Is diereregte-organisasies die nuwe jakkals?
’n Diereregtegroep het in Mei vanjaar ’n video versprei wat dieremishandeling in die bokhaarbedryf uitbeeld. Die impak op die bedryf sal eers volgende jaar bereken kan word. Dit is ’n duur les – en ’n Oos-Kaapse bokhaarboer neem die situasie in oënskou.
Die veebedryf kan waarskynlik by die wildbedryf leer hoe om die aanslae van die radikale diereregte beweging te hanteer. Mnr. Ron Thomson, skrywer en bekende in bewaringskringe, reken diereregte-organisasies is reeds die grootste enkele bedreiging vir die voortbestaan van Afrika se wildbedryf – en kan gaandeweg veld wen in hul veldtog teen die gebruik van plaasdiere en dierevesels.
Dié bedreiging kruip voort, ten spyte daarvan dat dit vir die meeste mense belaglik klink dat diere dieselfde regte het as mense of dat mense nie die getalle van natuurlike bevolkings mag beheer nie, of dit nou die habitat of ander diere benadeel of nie.
“Tot dusver kon die organisasies nie daarin slaag om die bestuur van wild in Suid-Afrika te oorheers soos hulle al in die noorde doen nie. Maar hulle het al ’n groot impak gemaak op die uitdun van olifante, asook met die ‘bewaring’ van robbe – en die gepaardgaande afname in die getal pikkewyne,” sê hy.
Thomson waarsku dat indien diereregte-organisasies nie gekeer word nie, kan Suid-Afrika se nasionale parke woestyne word, met ’n gepaardgaande verlies aan diersoorte. As hulle hul sin kry, sal plase net groente, grane en vrugte mag verbou.
Hoe benader ’n mens dus die bedreiging van onder meer People for the Ethical Treatment of Animals (Peta), The Humane Society of the United States, The Farm Sanctuary en In Defence of Animals?
“As ’n diereregtegroep dit reeds reggekry het om in te meng met die produksielyn van ’n diereproduk deur verskaffers of winkels af te raai om dit te verkoop, moet jy natuurlik
dié instellings probeer oorreed om hul siening te heroorweeg,” sê Thomson.
Die nieregeringsor ganisasie True Green Alliance (TGA), wat in 2016 gestig is as ’n teenvoeter vir diereregte-organisasies, kan daarmee help, meen hy. Die TGA se hoofdoel is om die publiek beter in te lig en om as ’n verenigde front teen die diereregtemense op te tree. “Dié ouens het baie geld, is genadeloos en ’n mens ignoreer hulle op eie risiko.”
VERSTAAN HOE HULLE WERK
Tensy ’n mens verstaan hoe die diereregte-organisasies te werk gaan, kan jy maklik goeie geld agter slegte geld aangooi as jy hulle sommer net takel. Dié groepe snuffel gou kwesbare teikens uit – en hulle weet hoe om propaganda te maak en te versprei. Hul geldinsameling strategie is daarop gegrond om hoogs emosionele en omstrede veldtogte van stapel te stuur – en hulle ontken ook nie dat hulle skoktaktiek gebruik nie.
Volgens Thomson is die Britse olifantdebakel, wat eintlik ’n eenvoudige dieresorggeval moes wees, deur Peta misbruik om miljoene rande deur die internet in te samel. Min van dié geld het ooit Suid-Afrika toe gekom om olifante te bewaar.
“Die diereregte-aanslag begin met ’n onskuldige versoek dat die mensdom die regte van diere moet erken. Daarna raak hulle driftig oor die doodmaak van diere. Uiteindelik sweep hulle ook verbruikers op deur fopnuus en ander onderduimse metodes deur mense af te raai om diereprodukte te koop.”
Organisasies, soos Peta, is bekend daarvoor dat hulle mense betaal om selfs skape wat geskeer word, te treiter terwyl daar in die geheim ’n video gemaak word van hoe “hardhandig” die diere behandel word.
“Nóg ’n probleem – en ek het onlangs gaan kyk na die geblikte leeujagbedryf in Suid-Afrika – is dat dit glad nie so erg is as wat dit voorgestel word nie. Die meeste slegte publisiteit kom regstreeks van ons eie nie regeringsorganisasies. Jy weet dus nooit met wie jy werk nie.”
Thomson sê die groepe het ook al byna al die groot internasionale wild-en natuur organisasies, soos die konvensie oorhand el in bedreigde diere (Cites), die internasionale natuurbewaring s organisasie( IUCN) en die Wêreld natuur fonds binnegedring en gekorrumpeer. “Die heeltydse werknemers van die diereregte-organisasies het dalk hul loopbane begin met opregte, hoewel misplaaste gevoelens oor diere se regte, maar dikwels word hulle net deel van ’n strategie om geld in te samel deur die verspreiding van leuens en halwe waarhede,” sê hy. Ander doen die werk net vir eie gewin.
