Plaasprys klein deel van winkelprys
Boere mor dikwels oor die prysverskille tussen dié van hul onverwerkte plaasprodukte teenoor die winkelrakprys. Dié twee pryse kan nie regstreeks met mekaar vergelyk word nie, want talle faktore is ter sprake wat die uiteindelike prys in die supermarkte b
Daar is ernstige debatte op byeenkomste van boereverenigings oor die boer se dalende aandeel in die produkprys op die winkelrak. Voorbeelde wat aangehaal word, is dié van vars vleis en melk. Onlangs was daar ook ’n driftige debat oor die koring-invoertarief (wat koringboere moet beskerm) se invloed op die broodprys.
Die jongste debatte gaan oor vars melk. Talle melkboere se pryse het onlangs gedaal. Die melkboer kry sowat R4,50-R5 per liter, maar op die winkelrak kos vars melk enigiets van R12 per liter of meer. Boere wat nou minder vir hul melk kry, sien nie prysdalings op die winkelrak nie. Inteendeel, dit lyk dikwels of die plaas se aandeel in die winkelrakprys ál kleiner word.
Boere haal ook voorbeelde aan van ’n vleissnit wat veel meer op die winkelrak kos as wat die boer vir ’n karkas kry. Die probleem is natuurlik dat dit nie ’n geldige vergelyking is nie, nes ’n mens nie die koringprys op ’n gewigsgrondslag met ’n brood se prys kan vergelyk nie. Daar is baie ander kostefaktore wat buite die plaashek betrokke is.
Uit dié debatte spruit dan baie vrae oor mededinging in die kleinhandel. Dit is ’n feit dat die voedsel-kleinhandelsmark basies deur vier groot supermarkgroepe oorheers word en dat hulle ’n sterk aankoopmag op verskaffers uitoefen. Die kleinhandel is al ’n paar keer deur die mededingingsowerhede ondersoek, maar sonder veel vordering.
Dit is opvallend dat baie ander lande doel- probeer om supermarkte se markaandeel te beperk. Daar is plaaslik ongemak omdat kettingwinkelgroepe nou op groot skaal groot winkels in swart woongebiede oprig. Die pryse in die groot winkels is natuurlik goedkoper as dié van spaza-winkels. Dit veroorsaak dus dat spaza-winkels sluit, wat weer werkloosheid veroorsaak.
Daar is heelwat vleisboere wat lewende diere regstreeks en teen goeie pryse aan handelaars of slagters in swart woongebiede verkoop. Dit geld ook vrugte, groente en eiers. Daar is selfs melkboere wat hul produk in swart woongebiede versprei. Dié mark kom egter onder ál meer druk van supermarkte.
In Amerika en ander lande word heelwat navorsing en moeite deur die betrokke departemente van landbou gedoen om die plaasaandeel in die winkelrakprys by te hou, aangesien dié lande dit as ’n belangrike aanwyser oor die werking van die voedselmark beskou. Die wins van supermarkgroepe word ook gemonitor.
In Suid-Afrika word dié inligting nie meer gepubliseer nie. As ’n mens egter kyk na die mate waarvolgens voedselprodukte plaaslik verwerk word, is daar nie groot verskille ten opsigte van internasionale markte nie.
PLAASLIKE VOORBEELD
GRAFIEK 1 toon die bruto produksiewaarde van die landbou en die waarde van voedselverkope in die kleinhandel vir Suid-Afrika. Dit sluit in- en uitvoer uit. In 2016-’17 het die besteding aan voedsel sowat R628 miljard beloop. Die waarde van landbouproduksie in Suid-Afrika was ongeveer R266 miljard, wat die landbou ’n aandeel van sowat 42% gee. Dit is ’n baie kru maatstaf, maar dit vergelyk goed met Amerikaanse navorsing, waar die plaasaandeel op sowat 20% beraam word.
Natuurlik word baie Amerikaanse voedselprodukte meer verwerk as in die Suid-Afrikaanse mark. In die geval van weg-vandie-huis-af-eet, is die boer se aandeel in restaurantkos in Amerika net sowat 4%.
Daar is ’n magdom kostefaktore wat ná die plaashek bykom. Daarom is dit gevaarlik om die prys van ’n beesvleissnit in ’n restaurant te vergelyk met die boer se karkasprys – daar is min verwantskap tussen die twee.
PLAASAANDEEL IN KOSPRYSE
Die TABEL gee ’n voorbeeld van die plaasaandeel in die winkelrakprys van ’n paar basiese voedselitems in Amerika en die verskille is nogal groot. Onthou, die aandeel in die prys kan ook beïnvloed word deur die mate van verwerking én hoe straf die mededinging op die voedselmark is. Natuurlik kan jy dit nie net so op Suid-Afrika toepas nie, maar ek glo dit gee ’n goeie aanduiding van wat plaaslik die geval is.
GRAFIEK 2 toon die plaasaandeel in die winkelrakprys in Amerika vir vars melk en kaas. Die koste ná die plaashek neig om vinniger te styg en ’n ál groter rol in die winkelrakprys te begin speel. Wat vars produkte betref, is daar byvoorbeeld in studies bevind dat die groot verskil in pryse te make het met die persentasie vars groente en vrugte wat sleg word en nie verkoop kan word nie. Die verliese word dus verhaal in die pryse van produkte wat wél verkoop word. Daar is ook sterk seisoenale neigings.
Die groot denkfout wat in baie debatte gemaak word, is dat die boer se wins op ’n sekere produk deurgetrek word na die boer se aandeel in die winkelrakprys. Dit is egter nie ’n geldige redenasie nie en daar is min bewyse van korrelasie.
Die boer se winsgewendheid word bepaal deur sy produksiekoste en die prys vir sy produk by die plaashek. Daar is min ooreenstembewus