Botswana en Zambië bied goeie geleenthede
BOTSWANA bied in sekere opsigte gunstiger saketoestande vir boere as Suid-Afrika. Burgers van dié buurland kan eiendom besit en buitelanders kan, ná die registrasie van ’n sake-onderneming, grond op 50 jaar- of 99 jaar-huurpag bekom. Die land bied só sekerheid oor eiendomsreg, in teenstelling met die onsekerheid oor onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika.
Só het mnr. Ray van Rooyen, Afrika-hoof vir die bevordering van landbouverkope by Absa, met die bekendstelling van die bank se lentevooruitskouing vir die landbou gesê.
Wanneer sulke huurpagooreenkomste hersien word, word dit gewoonlik hernieu. Die huurpagte is volgens Van Rooyen baie goedkoop en kan gebruik word om produksielenings te kry.
Huurpagte behels wel voorgeskrewe tydraamwerke waarbinne ontwikkeling en waardetoevoeging moet plaasvind, anders verval die pag. Boere moet in gedagte hou dat ontwikkelingskoste hoog kan wees.
Van Rooyen sê een van die opwindende beoogde ontwikkelings in Botswana is ’n besproeiingskema in die Choberivier, waarvoor Zimbabwe nog sy toestemming moet gee. Dit sal besproeiingswater vir 30 000 ha tot 40 000 ha voorsien.
Botswana se gunstige sakefaktore sluit in ’n prima rentekoers van 6,5%, lae inflasie en ’n belastingkoers van 15% vir maatskappye.
VERBRUIKERSMARK
Van Rooyen sê daar is egter ook belangrike kwessies om in ag te neem, soos dat Botswana se verbruikersmark klein is omdat daar net sowat 2 miljoen inwoners is. Enigeen wat dus daar wil gaan boer, moet na uitvoergeleenthede kyk.
Die grootste deel van Botswana is baie droog en nie geskik vir gewasproduksie nie. In die klein graansektor is 72% van die produksie sorghum en die res mielies en manna.
Sowat 80% van die landbou bestaan uit beesvleisproduksie, met Suid-Afrika en die Europese Unie die belangrikste uitvoerbestemmings. Van Rooyen sê die beesvleisbedryf het nog nie heeltemal van die laaste uitbreking van bek-en-klouseer herstel nie.
Speenkalwers mag nie uitgevoer word nie, hoewel boere daar dit graag wil doen. Verskeie beesboere het daarom hul eie voerkrale begin.
Hy sê boere in Botswana voorsien reeds in die plaaslike vraag na groente en die regering probeer hulle teen invoer beskerm. Die land voer onder meer baie hoendervleis, suiker en suiwelprodukte in. Benewens Botswana stel verskeie Suid-Afrikaanse boere ook in bedrywighede in Zambië belang.
Van Rooyen sê die Zambiese ekonomie gaan in die volgende vyf jaar na verwagting met gemiddeld 5,6% groei. Dit word in ’n groot mate deur die koperbedryf aangedryf.
Die land het slegs sowat 400 kommersiële boere, maar sowat ’n miljoen kleinboere. Baie van die kommersiële boere is voormalige Zimbabwiërs.
Die belangrikste landbousektore is graan, suiker, tabak en katoen.
Weens groot surplusse graan, wat pryse afdruk, is daar groeiende belangstelling om te diversifiseer na onder meer makadamias, sitrus en avokado’s.
’n Nadeel vir die landbou is dat Zambië deur ander lande omring word en dit duur is om uit te voer.
Die land verbou mielies wat nie geneties gemodifiseer is nie. Dit word deur baie Afrika-lande verkies, sê Van Rooyen.
Sojaboonproduksie het drasties gestyg, onder meer danksy die uitbreiding van besproeiing. Van Rooyen sê egter boere baklei onder mekaar oor water en waterregte, want die gebruik van water is nie so goed gereguleer soos in Suid-Afrika nie.