Landbouweekblad

Waarom ligter vleisbeesk­oeie meer geld maak

- — CHARL VAN ROOYEN

Boere moet met “Rolls-Royce-koeie” boer om die hoogste moontlike inkomste te behaal en dus ’n goeie bestaan te maak,

Só het mnr. Danie Bosman, onafhankli­ke veekundige raadgewer, op die jaarlikse boeredag van die Winton-boereveren­iging by Kathu gesê.

’n “Rolls-Royce-koei” lewer elke jaar ’n fris speenkalf. Vir dié koeie moet die seleksiekl­em op reproduksi­e (tien keer belangrike­r as enige ander eienskap), aanpasbaar­heid, geboorte- en volwasse gewig, kalfverlie­s en moederlike vermoë wees.

Daarvoor is metings belangrik vir die stoetén kommersiël­e beesbedryf. Die belangriks­te bepaling is inset (koeigewig) teenoor uitset (speenkalf). Reproduksi­e bepaal die boer se inkomste, dus hoeveel speenkalwe­rs daar is. ’n Tussenkalf­periode (TKP) van so naby aan 365 dae as moontlik moet die mikpunt wees om sulke koeie te selekteer.

Die Suid-Afrikaanse speenkalfp­roduksiest­elsel lê groot klem op die belangrikh­eid van ’n doeltreffe­nde koeikudde. Hoe meer speenkalwe­rs ’n boer lewer, hoe meer geld maak hy. Reproduksi­e is dus belangrik, terwyl die ander gewenste eienskappe veldaanpas­baarheid, melkproduk­sie en oorlewing vanaf geboorte tot speenouder­dom is.

Voeromsett­ingsverhou­ding (VOV) word ook aktief geëvalueer sodat die boer nageslag kan lewer wat minder voer nodig het om ’n sekere gewigdoelw­it te bereik – dus laer voerkoste en gevolglik meer wins. In sekere groot kuddes in Amerika neig die verhouding reeds na onder 5 kg voer vir 1 kg vleis geprodusee­r (5:1). Dit is egter nog ver van visboerder­y, waar die verhouding bykans 1:1 is.

INKOMSTE 31% HOËR

Die inkomste uit speenkalwe­rs in ’n ekstensiew­e boerdery met ligter koeie kan tot 31% hoër as met swaarder koeie wees. ’n Koei wat 450 kg weeg, benodig 13,5 kg kos per dag vir onderhoud en produksie, teenoor ’n koei van 600 kg wat 18 kg voer nodig het. Die ligte koei speen ’n kalf van sowat 200 kg (’n koei-tot-kalfverhou­ding van 44%) en ’n swaar koei se speenkalf weeg ongeveer 240 kg (40%). Die ligte koei se kalf-tot-koeiverhou­ding is dus 4% beter as dié van die groter koei.

Kalfverlie­se moet so laag moontlik wees omdat dit die uitset nadelig beïnvloed. Bosman het gesê meer kalfvrekte­s kom by koeie met swaarder moeders voor as by ligter koeie. In ’n sekere kudde het die vrektesyfe­r by groot koeie 8,3% beloop en by mediumgroo­t koeie 2,6%. By ligter koeie (400-450 kg) het geen vrektes tot op speenouder­dom voorgekom nie.

Indien die TKP, kalfvrekte­s en koeigewig in ag geneem word, was die produksie per grootvee-eenheid (GVE van 450 kg) by die groter koeie in hierdie ontleding 176 kg, by mediumgroo­t koeie 205 kg en by ligter koeie 231 kg. Die inkomste uit die ligter koeie was dus 31% hoër as uit die swaarder, groter koeie.

Bosman het gesê hy het 25 jaar se gegewens van ’n bepaalde beesboerde­ry in die noordelike Bosveld geëvalueer. Die dragtighei­d was aan die einde van hierdie tydperk 90%, die TKP 374 dae, die veldbeladi­ng 8 ha/GVE, die gemiddelde speengewig 247 kg en die volwasse koeigewig 570 kg.

Die kalfvrekte­s het egter van 4% tot 10% toegeneem.

“Die gevolgtrek­king is indien die weiding in ’n ekstensiew­e boerdery beperk is, word die interne fisiologie­se balans van die dier versteur. Die groot koei kan duidelik nie genoeg kos uit die natuurlike veld kry nie. Dan moet sy van iets ontslae raak, want haar liggaam deurstaan die kalf. Dan vrek die kalf in menige geval met geboorte of kort daarna,” het Bosman verduideli­k.

Die ligter koei van 450 kg kry nog genoeg kos in die veld en sal haar kalf behou en grootmaak, maar die koei van 600 kg kan dit in baie gevalle nie doen nie. Daarom het meer kalwers in hierdie geval met geboorte gevrek.

KOEIGEWIG BEPAAL BELADING

Boere moet hul veldbeladi­ng volgens hul koeie se gewig bepaal en nie bloot aan die hand van GVE/ha nie, het hy gesê. ’n GVE is tipies ’n koei van 450 kg, maar boere is geneig om te aanvaar dat elke koei gelykstaan­de aan 1 GVE is.

Op ’n plaas met genoeg weiding behoort die veldbeladi­ng met kleiner koeie (400 kg) 11,1 ha/GVE te wees – dus 180 koeie op 2 000 ha met ’n getalindek­s van 135. Die belading met mediumgroo­t koeie (500 kg) moet 13,2 ha/GVE, wees – dus 152 koeie per 2 000 ha en ’n indeks van 114. Die belading met swaarder koeie (600 kg) moet 15,1 ha/GVE beloop – dus 133 koeie op 2 000 ha met ’n indeks van 100. Dié plaas kan dus 35% meer ligte koeie van 400 kg as groot koeie van 600 kg dra. Die produksie per GVE sal ook heelwat hoër met ligter koeie wees omdat meer koeie aangehou kan word, met ’n gevolglike beter TKP en minder vrektes vanaf geboorte tot speenouder­dom.

Drakensber­gers is by die Winton-boeredag vir die praktiese demonstras­ies gebruik. Bosman het gesê Drakensber­ger-bulkalwers het die afgelope vyf jaar gemiddeld 221 kg op 205 dae geweeg. Die koeie het 490 kg geweeg, met ’n TKP van 424 dae en vrektes voor speenouder­dom van 2,8%. Teen ’n prys van R35 per kg kalf gespeen, is dit ’n stewige inkomste van R7 735 per kalf.

 ??  ?? BO: ’n “Rolls-Royce-koei” lewer elke jaar ’n fris speenkalf. Die boer moet in sy seleksiepr­oses onder meer op reproduksi­e konsentree­r. Dit is belangrike­r as enige ander eienskap. Drakensber­gerkoeie staan bekend as die “koningin van koeie” omdat hulle maklik kalf en ’n hoë melkproduk­sie het om swaar speenkalwe­rs te lewer.REGS: Mnr. Danie Bosman
BO: ’n “Rolls-Royce-koei” lewer elke jaar ’n fris speenkalf. Die boer moet in sy seleksiepr­oses onder meer op reproduksi­e konsentree­r. Dit is belangrike­r as enige ander eienskap. Drakensber­gerkoeie staan bekend as die “koningin van koeie” omdat hulle maklik kalf en ’n hoë melkproduk­sie het om swaar speenkalwe­rs te lewer.REGS: Mnr. Danie Bosman
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa