Rekordjaar nie herhaal
Verlede jaar was in alle opsigte ’n rekordjaar vir somersaaiboere. ’n Deurwinterde ekonoom het die belangrikste gewasse en provinsies met ’n vergrootglas ontleed en kyk na die wenners en verloorders.
Verlede jaar het goeie reën in die somersaaigebiede geval en byna elke produk het ’n rekordoes opgelewer. Vanjaar het die reën later gekom en was dit ook minder as verlede jaar. Hoe het dit die prentjie verander? Met oestyd byna afgehandel gee die jongste oesskatting die inligting.
Daar is vanjaar altesaam 135 690 ha minder somergewasse aangeplant as verlede jaar. Die grootste afname in aanplantings is by mielies, naamlik 309 750 ha. Die afname in witmielie-aanplantings beloop 375 000 ha, terwyl geelmielie-aanplantings met 65 250 ha toegeneem het. Sonneblomaan plantings het met 34 250 ha afgeneem en sorghum met 13 550 ha. Baie van die grond wat nie weer met mielies, sonneblomme of sorghum beplant is nie, is nou onder bone, veral sojabone. Aanplantings van sojabone het met 213 250 ha gestyg en dié van droëbone met 8 310 ha. Aanplantings van grondbone het met net 300 ha toegeneem.
MIELIES: SÓ WORD VERWAGTE OES GERAAK
Die meeste mielies word in die Vrystaat verbou en aanplantings daar het met 106 000 ha (9%) gedaal. Wit mielies het met 161 000 ha (-20%) gedaal tot 644 000 ha, terwyl geel mielies met 55 000 ha (6,6%) toegeneem het tot 410 000 ha.
In Noordwes het aanplantings met 150 000 ha (24%) gedaal. Die daling was alles by wit mielies en die oppervlakte onder wit mielies staan dus nou op 370 000 ha. Die syfer vir geel mielies het onveranderd gebly op 110 000 ha.
In Mpumalanga het witmielie-aanplantings met 20 000 ha (-12,5%) afgeneem tot 140 000 ha, maar geel mielies het met 10 000 ha toegeneem tot 340 000 ha.
In die ander provinsies is altesaam 44 000 ha minder wit mielies aangeplant. Die syfer vir geel mielies is feitlik onveranderd. Sien GRAFIEK 1 vir oppervlaktes onder mielies.
Die verwagte witmielie-oes het met 3,036 miljoen ton gedaal van 9,916 miljoen ton verlede jaar tot ’n verwagte 6,88 miljoen ton vanjaar. Dit is ’n afname van 30,6%.
Die grootste dalings was in die Vrystaat (1,57 miljoen ton; 30,7%) en Noordwes (860 000 ton; 33%). Geel mielies het met 8,4% gedaal van 6,904 miljoen ton verlede jaar tot 6,327 miljoen ton vanjaar. Die grootste daling was in Mpumalanga, met 235 000 ton (10%).
Die kleiner oes is nie net toe te skryf aan minder aanplantings nie, maar ook aan ’n swakker opbrengs.
Die opbrengs van wit mielies het gedaal van 6 ton/ha tot 5,2 ton/ha en dié van geel mielies van 7 ton/ha tot 5,9 ton/ha.
Hoewel die verwagte mielie-oes aansienlik kleiner is as verlede jaar, is dit steeds ’n baie goeie oes. Plaaslike verbruik word op sowat 10 miljoen ton geraam, wat beteken daar sal steeds genoeg vir plaaslike verbruik wees.
SONNEBLOMME REDELIK STABIEL
Die totale oppervlakte onder sonneblomme het met 5,3% afgeneem van 636 000 ha verlede seisoen tot 602 000 ha dié seisoen. Die grootste afname was in Limpopo, waar die aangeplante oppervlakte gehalveer het van
90 000 ha tot 45 000 ha.
Daar was ’n kleiner afname in die Vrystaat (5%), van 330 000 ha tot 314 000 ha.
’n Toename in Noordwes stuit die dalings effens. Aanplantings daar het van 210 000 ha tot 233 000 ha (11%) gestyg.
Aanplantings in die ander provinsies het ook toegeneem van 6 000 ha tot 10 000 ha. Vir ’n volledige prentjie, sien GRAFIEK 2 .
Na verwagting sal die totale oes met sowat 82 000 ton afneem van 874 000 ton tot 792 000 ton, dus ’n afname van 9%.
In Limpopo het die oes van 86 000 ton tot 36 000 ton gedaal – dus met meer as die helfte (58%). Die Vrystaat se verwagte oes beloop 455 300 ton, wat neerkom op ’n afname van 22 700 ton (4,7%). In Noordwes is die verwagte oes 291 000 ton, ’n afname van 13 250 ton (4,4%). Die opbrengs is byna onveranderd teen ongeveer 1,4 ton/hektaar.
Verlede jaar was verbruik net meer as 800 000 ton, wat beteken produksie sal vanjaar effens tekort skiet.
OORGENOEG SOJABONE, MAAR OPBRENGS ONDER DRUK
Baie van die hektare wat nie dié seisoen met mielies of sonneblomme beplant is nie, is vir sojabone aangewend. Die oppervlakte onder sojabone het met 37% toegeneem van 574 000 ha verlede seisoen tot 787 000 ha vanjaar.
