HEUNING AL HOE DUURDER
Die sterk vraag na goeie heuning plaas druk op die aanbod daarvan voor die begin van die lenteproduksietyd in September.
Volgens dr. Arend de Waal, ’n Bloemfonteiner wat hom ná sy aftrede met ’n byeboerdery en heuningproduksie besig hou, het die prys van goeie heuning ook weens die droë winter die hoogte ingeskiet. In die Rosestad kan heuning in die kleinhandel teen R60 tot R70 per 500 ml bekom word, maar in groter metropolitaanse gebiede, soos Pretoria, kos dieselfde hoeveelheid sowat R99.
“Trekswerms in die stad is op soek na ’n ruimte waar die koningin haar saam met haar onderdane kan vestig.”
Die plek waar die bye hulle vestig, is dikwels onaanvaarbaar en hulle moet verwyder word. Wat hom die meeste ontstel, is dat mense bye met gifgas of kookwater (die wreedste manier, sê De Waal) van kant maak. “Daar is hulpmiddels wat gebruik kan word om hulle op ’n beskaafde manier te verwyder.”
Wanneer ’n swerm te groot raak, is dit tyd vir afstigting. Die koningin trek met ’n derde van die swerm na enige geskikte plek om ’n nuwe nes te ontwikkel. Dit is daar waar die konflik met die mens ontstaan.
De Waal gebruik polistireenhouers vir sy byekaste waarin hy die bye hervestig. Hulle kan ook maklik na ander korwe oorgeplaas word deur die nuut gevormde heuningkoeke aan die houtstafies uit te haal.