Voorwaarts om te stry
Nou een Sondag, ná ek my eie dominee se preek misgeloop het, kon ek darem na ’n boodskap oor die lug luister. Dit was ’n goeie, praktiese boodskap oor die wedloop van die lewe.
Die luisteraars kon opnuut luister na wat dit beteken rakende besluitneming, oefening, volharding en doelgerigtheid.
By al die gepaste dinge wat die prediker gesê het, was daar tog ietsie wat teenspraak verdien, as ek my dit mag veroorloof. Hy het die stelling gemaak dat die wedloop waaraan ons deelneem, nie op die oorwinning afstuur nie, maar wel uit die oorwinning geskied. ’n Mens sou hiermee hartlik kan saamstaan, mits dit so verstaan word dat die terme “uit” en “op” nie teenoor mekaar staan nie, maar mekaar aanvul. Ons hardloop inderdaad vir die oorlewing wat Christus klaar vir ons behaal het. Dis klaar en afgehandel, maar dit beteken nie dat ons nou ook klaar is met die wedloop nie.
In ’n sekere sin is dit maar die begin van ’n stryd wat vir ons voorlê. Nou word dit ’n wedloop saam met Christus tot elke volgende oorwinning. Paulus skryf soos volg aan die Romeine: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Christus wat ons lief gehad het” (Rom. 8: 37).
Dink aan ’n jong man wat besluit het om by die militêre korps aan te sluit. Sy daad eindig nie by die besluit nie, maar moet opgevolg word deur voorbereiding, oefening en dissipline. Hy gaan immers ’n stryd tegemoet wat hom lei van oorwinning na oorwinning.
Die lewe word dikwels lam gelê omdat voornemens en besluite nie deur dade opgevolg word nie. Die bekende Christelike strydlied het hier vir ons ’n boodskap: “Voorwaarts, Christenstryders, voorwaarts om te stry.”
Dié woorde gee perspektief aan die betekenis van die opdrag — uit die oorwinning na die oorwinning.