Jag: Wat maak ’n goeie mes?
Die maak van opregte jagmesse is ’n kuns. Soos kinders ‘baklei’ hulle met ons om voor in die bakkie te sit en by te wees om die kampvuur wanneer die stories dik loop.
Vir diegene wat nog ’n knipmes in die sak of aan die gordel dra, raak dit ál moeiliker om deesdae vrylik rond te beweeg weens allerhande regulasies wat dit nie meer toelaat op vliegtuie en in verskeie plekke, soos kantore van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, nie.
Die manne wat dag of nag hulpvaardig kan nader staan met hul Swiss Army Knife om ’n probleem met ’n knellende tou, ’n taai stuk biltong of selfs ’n halsstarrige kurkprop op te los, raak ook al hoe minder.
Tog bly ’n goeie mes ’n noodsaaklike stuk gereedskap in ons alledaagse lewe – nie net in ons kombuise nie, maar veral in die jagveld. Praat met die deursnee-jagter oor sy gunstelingkalibers en -gewere, en die gesprek maak vroeër of later ’n draai by messe.
Daar is messe wat wissel van kunswerke uit die geledere van mesmakergildes tot hardewarewinskope wat hul oorsprong het in die skeepswerwe van Alang in Indië, waar ou skepe opgebreek word. Dié messe pas veral lekker in die bakkie se paneelkissie.
Ongeag hoe duur of goedkoop die mes is, daar is altyd ’n gebruik vir só ’n mes.
’n Goeie mes is daarom een wat geskik is vir die doel waarvoor dit gebruik word.
VIR DIE VOLGENDE GESLAG
Die basiese vereistes vir ’n goeie jagmes is dat dit skerp en stewig moet wees met ’n lemdoring wat deur die hef se volle lengte strek en dat dit gemaklik in die hand moet pas.
Die meeste geweerkluise het ’n plek wat opsygesit is vir die messe wat moet saamgaan veld toe, maar sommige van daardie messe bly kluiskoninginne wat net tydens kyk-enwys-sessies met vriende uitgehaal word. Sulke messe word gewoonlik agter die mooi aan gekoop, en dit is seker ook goed so. ’n Man moet darem nou en dan iets mooi oppas, ’n bietjie kan spog en iets spesiaals aan die volgende geslag nalaat.
Maar dit is daardie messe wat gereeld gebruik word en ’n integrale en praktiese deel van die jag is, wat uiteindelik deel van goeie herinneringe word. Sulke messe moet bekostigbaar volgens jou vermoëns wees sodat dit nie as ’n kleinood beskou word nie, maar eerder as ’n goeie en waardevolle stuk gereedskap.
As gebruiksartikel moet dit lig en gemaklik wees om aan jou gordel of in jou sak te dra. As jy die mes in sy skede aan jou gordel dra, moet dit nie so lank wees dat dit op die grond druk as jy op jou hurke werk of aan die bakkie se sitplek vashaak as jy sit nie. ’n Jagmes met ’n lang lem is gewoonlik onnodig en onprakties.
Die doel waarvoor ’n jagmes aangewend word, soos uitbloei, pens en binnegoed uithaal en vel afslag, vereis nie ’n lem van langer as 8-10 cm nie. Die algehele lengte van die mes behoort nie langer as 20 cm te wees nie. As jy jou hand oopmaak en die mes op jou handpalm plaas, behoort die bopunt van die hef gelyk met jou gewrig en die punt van
die lem by die punt van jou middelvinger te wees. Dit verseker ’n goed gebalanseerde mes wat lekker in jou hand pas en waarmee gemaklik gewerk kan word.
Die manne met die vreeslike lang messe met saagtande en ander ingeboude bykomstighede wat prominent aan die bobeen van die kammo-broek gedra word, ly aan Rambo-sindroom, wat ’n mens se vermoë om prakties te dink, belemmer.
Jagmesse is nutsartikels en kan breedweg in drie ontwerpkategorieë verdeel word, naamlik veeldoelig, skerppunt en breëlem.
VERVOLMAAK OOR EEUE
Die mees praktiese ontwerp vir ’n veeldoeljagmes is die gevolg van eeue se gebruik reg oor die wêreld. Só kan die beroemde Amerikaanse mesmaker R.W. (Bob) Loveless (1929-2010) se gewilde drop point-ontwerp teruggevoer word na die mesontwerpe wat oor eeue heen vervolmaak is deur die inheemse Saami-stamme van die Nordiese lande. Die legendariese Puukko-messe van Finland en Mora-messe van Swede is goeie voorbeelde daarvan.
