Brics-lande en SA se landbou
Die onlangse vergadering van die Brics-lande in Suid-Afrika het verskeie belangrike kwessies beklemtoon. China, SuidAfrika se grootste handelsvennoot, het reuse-lenings aan Suid-Afrika toegestaan. Suid-Afrika sal juis handelsvennote elders moet gaan soek
In die laaste week van Julie was die Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) se beraad in Durban en Johannesburg groot nuus. Die betrokke presidente van dié lande en hul afvaardigings het omvattende samesprekings gevoer. Die feit dat China miljarde rande aan Suid-Afrika se bankrot staatsondernemings gaan leen, asook ander beleggings wat aangekondig is, het gemengde reaksie uitgelok. Baie mense was daarteen gekant, maar die feit bly: Suid-Afrika se staatskas is leeg, staatsondernemings is bankrot en het ernstige likiditeitsprobleme, wat hul voortbestaan as lopende ondernemings in die gedrang bring.
In Suid-Afrika se binneland is daar ook ernstige weerstand aan die opbou teen verhoogde belastings (BTW, brandstof, tolgeld en moontlike kwaai elektrisiteitstariefverhogings). Dit is nie so erg as die Suid-Afrikaanse Lugdiens nie meer bedryf word nie. Daar is genoeg ander lugrederye wat die markruimte sal vul. As Eskom as monopolie egter tot stilstand kom, met geen alternatiewe nie, sal die ekonomie in ’n diep gat verval.
Ek dink min mense weet hoe skarrel finansiers agter die skerms in finansiële markte om dié onderneming staande te hou. Dit lyk na ’n keuse tussen die afgrond en die duiwel. Ek meen ons keuses in Suid-Afrika het opgeraak weens korrupsie in die Regering. China is die “duiwel” met wie ons vorentoe sal moet saamwerk, met al die kwessies wat daarmee verband hou.
Die Chinese het ten minste puik ekonomiese beplanning waarvolgens hulle hul ekonomie bestuur om teen 7-10% per jaar te groei en welvaart te skep vir ’n groot bevolking (sowat 1,4 miljard mense). Dalk sal dit Suid-Afrika mettertyd help?
Die ander belangrike deel van die Bricsbyeenkoms is dat daar ’n hele aantal verdrae tussen die betrokke lande gesluit is om op ’n groot aantal terreine nader aan mekaar te beweeg. Dit geld aspekte, soos toerisme, visums, beleggings, die landbou, kultuur en handelsbevordering, om net enkeles te noem.
Ons gaan in die volgende aantal jare ál meer ooreenkomste sien tussen die Brics-lidlande en uiteraard die ooreenkomste wat Suid-Afrika met dié lande sluit. Dit is ’n feit waarby ons sal moet aanpas, aangesien mnr. Donald Trump, president van Amerika, nie oor Afrika en ontwikkelende lande bekommerd is nie. Suid-Afrika sal toenemend by groeperings in Suider-Afrika en in die Brics-lande moet inskakel.
Onthou, daar is onlangs ’n konsep-handelsooreenkoms in Suid- en Oos-Afrika gesluit om ’n nuwe handelsblok tot stand te bring, waarvan Suid-Afrika deel is. Die kommersiële landbou sal daarby baat vind om ge- leenthede in die nuwe handelsgroeperings te soek, want die Europese Unie (EU) en Amerika is nie meer ons natuurlike handelsvennote nie.
Volgens die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye was die landbou se vyf grootste uitvoerprodukte verlede jaar sitrus (R18,6 miljard), wyn (R8,3 miljard), druiwe (R8,5 miljard), appels en pere (R7,4 miljard) en mielies (R5 miljard). Daar is ook heelwat kleiner bedrywe, soos wol en neute, wat tans in ’n groeifase is, asook subtropiese produkte en bessies.
Dit sal Suid-Afrika se bedryfsorganisasies en landbou-ondernemings loon om uit hul eie perspektief uitvoergeleenthede na die Brics-lande te ondersoek en aan te dring op handelsooreenkomste wat Suid-Afrika beter toegang gee tot veral die Chinese mark, wat na my mening nuwe geleenthede bied.
HANDELSVENNOTE
TABEL 1 toon Suid-Afrika se grootste handelsvennote volgens berekenings wat die internasionale agentskap Trademap doen. Dit is ’n interessante lys lande. China troon reeds sterk uit as Suid-Afrika se belangrikste handelsvennoot. Onthou, die meeste van Suid-Afrika se steenkool en mineraal-uitvoerprodukte gaan na China. As jy na winkelrakke kyk, veral wat verbruiksgoedere betref, sien jy net China se naam.
