VRAE OOR TOENAME IN SKAAPVOERKRALE
Die berig “Wes-Kaap belê groot in skaapboerdery” (LBW, 6 Julie 2018), asook die artikel “Só lyk die landbou in die Wes-Kaap” (LBW ,3Augustus 2018) het betrekking.
As iemand wat al meer as 40 jaar lank in verskeie hoedanighede in die veebedryf betrokke is, betwyfel ek die aannames wat gemaak is rakende die toename (+86%) in skaapvoerkrale in die Wes-Kaap en dat dit ’n heel nuwe verskuiwing is.
Nie-amptelik word die aanname gebruik dat sowat 60% van die kleinvee in die Wes-Kaap in die Overberg en Suid-Kaap aangehou word (daar is gewoonlik voerreserwes); sowat 22% in die Swartland (voerreserwes), Weskus en Namakwaland; en sowat 18% in die Sentraal-Karoo.
Die Wes-Kaap het ook sowat 5% van die nasionale beeskudde en slag jaarliks sowat 5,2% van die beeste wat landwyd geslag word. Die Wes-Kaap moet dus jaarliks heelwat karkasse van ander provinsies inbring om in sy beesvleisbehoeftes te voorsien.
Wat skape betref, het die Wes-Kaap sowat 10% van die nasionale kudde, maar 21% van die skape wat landwyd geslag word, word in dié provinsie geslag. Heelwat slagskape kom die provinsie dus van ander provinsies binne en word ná slag weer as karkasse na ander provinsie “uitgevoer “.
Eerstens wil ek weet wat as die grondslag of definisie gebruik is om te bepaal wat volgens hierdie lugopnames ’n “voerkraal” is. Na my wete is baie min opvolgbesoeke aan plase gebring om syfers en geriewe te verifieer om hierdie stelling van 86% groei in skaapvoerkrale te maak.
DROOGTE SPEEL ROL
Ons moet onthou dat feitlik die hele Wes-Kaap in die tyd waarin die opnames gedoen is (20132017) in die grootste droogte in die geskiedenis vasgevang was. Slegs 2014 was ’n “normale” jaar. Veeboere moes dus noodgedwonge hul veeboerderystelsels aanpas en dus hul diere voer of verkoop.
Baie van hulle wat nie voerreserwes of kapitaal gehad het om voer aan te koop nie, het stadig maar seker begin om hul kuddes te verklein deur vroeër van diere ontslae te raak – eerstens van alle oortollige speenlammers deur dit aan voerkrale te lewer en daarna deur van die ouer ooie minder te maak.
Die voerkrale waarheen hierdie lammers gegaan het (oor die hele land) was almal meestal bestaande voerkrale (voor 2013 opgerig) net langs of baie naby aan bestaande skaapabattoirs. Feitlik ál die vernaamste skaapabattoirs in Suid-Afrika het vandag hul eie skaapvoerkrale (om verskeie redes) of gebruik die geriewe van ander bestaande kontrakvoerders. Van hierdie krale het wel hul vermoë vergroot in die tydperk waarin die opname gedoen is en van hulle koop ook stoorlammers van buite die Wes-Kaap aan.
Die ooie wat oorgebly het op die plase waar daar baie min of geen voerreserwes was, is in klein kampies om die plaasopstal gevoer en versorg. Hulle het in baie gevalle namate die seisoene aangeloop het, ook sommer in daardie kampies gelam. Die proses het homself dan weer herhaal. Vanuit die lug en op grond van foto’s kon dit dalk as ’n “voerkraal” gesien word.
Op plase waar daar wel voerreserwes was, asook kapitaal om voer aan te koop, het boere ook tydens die droogte (opnametydperk) begin om op ’n meer intensiewe grondslag hul diere (ooie en lammers) in klein kampies of “krale” kos te gee, die lammers af te rond en dan te bemark, met die ooie wat, soos hierbo, in die voergeriewe agtergebly het. Ook in hierdie geval kon lugopnames dit dalk as “voerkrale” geidentifiseer het.
Die derde geval, wat wel al hoe meer voorkom, is intensiewe lamhokstelsels waar ooie tydens lamtyd in lamhokke lam (in sommige gevalle hoogs moderne onderdakgeriewe, soos waaroor LBW al verskeie artikels gedoen het) en vir ’n paar dae daar bly. Hulle word dan in klein kampies uitgelaat. Sodra die lammers sterk genoeg is en weiding op lande of in die veld beskikbaar is, word hulle soontoe verskuif. Ook dié geriewe kan uit die lug