NAGMUISE NOG NIE ’N PLAAG NIE, MAAR . . .
PRODUSENTE in die somersaaigebied sal moet let op die bestryding van springhaasrotte – ook bekend as nagmuise – om te voorkom dat dié knaagdiere in die komende seisoen ’n plaag word.
Verskaffers van plaagbestrydingsmiddels het die afgelope tyd navrae gekry oor hoe om die voorkoms van die knaagdiere in hul landerye te bestry.
Mnr. Johan Lotriet, verspreider van Coopers-produkte in Bloemfontein, het verskeie navrae uit die Oos-Vrystaat in die omgewing van Bethlehem gekry, asook uit Wesselsbron en die naburige Bothaville.
Die maatskappy se Kaapse tak het ook navrae van boere in die Wes-Kaap gehad.
“Die probleme met nagmuise is tans waarskynlik nie so erg nie,” sê hy. “’n Mens moet in gedagte hou dat min gewasse in sekere droogtegeteisterde dele, soos in Noordwes en dele van die Noordwes-Vrystaat, verbou kon word. Noudat die boere plant, raak hulle meer bewus van die nagmuise se skade.”
Mnr. Emil von Maltitz van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming (NIPB) in Pretoria, sê die bevolkings van dié knaagdiere is sekere tye van die jaar geneig om te ontplof.
“Wanneer daar genoeg kos in die winter beskikbaar is, byvoorbeeld weens graanvermorsing op landerye, is hul getalle dikwels in die planttyd hoër as gewoonlik, wat tot skade lei,” sê hy.
SINKFOSFIED
Mnr. Michris Janse van Rensburg van die distrik Bultfontein het die afgelope maand verskeie navrae oor sy nagmuis-giftoedieners uit die Oos-Vrystaat, Kriel en Bothaville ontvang. Hy het ook bestellings uit Bergville gekry en is bewus van nagmuisskade in die voormalige Transkei.
Mnr. Sam Kramer van Monsanto op Bothaville raai boere aan om bestrydingsmaatreëls te tref, wat biologies (deur uilhuise op pale in landerye op te rig) of chemies kan wees.
Dr. Frikkie Kirsten, ’n voormalige navorser verbonde aan die NIPB, het sowat drie jaar gelede op grond van navorsing bevind dat sinkfosfied springhaasrotte se moses is.
Sy span het toe bevind dat ’n sinkfosfied-saadbehandeling doeltreffend blyk te wees omdat die springhaasrotte die saad wat daarmee behandel is, vermy het.
Sy span kon geen bewys vind vir die gerug dat bewaringslandbou (wat ploeg uitsluit) die voorkoms van springhaasrotte bevorder nie.
In die navorsingwerk in die distrik Wesselsbron, waar geenbewerking drie jaar gelede nog ’n skaars praktyk was, is groot getalle springhaasrotte opgespoor. Daarenteen was daar in die ooreenstemmende jaar betreklik min springhaasrotte in die omgewing van Ottosdal, waar heelwat geenbewerkingboere is.