Die smaller skerppuntjagmes is ook geskik vir algemene gebruik, maar sy skerp punt maak hom veral nuttig vir fyner en ingewikkelder afslagwerk. As ’n mens ’n trofeedier afslag, is die dunner, skerp punt beweegliker en kan jy presies werk om die vel van die skedel en ongemaklike plekkies los te sny.
’n Breëlemmes met ’n meer geronde punt werk veral lekker as dit by vel afslag kom.
Waar ’n skerp, spits lempunt die vel kan beskadig, gly die breë lem makliker onder die bok se vel deur om dit van die karkas los te sny. Sulke messe is gewoonlik langer en swaarder as die veeldoelmesse en het stewige handvatsels wat voorkom dat die mes uit jou hand glip.
Vou-jagmesse en selfs knipmesse val ook binne hierdie drie ontwerpgroepe, maar het die voordeel dat hulle baie kompakter is en makliker gedra kan word. Dit is egter noodsaaklik dat sulke messe oor ’n sluitknip beskik wat die lem stewig in posisie sluit, anders kan die lem onverwags toevou, met nadelige gevolge vir vingers wat in die pad is.
SKERPSNYDEND
Staalkeuse vir ’n jagmeslem is natuurlik baie belangrik. Messe is deur ons voorsate oorspronklik van klip, later brons, toe yster en uiteindelik koolstofstaal vervaardig. Koolstofstaal is ’n allooi van yster met persentasies koolstof en ander metale. Met die koms van die nywerheidstydperk het staal baie verbeter om aan die strawwe vereistes van ál meer gevorderde masjienwerktuie en fabrieksgereedskap te voldoen.
Vlekvrye staal is in die vroeë 1900’s ontwikkel en is vandag die algemeenste keuse vir messe. Koolstofstaal kom nog wyd voor, maar die moeite van spesiale aandag om roes te vermy, het veroorsaak dat vlekvrye staal die oorhand gekry het. Baie mense glo egter dat ’n koolstofstaallem skerper gemaak kan word as ’n lem van vlekvrye staal en dat dit lekkerder sny en taaier is. Terwyl albei goed verhard kan word, is vlekvrye staal effens minder buigsaam.
’n Goeie meslem word gemeet aan hoe skerp hy gemaak kan word en hoe lank hy skerp bly. Die Rockwell-hardheidskaal (Rc) is die algemene maatstaf. Lemme met ’n Rc van 55 tot 66 word beskou as staal van goeie gehalte wat vir algemene werk in die jagveld en kombuis gebruik kan word.
Hoe om jou messe skerp te maak, is ’n onderwerp vir ’n ander dag, maar moet tog asseblief nie jou mes op die eerste, beste klip in die veld verwoes nie. Daar is ’n hele gros slyptoestelle op die mark waarvan gekies kan word. Die meeste van die goeies maak gebruik van diamantsteen in een of ander vorm met ontwerpe wat strek van plat slypstene tot apparate wat verseker dat jou lem teen ’n konstante hoek geslyp word. Slyp met die hand en vermy elektries aangedrewe slypmasjiene wat die lem só warm maak dat hy sy goeie hardheidseienskappe verloor.
HEF IN DIE HAND
Jou mes se hef is byna net so belangrik soos die lem. Hoewel natuurlike materiale, soos hout, horing en been, baie mooi lyk, is sintetiese materiale van ’n goeie gehalte dikwels meer prakties en duursaam. Natuurlike materiaal is gevoelig vir temperatuur, vog en chemikalieë in skoonmaakmiddels, en moet voortdurend onderhou word.
Die hefontwerp het ook baie te doen met hoe gemaklik en stewig die mes in jou hand lê en of hy steeds gemaklik sal wees ná ’n paar uur se afslag en opsny. Vat en voel eers goed voor jy net volgens die oog koop.
Uiteindelik het elke mes sy eie storie wat met elke gebruikslag ’n nuwe draai loop en interessanter raak – van die kosbare Joseph Rodgers-sakmesgeskenk van jou kinderdae tot die duur, handgemaakte mes wat jy by die mesmakersgildeskou gekoop het. Elkeen het sy waarde in herinneringe en vorm deel van jagter wees.
Soos ’n ouer kan jy nie altyd kies tussen dié een of daai een nie en neem jy heeltemal te veel van hulle saam. Maak maar plek vir almal omdat jy vir elkeen ’n werkie het. Die skerppunt vir uitbloei, die ou, stewige sondernaam vir die werkers wat wil afslag met hul stomp messe, die skaflike een vir uitleen aan ’n jagtersvriend, die erfgoedknipmes vir biltongkerf onder die boom en die besonderse spogmes vir vanaand se uithaal en wys om die kampvuur.
Mnr. Deon Erasmus is ’n voormalige diplomaat en sakeman, ’n toegewyde jagter en vuurwapengeesdriftige.