Bek-en-klou kan álle landbou-uitvoer sink
DIERESIEKTES is ’n groot bedreiging vir Suid-Afrika se rooivleisbedryf en die hordes mense en diere wat daagliks die land se grense oorsteek, is ’n groot bron van kommer.
Bek-en-klouseer is verreweg die grootste risiko, sê mnr. Koos van der Ryst, nasionale voorsitter van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO). Hy het op die RPO se kongres in Limpopo gewaarsku dit kan Suid-Afrika omtrent R6 miljard kos as die land sy bek-en-klouseervrye status verloor.
Mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die RPO, het gesê Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye sone word reeds nie deur die Europese Unie (EU) erken nie, want die prosedures wat deur die EU vereis word, bestaan nie.
“Dit is ’n klein, tegniese verstelling wat gemaak moet word ten opsigte van die diere se oorplaatjies en die elektroniese datastelsel, maar ons as boere sal dit moet laat gebeur, want niemand gaan dit vir ons doen nie.”
Dr. Jacob Modumo, direkteur vir sake-ontwikkeling by Onderstepoort Biologiese Produkte, het boere aangeraai om alle moontlike voorsorgmaatreëls te tref om hul diere gesond te hou.
“Onthou, siektes ken geen grense nie en ’n uitbreking op enige plek is ’n bedreiging vir jou boerdery. Beskou ’n uitbreking in ’n buurland as ’n uitbreking op jou buurplaas en tref dadelik al die nodige voorsorgmaatreëls.”
GEEN HEININGS
Kol. Paul van der Merwe, direkteur van dieregesondheid in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, het gesê daar is nie meer heinings op dele van Suid-Afrika se noordelike grens nie. Hy waarsku dat die voortdurende uitbreiding van die Krugerwildtuin verdere risiko’s vir die land se bek-en-klouseervrye status inhou.
“Onthou, as Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status verloor, is daar ’n totale handelsverbod op Suid-Afrikaanse landbouprodukte, nie net vleis nie,” het Van der Merwe gesê. “Dit sal die streek se vrugte-uitvoer tot stilstand bring.”
Vir vrugteboere is daar ook ander bedreigings oor die land se grense heen. Met 400 000 vragmotors wat elke jaar deur die Beitbrug-grenspos ry, byna 20 miljoen internasionale passasiers wat per jaar by Suid-Afrika se lughawens kom en gaan, asook skeepsvervoer en beweging deur ander grensposte, is dit geen wonder nie dat die Departement van Landbou mense op die plek wil beboet as hulle die grens oorsteek met plantof dierprodukte in hul bagasie.
PLANTE
Mnr. Jan-Hendrik Venter, bestuurder van vroeë waarskuwingstelsels vir plantgesondheid by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het gesê ’n mens mag nie eens ’n piesang in jou padkos oor die grens bring as jy terugkeer van jou Mosambiekse vakansie nie, want die risiko bestaan dat jy ’n nuwe plantplaag na Suid-Afrika kan inbring. Min reisigers steur hulle egter daaraan. Die departement het derhalwe nou aansoek gedoen om toestemming dat reisigers op die plek beboet mag word as hulle met sulke produkte betrap word.