Dit is dus ’n feit dat China ’n baie belangrike handelsvennoot is, met wie Suid-Afrika nie omvattende handelsooreenkomste het nie. Daar word reeds die afgelope jaar of drie in verskeie bedrywe onderhandel om beter toegang tot die Chinese mark te kry, veral vir Suid-Afrikaanse vrugte en vleis.
Die dilemma is dat Suid-Afrika ’n handelsrekeningtekort ten opsigte van China het. (Suid-Afrika voer dus meer produkte in uit China as wat hy daarheen uitvoer.) Dié tekort is groter as die tekort wat Suid-Afrika ten opsigte van Amerika het.
Die lande ten opsigte waarvan Suid-Afrika die grootste handelstekorte het, is China, Amerika, Duitsland, Japan en Indië.
Trump wil nou die kaarte ten opsigte van wêreldhandel skommel omdat Amerika ’n baie groot handelstekort ten opsigte van veral China, die EU, Kanada en Mexiko het. Hy meen al die invoer uit daardie lande neem werkgeleenthede in Amerika weg.
Die handelsoorskot wat China ten opsigte van Amerika het, beloop miljarde dollar. Die erns van die saak is dat China deel van dié surplus gebruik om Amerika se staatskuld te finansier.
Dit is deel van die redes waarom Trump oor ’n beter handelsbalans met China wil onderhandel met veranderinge in marktoegang.
Trump meen veral dat Amerika nie dieselfde maklike toegang tot die bogenoemde lande se markte kry nie. Daarom wil hy verhoogde invoertariewe instel op invoer uit dié lande, want hulle belas invoer uit Amerika.
Ek het al in dié rubriek daarop gewys dat die invoertarief van 25% wat China byvoorbeeld op sojabone uit Amerika ingestel het, Amerikaanse sojaboonpryse kwaai laat daal het.
Trump is nou besig om die EU te oorreed om Amerikaanse sojabone te koop, terwyl Brasilië en Argentinië hul sojabone nou aan China verkoop. Dié twee lande het ’n mededingende voordeel omdat hulle nie die 25%-invoertarief aan China betaal nie.
Die Brics-lande se agenda is ook daarop gemik om handel tussen sy lidlande te bevorder. ’n Mens sal sekerlik in die volgende paar jaar talle nuwe handelsooreenkomste sien, wat na my mening dalk meer voordele as nadele vir Suid-Afrika se landbou kan inhou.
Landbou-organisasies moet volgehoue druk uitoefen sodat Suid-Afrikaanse landbouprodukte toegang kan kry tot die Chinese mark as deel van die regstelling van die tekort in die handelsbalans.
IMPLIKASIES VIR LANDBOU
China is reeds een van Suid-Afrika se grootse handelsvennote in die nie-landbou-omgewing. Ek meen die invoer van veral masjinerie en tegnologie uit China gaan in die volgende paar jaar baie toeneem. Dit geld baie ander verbruikersprodukte, soos klere en meubels.
Indië is ook ’n belangrike handelsvennoot van Suid-Afrika, maar Suid-Afrika voer baie meer in as wat Indië by hom koop. Die onderhandelinge sal dus daarop klem lê. Die vraag ontstaan dus: Watter landbouprodukte kan Suid-Afrika na Indië uitvoer en waarvoor moet beding word?
Rusland is nie juis ’n handelsvennoot van Suid-Afrika nie. Dit sal interessant wees om te sien watter handelsgeleenthede met Rusland beding kan word. Suid-Afrika voer reeds sitrus, appels, droëvrugte en neute na Rusland uit. Daar is ook reeds invoerders wat die afgelope jaar Russiese landboumasjinerie na Suid-Afrika ingevoer het.
TABEL 2 toon Suid-Afrika se grootste landbou-handelsvennote. Brasilië is reeds die land van wie Suid-Afrika die meeste landbouprodukte invoer, naamlik hoendervleis, suiker, tabak en soms kleiner hoeveelhede sojaprodukte. Brasilië is ’n groot uitvoerland van basiese landboukommoditeite. Met rooivleis en suiker uitgesluit, kan dié land se kommoditeite maklik na Suid-Afrika uitgevoer word. Die markruimte is egter min omdat plaaslike pryse reeds wêreldpryse weerspieël.
Argentinië voorsien hoofsaaklik oliesade, koring en hoendervleis aan Suid-Afrika. Dié land is buite die Brics-groep, terwyl Suid-Afrika ’n vryehandelsooreenkoms met die EU het, wat sekerlik sal verander as Brittanje uit die EU tree.