In die Vrystaat het aanplantings met 43,8% toegeneem van 240 000 ha verlede seisoen tot vanjaar se 345 000 ha. Die ander provinsie met groot soja-aanplantings is Mpumalanga. Daar het die oppervlakte met 28,6% toegeneem van 241 000 ha verlede jaar tot 310 000 ha vanjaar.
Aanplantings in ander provinsies het gesamentlik met byna 42% toegeneem van 93 000 ha tot 132 000 ha. Die grootste toename in aanplantings in die ander provinsies was in Noordwes (13 000 ha), Limpopo (12 000 ha) en KwaZulu-Natal (10 000 ha).
Die verwagte oes het egter weens die swakker klimaatstoestande nie in dieselfde mate as die aangeplante oppervlakte gestyg nie. Die verwagte oes het met 17,9% gestyg van 1,316 miljoen ton verlede jaar tot 1,551 miljoen ton vanjaar. In die Vrystaat is die styging 9,5% tot 552 000 ton en in Mpumalanga 23% tot 682 000 ton. Die verwagte opbrengs het gedaal van 2,3 ton/ha tot 1,97 ton/ha. Soja word meestal in die oostelike gebiede van Suid-Afrika verbou, wat vanjaar ’n droër seisoen beleef het.
Plaaslike verbruik was verlede jaar net meer as 1 miljoen ton, wat beteken die huidige oes sal in meer as die plaaslike behoeftes kan voorsien.
ANDER PRODUKTE
Die ander produkte bestaan hoofsaaklik
uit grondbone, sorghum en droëbone. Grondbone. Die oppervlakte wat vanjaar met grondbone beplant is, is dieselfde as verlede jaar, naamlik 56 000 ha. Die verwagte oes is egter 34% kleiner. Dit het van 92 000 ton verlede jaar gedaal tot 60 600 ton vanjaar. Die opbrengs het van 1,6 ton/ha tot 1,1 ton/ha verswak.
Noordwes is die provinsie waar die meeste grondbone verbou word. Die aangeplante oppervlakte daar het effens toegeneem van 27 000 ha tot 28 000 ha. Die oes het egter van 39 000 ton tot 22 000 ton gekrimp.
Die Vrystaat is die provinsie waar die naasmeeste grondbone aangeplant is. Die aangeplante oppervlakte het nie verander nie en bly op 22 000 ha. Die oes het egter kwaai gedaal van 34 000 ton tot 24 000 ton (met 29,8%).
Sowat 60 000 ton grondbone word jaarliks verwerk en die res word uitgevoer.
Sorghum. Sorghum produsente het aansienlik minder as verlede seisoen aangeplant. Die oppervlakte het met 32% gedaal van 42 000 ha verlede jaar tot slegs 29 000 ha vanjaar. Daarmee saam het die verwagte oes van 152 000 ton tot 83 000 ton gekrimp. Dit is ’n daling van meer as 45%.
Sorghum word redelik wyd verbou en in die meeste provinsies was daar ’n daling. Die uitsondering is Noordwes, waar die beplante oppervlakte toegeneem het van 3 500 ha verlede jaar tot 8 000 ha vanjaar. Die oesverwagting in die provinsie het ook van verlede jaar se 10 600 ton tot 16 800 ton gestyg.
In Mpumalanga het die oppervlakte afgeneem van 12 000 ha verlede jaar tot 7 500 ha vanjaar. Die oes het met bykans die helfte van 62 000 ton tot 36 000 ton gedaal. Die daling in oppervlakte in die Vrystaat is gering; van 7 700 ha verlede jaar tot 6 300 ha vanjaar. Ook die oes
het min gedaal – van 24 600 ton tot 18 300 ton.
In Limpopo was die daling groot. Die beplante oppervlakte het afgeneem van 18 000 ha verlede jaar tot slegs 5 000 ha vanjaar en die oes het afgeneem van 50 000 ton verlede jaar tot slegs 6 000 ton vanjaar.
Binnelandse verbruik was verlede jaar 163 000 ton. Die kwaai daling in produksie sal dus lei tot ’n tekort.
Droëbone. Nes by sojabone het die aangeplante oppervlakte onder droëbone toegeneem. Die oppervlakte het van 45 000 ha tot 53 000 ha gestyg; dit is 17,8%. Die oes het egter effens afgeneem van 68 000 ton tot 65 000 ton. Byna die helfte van die aangeplante hektare is in die Vrystaat. In dié provinsie het die aanplantings toegeneem van 20 000 ha verlede jaar tot 26 000 ha vanjaar. Die verwagte oes is egter 10% minder as verlede jaar, met die jongste skatting op 28 600 ton.
In ander provinsies het die aangeplante oppervlaktes ook toegeneem: In Noordwes van 5 500 ha tot 8 000 ha; in Mpumalanga van 5 500 ha tot 7 000 ha, en in Limpopo van 7 000 ha tot 7 500 ha. In twee provinsies het die verwagte oes toegeneem: In Noordwes het dit van 5 500 ton tot 9 600 ton gestyg en in Mpumalanga van 8 500 ton tot 9 800 ton. In Limpopo het dit egter afgeneem van 12 900 ton tot 11 000 ton.
Verbruik het heelwat gewissel, maar verlede jaar is 127 000 ton plaaslik verbruik. Daar is 59 000 ton ingevoer en ’n klein hoeveelheid uitgevoer.