale vir transformasie. Wolproduserende gemeenskappe in die kommunale gebiede van die Oos-Kaap het verlede jaar R300 miljoen verdien – alles danksy wolverkope. Nagenoeg 27 000 boere in die kommunale gebiede kon op internasionale markte meeding.
Danksy die projek en die beter inkomste (wat met die verbetering van hul diere bewerkstellig is), kan talle boere hul kinders na beter skole stuur, beter na hul diere omsien, hul infrastruktuur en hul lewensomstandighede verbeter. Die meeste van die kleinboere kan nie hierdie ramme op hul eie bekostig nie.
Manie wonder of die projek nou ook ’n slagoffer gaan word van politieke inmenging en senior bestuurders wat net waarneem in poste weens geskorste amptenare, korrupsie en ondoeltreffende staatsprosesse?
SING SOOS KANARIES
Met amptenare wat soos kanaries sing, kan sekerlik verwag word dat diegene wat by korrup- te praktyke by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye betrokke is, aan die kaak gestel sal word.
Manie hoor dat die Valke twee weke lank verklarings by amptenare van die departement in Pretoria afgeneem het en reeds genoeg bewyse bymekaar gekry het oor wat in die Departement van Visserye aan die gang is.
Daar is glo selfs ’n verslag van Siphokazi Ndudane, adjunkdirekteur-generaal van visserye, gevind waaraan gepeuter is en wat na die hof gestuur is. Iemand in die departement het na bewering flaterwater (Tipp-Ex) gebruik om sekere kommentare en voorstelle in die verslag te verbloem en toe die dokumente na die hof gestuur is, was dit wragtig dié met die flaterwater op.
Manie hoor verder dat Ndudane se skorsing nou glo weer van krag is. Dit is verbasend, siende dat Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sy direkteur-generaal, Mike Mlengana, van sy magte onthef het om Ndudane se skorsing tersyde te stel.
Ook ál die ander amptenare wat Mlengana geskors het sodat beskuldigings van wanbestuur en korrupsie binne die Departement van Visserye ondersoek kan word, kon glo terugkeer werk toe.
Belemane Semoli, ’n oudamptenaar, word in die Staatskoerant van 20 Julie as die huidige waarnemende adjunkdirekteur-generaal van visserye beskryf.
KRAALMIS EN AARBEIE
’n Seuntjie stap verby ’n boer wat kraalmis op ’n sleepwa laai. Belangstellend vra die seuntjie wat hy met die mis gaan doen.
“Ek neem dit huis toe om op my aarbeie te gooi,” antwoord die boer.
Verstom oor die antwoord, sê die seuntjie: “Ek weet nie waar oom-hulle vandaan kom nie, maar waar ek vandaan kom, sit ons roomys op ons aarbeie.”