“Uiteindelik is ál manier om die oorlog te wen om die publiek heelhartig aan ons kant te kry. Gelukkig is die grootste deel van die bevolking nog apaties teenoor diereregte-organisasies. Dit is mense wat nie baie tyd daaraan wy om oor die lot van diere of die natuur te filosofeer nie.
“Ons het nog tyd om die dierereg tegroepe te marginaliseer. Hulle moet uit enige debat gehou word omdat hul bydraes net afbrekend is. Hulle is beroep s pretbederwers ,” sê Thomson.
DIE GEVAAR VIR BOERE
As ’n mens mooi daaraan dink, het kleinvee boerdery, veral in die ekstensiewe streke, oor die afgelope 50 jaar maar min verander. Dit is veral wat die hantering, dip en skeer van diere betref. En dit is juis dié aspekte wat in die kollig is en deur diereregte-organisasies aan die groot klok gehang word. Dit het onlangs geblyk uit die omstrede video oor die bokhaarbedryf. Die reaksie kom ten spyte daarvan dat die bokhaarbedryf al ’n goed deurdagte produksiekode op skrif het.
Die gebeure behoort eintlik nie ’n verrassing te wees nie, want kettingwinkels wat die koopgewoontes van hul klante beïnvloed met reklame vir sogenoemde volhoubare boerdery, het jare gelede al tekens uitgestuur dat dit die rigting is waarin boere sal moet beweeg.
Hulle moes dalk ook gevra het of sulke tipes boerdery altyd finansieel volhoubaar is. Dít kan ’n groot faktor wees in ’n droogte of te midde van lae markpryse. Dit lyk egter nie of daar enige simpatie vir boere is nie; hulle sal moet aanpas en die mark gee wat dit vra, ongeag die probleme wat dit kan inhou.
Volgens mnr. Arthur Rudman, sybokboer en jagondernemer van Blaauwkrantz Safaris, Uitenhage, in die Oos-Kaap, het die jagbedryf al geleer om nie diereregte-organisasies te konfronteer nie, want dit is presies wat hulle wil hê. “Hulle verdraai in elk geval enige argument.” ’n Mens moet ook die ultra-groenes se kommentaar op sosiale media probeer ignoreer, sê hy.
“Dit is beter om gereeld en op ’n verstandige manier met die eindverbruikers te kommunikeer en ons boerderymetodes te verduidelik, met die klem op die goeie hoedanighede van ons produkte of voordele van ons optrede. Die groenes buit eenvoudig die onkunde van die algemene publiek uit.
“Wat die onlangse opportunistiese aanslag op bokhaar betref, sal ek ’n professionele mens, wat bokhaarboerdery op grondvlak goed verstaan, aanstel om kopers en tekstielagente in te lig oor die werklike situasie. Onthou, 5% van enige produksielyn loop soms verkeerd weens menslike foute, die weer, siektes of ander probleme buite die boer se beheer,” sê Rudman.
“Pleks daarvan om te oorreageer op eise van sekere eindverbruikers en boere te polisieer, moet die bokhaarbedryf boere vra om ’n ooreenkoms te onderteken dat hulle wél volgens sekere riglyne boer. ’n Mens wil dit nie so moeilik maak – veral vir die kleiner boere – dat hulle hul passie vir die Angorabok verloor nie.
“Toesig in die skeerhuis is die belangrike ding; die boere is nie die probleem nie.”
PAK DIE TOEKOMS SÓ AAN
Die toekoms kan nie geïgnoreer word nie: Dit lê in deursigtigheid en die naspeurbaarheid van alle plaasprodukte. Tegnologie maak dit moontlik om elke produk – ongeag waar dit gelewer word – op rekord te plaas.
Dieselfde tegnologie kan gebruik word om plaasprodukte – veral in die lig van dieresorg en habitatgebruik – in ’n gunstige lig te stel en te bemark. ’n Mens kry egter steeds boere wat sê niemand gaan vir hulle voorsê wat hulle op hul plase mag doen of nie.
Nuwe probleme bied dikwels nuwe geleenthede. Dit maak dalk nou meer as ooit tevore sin vir enersdenkende boere om saam te staan en hul skeersels onder ’n handelsnaam te verkoop. Wol en bokhaar is mos lankal nie meer kommoditeite nie, maar nisprodukte.
Soms is net ’n effense verstelling of kopskuif nodig om aan die strenger wordende vereistes oor dieresorg en habitat te voldoen.
Dit is net jammer die doelpale verskuif voortdurend. Terwyl stedelike verbruikers ál meer vervreem geword het van boerdery en die natuurlewe in die algemeen, bedink die ultragroenes gereeld nuwe redes om veeboerdery te saboteer. Selfs die gedagte dat wol ’n lae koolstofspoor het, word nou ernstig deur hulle bevraagteken.
‘Die diereregte-aanslag begin met ’n onskuldige versoek dat die mensdom die regte van diere moet erken.’