Steenkool lokaas vir grondeis
MNR. Johan Steenkamp, ’n direkteur van die Akkerland-boerdery, vermoed die dringendheid om die boerdery se grond te bekom, het meer met die steenkool onder die plase te doen as met restitusie of grondhervorming. ’n Onteieningsbevel is reeds uitgereik vir die plase Salaita 188 MT en Lukin 643 in Limpopo.
Steenkamp sê hy staan die geldigheid van die Musekwa-gemeenskap se eis saam met ’n ander eisersgroep, die Mavukas, teë. Laasgenoemde meen glo hulle is die regmatige eisers en het glo hul eie aansoek voor die grondeisehof gebring om die Musekwaeis se geldigheid te betwis. Hulle word verteenwoordig deur mnr. Alpheus Deka van Deka Prokureurs. Hy kon nie bereik word vir kommentaar nie.
Landbouweekblad kon ook nie betyds terugvoering van die bestuurder vir restitusie-ondersteuning by Limpopo se grondeisekommissie kry om te bevestig of daar wél ’n tweede eis op die plase is nie.
Steenkamp meen die Mavukas se eis is nooit eens oorweeg nie en dat die staat se dringendheid om sy grond te bekom, regstreeks verband hou met die steenkoolreserwes onder sy grond.
Die maatskappy Coal of Africa, wat nou as Makhado Colliery bekend staan, het ’n buurplaas glo vier jaar gelede gekoop teen omtrent vyf keer meer per hektaar as wat die Grondeisekommissie Akkerland aangebied het. Steenkamp wou nie die destydse aanbod van Coal of Africa aanvaar nie, want hy het gemeen die myn se voorwaardes stel hom aan onnodige risiko bloot.
“As ek ingestem het om te verkoop, sou hulle aan my ’n 30%-deposito betaal en dan dadelik oordrag van die grond geneem het. Ek sou dus teen 30% van die waarde my grond kwyt gewees het en moes hoop dat die myn nie toemaak of bankrot speel voor ek die res van my geld gekry het nie. Ek is nie ’n bank nie. Ek kan nie myne subsidieer nie,” sê Steenkamp. “Nou wil die staat my onteien.” Hy sê hoewel hy die geldigheid van die eis betwis, is hy steeds bereid om met die staat te onderhandel om sy plaas te verkoop. Hy sê egter die staat wil te min vir sy grond betaal en wys daarop dat die bedrae wat tot op hede in die media aangehaal is, nie akkuraat is nie. “Ek wil net markwaarde vir my grond hê. Dit is die prys per hektaar waarteen plase om myne die afgelope jare verkoop is.”
Hy het hom tot die hof gewend omdat daar in Maart ’n kennisgewing van onteiening op hom bedien is. Hy het sewe dae gehad om ’n dringende aansoek te bring om sy grond te behou. Die enigste raad was om die geldigheid van die eis te betwis, waarna dit na die grondeisehof verwys is.
Totdat die grondeisehof beslis of die Musekwa-eis geldig is of nie, hang die swaard van onteiening oor Steenkamp se kop.