VRUGTEPLAAS SE WERKERS KRY BEHUISINGSKOMPLEKS VAN MILJOENE RAND
DIE Engelse eienaars van ’n vrugteplaas in Simondium het op Donderdag 2 Augustus sleutels aan 30 plaaswerkers en hul gesinne oorhandig wat voortaan ’n moderne landbouwerkers-behuisingskompleks “huis” kan noem.
Die behuisingskompleks ter waarde van R30 miljoen staan bekend as Lumier en is gebou op ’n stuk grond van 3,5 ha wat deur Nieuwe Sion, ’n tafeldruif-, nektarienen sagtesitrusplaas van 70 ha groot, aangeskaf is.
“Dis ’n reusegeleentheid vir ons groep werkers,” het mnr. Paul Morris, ’n werker wat al 30 jaar op die plaas woon, gesê.
Die kompleks bestaan uit 22 twee- en drieslaapkamerhuise, elk van 60 m2 tot 70 m2 groot, en agt anneks-gebou met enkelkwartiere vir afgetrede werkers. Altesaam 140 mense kan in die kompleks woon. Daar is boonop ’n crèche en nasorggeriewe vir werkers se kinders, ’n gemeenskapsentrum en ’n sportveld. Die selfonderhoudende en omgewingsvriendelike uitleg moedig ook ’n sin vir gemeenskap aan.
LANG DIENS BELOON
Dr. David Potter, wat die plaas saam met sy vrou, Elaine, besit en die kompleks ten volle gefinansier het, het die plaaswerkers aangemoedig om Lumier te gebruik “as ’n ruimte om mekaar te ondersteun en op te hef”.
“Die kompleks is ontwerp om die gemeenskap van werkers bymekaar te hou,” het hy gesê. Die Potter-egpaar woon in Engeland.
Morris sê die Potters “het hul harte oopgemaak en ons as plaaswerkers hoog gelig”.
“Ons waardeer regtig die geskenk van ons nuwe huise en ons sal dit mooi oppas.”
Mnr. Fielies du Toit, plaasbestuurder, sê al die plaaswerkers kom in aanmerking vir verblyf in die kompleks. “Ons werkers wat langer as 20 jaar in diens is, kry eiendomsreg. Vir die ander het ons ’n stelsel uitgewerk dat hulle ook met verloop van tyd eiendomsreg sal kry.”
’n Vereniging is gestig sodat al die werknemers kan deelneem aan die kompleks se bestuur.
VERANDER WERKERS SE OMSTANDIGHEDE
Die Potters het hulself destyds voorgeneem om hul werkers beter af te laat as toe hulle die plaas gekoop het. Hulle wou veral graag hul werkers help om toegang tot die eiendomsmark te kry. Nadat hulle by Siza (die volhoubaarheidsinisitief vir Suid-Afrika) aangesluit het, het hulle in 2015 die grond, reg langs Nieuwe Sion, gekoop met die doel om die behuisingskompleks daar te bou.
Du Toit sê die egpaar wou meer doen as bloot goeie lone betaal en ’n veilige en werkervriendelike produksie-omgewing skep.
“Hul uiteindelike doelwit is om die werkers en hul gesinne, veral die kinders, toegang te gee tot die hoofstroom-ekonomie deur hulle te help om minder afhanklik van die plaas te raak vir hul finansiële welstand.”
Mnr. Willem Bestbier, uitvoerende hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf, sê die ontwikkeling is van ’n hoë gehalte en getuig van wat gedoen kan word.