DIE ANDER SÊ
DR. THEO DE JAGER, voorsitter van die Wêreldboere-vereniging (WFO) skryf boere weet al langer as twee dekades dat grondbesit en landboutransformasie politieke dinamiet kan word. Die ANC het in 2008 al gevra om voorstelle vir ’n grondhervormingsplan en daar is nog nie een nie.
Deur elke nuwe grondhervormingsplan as ongrondwetlik, ANC-vriendelik of inmenging in die vrye mark te verwerp, skep ons boere die indruk dat ons links praat, maar regs hardloop. Die geskiedenis gaan nog kras oor ons oordeel vir ons onvermoë om ’n werkbare plan te beraam.
Binne die oorverhitte gronddebat is die sneller nou getrek, maar die koeël is nog nie deur die kerk nie. Die landbousektor kan nog aan Suid-Afrika ’n waardeproposisie maak wat die stille meerderheid op die middelgrond se verbeelding kan aangryp. Ons kan werk en welvaart skep waar Suid-Afrika dit die nodigste het, naamlik op die platteland. Dit verg beleid- en beleggingsekerheid en vertroue. Dit vereis waarborge dat niemand se swaarverdiende bates of balansstate verskraal sal word nie.
Maar dit gaan ons kos. Tyd, moeite, uitreik, hulp en mentorskappe, moue oprol en by nuwe bure betrokke raak, medemenslikheid en vertroue verdien, dít is die koste. Dít of alles verloor. Dit is beslis nie sake soos voorheen nie.
As ons dit nie regkry om ’n klas van winsgewende swart boere te skep nie, het ons nie ’n toekoms op ons plase nie. Wyle Anton Rupert het al gewaarsku: “Solank hulle sukkel en honger ly, sal ons ook nie kan slaap nie!”