Vele raakpunte tussen SA en Zim
POLITICI verkondig graag dat grondhervorming in Suid-Afrika nie in ’n “tweede Zimbabwe” sal ontaard nie. Dit beteken egter nie dat boere die ooreenkomste tussen die verloop van grondhervorming in die twee lande moet miskyk nie, het dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboere-organisasie, op Agri Wes-Kaap se kongres op Goudini gesê.
Hy sê in Suid-Afrika en Zimbabwe het vergoeding vir grond ’n kwessie geword toe die geld vir grondhervorming begin opraak het. In albei lande het die grondhervormingsprogram gou verwyderd geraak van landbou-ontwikkeling. “Dit is bestuur as afsonderlike entiteite, selfs deur verskillende departemente.”
Volgens hom kan ’n mens ook vra wat die polisie gaan doen in die geval van onwettige grondbesettings. “Die georganiseerde landbou moet reëlings met die polisie tref oor hoe onwettige optredes rondom grond gehanteer gaan word.”
Eweneens maak albei lande sterk staat op die internasionale mening wat gevorm word deur die hoofstroommedia.
“As ons in Suid-Afrika ’n vrye pers verloor, dan is ons doppie geklink. Dit is wat in Zimbabwe gebeur het toe mediavryheid beperk is en joernaliste opgehou het om kritiese vrae te vra.”
Hy sê albei lande se grondhervormingsprogramme is “vermink deur nepotisme, wanadministra- sie en korrupte amptenare”.
WIE VIND BAAT?
Nog kwessies is wie die werklike begunstigdes van grondhervorming sal wees en hoe word hulle geïdentifiseer. In Zimbabwe was dit die oorlogsveterane. “In Suid-Afrika hoop ons arm mense in landelike gebiede wat wil boer, gaan die begunstigdes wees. Tot dusver was die tradisionele owerhede die bevoordeeldes.”
In albei lande is plaaswerkers die eerste slagoffers. “Hulle weet nie wat kom nie, of wat is aan die gang nie. Die volgende wat hulle hoor, is dat hulle nie meer ’n werk het nie.”
Daar was die afgelope jare ’n opbou van regsuitsprake teen die regerings in Zimbabwe en Suid-Afrika.
“Dit irriteer dié regerings. Vandag word ’n te groot deel van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se begroting aan regskoste bestee omdat hy een ná die ander saak verloor.”
Ongelukkig het boere in albei lande “die hele tyd vir mekaar gesê dit kan nie in ons land gebeur nie, ons land is te goed ontwikkel, die landbou is ’n belangrike deel van die ekonomie . . . die buitewêreld sal dit nie toelaat nie”.
Ondervinding toon egter dat dit vir politici die belangrikste ding is om aan bewind te bly, al is dit ten koste van die ekonomie.
“Die dinge loop verkeerd as die Regering onder druk voel. As die Regering betrap word met ’n swak hand, dan is grond die joker in die pak.”
In Suid-Afrika én Zimbabwe het boere tot op die laaste gesê die Grondwet sal hulle beskerm, dog De Jager sê hy is krities teenoor inisiatiewe om geld bymekaar te maak om die Regering hof toe te vat. “Dit is nie ongrondwetlik om die Grondwet te verander nie. Die oplossing is nie die hof nie: Dit is soos om ’n pleister oor kanker te plak. Jy moet hom by sy wortel gaan uitsny.”
‘KRY’NPLAN’
Volgens De Jager sê die kommersiële boere van Zimbabwe dit is belangrik om nou vennote te kry terwyl jy hulle nog kan kies. “Neem die inisiatief. Kom met ’n plan en dink holisties. Jy moet net nie sonder ’n plan betrap word nie.”
Hy meen grondeienaars kan die grootste verskil maak.
“Ons sien nie genoeg dat boere self praat oor hoe ons die probleem takel nie. Ons moet moue oprol en seker maak dat ’n klas van winsgewende swart boere gevestig word, al verskil ons van hulle. Hulle is ons logiese vennote. Saam met hulle kan ons die hoofdoel van ’n landbou-organisasie bereik deur die beleidsproses te beïnvloed.”
Ten spyte van al die ooreenkomste, meen De Jager nie Suid-Afrika gaan die Zimbabwe-pad loop nie.
“Ons het iets wat Zimbabwe nie gehad het nie. Dit is ’n voorbeeld op ons voorstoep oor hoe om dinge nié te doen nie.”
‘Moet net nie sonder ’n plan betrap word nie.’