Boereplan:
Badkamerskaal weeg nou skape
Hy prop sy veeskaal die afgelope sewe maande sommer so “onder die blad” in om die skape in die veld te gaan weeg.
Só sê mnr. Hendrik Auret, die derde geslag wat op die plaas Aigab in die distrik Kamieskroon woon. “Ek boer met Dorperskape en plant hawer vir weiding. My vrou, Sandra, hou skool in die kommunale gebied Spoegrivier, wat aan ons plasie grens.”
Aangesien sy boerdery baie klein is, kan hy nie altyd die kapitaaluitgawe regverdig om duur toerusting aan te koop nie. “Dit is ’n geval van nood leer bid. Ek moet self inspring om die nodige werktuie en gebruikstoerusting te maak. Dit sluit onder meer dinge in, soos ’n bossie-uittrekker, ’n elektriese graansif, ’n elektriese turksvykerwer, ’n damskrop, ’n skraper, ’n hyskraan en ’n hidroponiese voermaker.”
Hendrik het baie nut vir hierdie elektroniese skaal. Benewens die feit dat hy sy skape daarmee weeg, is dit ook ’n akkurate toestel om voer en saad mee te weeg.
Die sowat R350 wat hy aan dié projek bestee het, is minder as 20% van die sowat R2 000 wat ’n soortgelyke skaal in die handel kan kos.
Die grondslag van sy uitvindsel is ’n elektroniese badkamerskaal wat teen sowat R150 elk vrylik in die handel beskikbaar is. Hy het ook ’n weegkrat gemaak wat op die skaal pas waarin hy die skape afsonderlik weeg.
Die totale koste sluit die skaal, staal vir ’n raamwerk, huishoudelike elektriese koord met drie geleiers, ’n elektriese skakelaar en ’n weegblad van stewige hout in.
Die skaal kan ’n gewig van tot 150 kg dra. Dit kan tot nul gekalibreer word as die weegkrat daarop geplaas word.
Hoewel Hendrik betreklik bedrewe is wanneer dit by elektrisiteit kom, sê hy selfdoeners wat sy plan volg, hoef nie oor kennis van elektronika te beskik nie. Die skaal se bestaande bedrading moet net goed gemerk word om verwarring te voorkom. “Met die skaal uitmekaar gehaal, is dit taamlik voor die hand liggend.”
Volg die onderstaande stappe om self ’n veeskaal te bou: Stap 1. Die skaal het ’n plastiekvoetstuk wat met kleefband op die hoeke aan die glas-weegoppervlak geheg is. Gebruik ’n matmes met ’n dun lem om die glas versigtig van die plastiek los te sny. Op FOTO 1 kan die gekoopte skaal gesien word waarvan die glasblad al verwyder is. Vir die bou van die plaasskaal is die skaal aan die onderkant van die foto van belang. Stap 2. Merk ál die elektriese drade wat na die weegsensors op die hoeke gaan en knip die drade met genoeg speling in die lengte af. Dié drade sal later verleng word om die weegskerm en die sensors te verbind. Indien dit te kort afgeknip is, kan dit die las en isolering van die drade bemoeilik. Stap 3. Saag die plastiekvoetstuk met ’n ystersaag om die vier sensors in hul voetstukke te skei van die module vir die skerm en die batteryhouer. Op FOTO 2 is die vier hoeke en die module geskei. Stap 4. Maak ’n staalraamwerk waarop die sensors met hul voetstukke stewig gemonteer kan word. Hendrik het masjienskroefies daarvoor gebruik. FOTO 3 toon dié hegting.
Die raam in sy geheel is op FOTO 4 te sien. Op hierdie foto
is die skakelaar reeds by die een batterydraad ingelas.
Stap 5. Gebruik ’n houer wat as vertoonskerm kan dien en sny ’n opening daarin wat net groot genoeg is sodat die elektoniese lesing daardeur gesien kan word. Hendrik het sommer ’n 2 liter-plastiekbak met ’n digsluitende deksel daarvoor gebruik. Boor gate deur die houer sodat die drade daardeur gevoer kan word ( FOTO 5 ).
Stap 6. Koppel die drade weer aan die sensors en lesingsmodule. Die vier sensors het elkeen drie drade. Hendrik gebruik huishoudelike elektriese koord om die drade mee te verleng, en hou by die oorspronklike bedradingsplan. Om die proses te vergemaklik moet alle kabels uit die staanspoor goed gemerk wees.
Stap 7. Die lesingskerm-gedeelte huisves die battery, wat met twee drade aan die elektroniese bord gekoppel is. Knip een van die drade van die battery af en koppel ’n elektriese skakelaar daaraan. Die skakelaar (sien FOTO 5 ) is nodig om die skaal na nul toe te kan kalibreer.
Stap 8. Maak ’n gepaste weegblad wat op die vier sensors rus. Hendrik het sy blad van stewige plank gemaak. Jy kan ook ’n weeghokkie maak wat op die weegblad pas. Net voor die skaal gebruik word, word die skakelaar gesluit. Wag dat die lesing na nul toe kalibreer, waarna jy jou diere of voer kan weeg.
In Hendrik se geval is die gewig van die weegkrat 35 kg. Wanneer die skaal met die 35 kg daarop na nul toe gekalibreer is, kan die skaal ’n gewig van minstens 115 kg (150 kg – 35 kg = 115 kg) dra.