ONTEIENING KAN KATASTROFIESE GEVOLGE HÊ
Peilings het al oor en oor gewys dat slegs ’n klein persentasie van die bevolking hulle in kommersiële boerdery wil begewe. Blykbaar besef hulle dat boerdery nie vir sissies is nie. Dit is duur en ingewikkeld.
Selfs onder landboustudente by een universiteit, waarvan 70% swart is, was daar nie een student wat hom in die boerdery wou begewe nie. Heel waarskynlik besef hulle dat onekonomiese eenhede (te min grond) en grond sonder eiendomsreg ’n vermorsing van waardevolle tyd en energie sal wees.
Suid-Afrika se nuwe President is onomwonde die beste wat daar is, maar ongelukkig loop hy op eiers, want daar is adders om hom wat hom openlik ondermyn. Ongelukkig erf hy ook die gevolge van meer as 20 jaar se funksionele agteruitgang in landsbestuur.
Die situasie is dus problematies, want die Regering se regeervermoë word aan bande gelê deur té hoë staatskuld, korrupsie wat hoogty vier en ’n té lae groeikoers om die stygende werkloosheid die hoof te bied. Die agteruitgang van infrastruktuur, reg en orde, onderwysstandaarde en mediese dienste gaan net voort. Ongelukkig sien beleggers wêreldwyd ’n baie donker prentjie in onophoudelike stakings, brandstigting en die plundering van infrastruktuur.
Die voorgenome onteiening van plase sonder vergoeding is natuurlik die slegste denkbare sein dat dinge besig is om verkeerd te loop. Die Regering bevind hom boonop in ’n baie benarde situasie, want hy is omring deur ontevrede kiesers, terwyl die interaksie met sy kiesers op ’n laagtepunt is. Kolonialisme en apartheid is nie meer te blameer nie.
Vir enige land is ’n goed geordende landbousektor ’n nasionale bate. Suid-Afrika is gelukkig om dit reeds te hê. Ons boere weet hoe om ekonomies te oorleef in ’n land met min bewerkbare grond (13%) en ’n lae gemiddelde reënval van sowat 460 mm per jaar, waarvan die meeste hoofsaaklik in die oostelike en suidoostelike dele van die land val.
Namate die reënval afneem van oos na wes, verander boerderypatrone ook om risiko’s so ver moontlik te vermy. Bestaansboere
ONBENUTTE STAATSGROND
gaan dit veral moeilik vind om in die droë, westelike dele ekonomies te oorleef. Die georganiseerde landbou is nie teen die herverdeling van landbougrond gekant nie, maar wel teen die jare lange mislukking daarvan en die vermorsing van waardevolle geld en tyd.
Om grond te bekom – met of sonder vergoeding – behoort nie vir die Regering ’n probleem te wees nie. Die probleem is wat met produktiewe landbougrond in staatsbesit gebeur. Geen antwoorde word verskaf oor wat die ekonomiese werklikheid gaan wees as grondhervorming ná die konfiskering van grond binne die volgende 20 jaar wéér misluk en werkloosheid op 92% te staan kom soos in Zimbabwe nie.
Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), wat deur kundiges saamgestel is, maak
daarvoor voorsiening dat 30% van die grond in elke provinsie vir grondhervorming geoormerk word, met ander woorde nagenoeg 24 miljoen ha grond. As die Regering nog ’n verdere 18 miljoen ha kan byvoeg wat reeds in staatsbesit is, sal meer as 40% van alle landbougrond vir herverdeling beskikbaar gestel kan word.
Waarom die NOP, wat deur regeringslui saamgestel is, nooit deur die Regering ondersteun is nie, bly ’n ope vraag. Waarom 18 miljoen ha bykomend onteien as die staat self oor soveel grond beskik wat al baie jare onbenut lê?
Die Regering het ook te vertel dat hy – ten duurste – vee, werktuie, saad en kunsmis aan beginnerboere gaan voorsien. Oor bedryfskapitaal word nie ’n woord gerep nie en ook nie oor wie se werk en op wie se rekening dit gaan wees om roofdiere te bekamp wat ’n hele lammeroes kan opvreet nie.
Om kommersieel winsgewend te boer, raak al hoe moeiliker. Grond is nie die sleutel tot rykdom soos wat politici wil beweer nie. Dit is ’n produksiemiddel wat tegnologies korrek bestuur moet word om mededingend te kan bly.
Ons boere kan met al ons geite en grille steeds kop omhoog loop, want daar is ’n skrille kontras tussen ’n suksesvolle landboubedryf aan die een kant en ’n wanfunksionele regeringsopset aan die ander kant.
Die Regering behoort te besef hy beweeg op dun ys as hy uit desperaatheid die EFF se waansinnige grondbeleid voetstoots gaan aanvaar. Boere het nie hul grond gesteel nie en kan geensins as misdadigers geag word nie.
Dit kan dalk net ’n hoorsêstorie wees, maar as boere se regte nie gerespekteer word nie, kan dit katastrofiese gevolge vir die land hê. Die vernietiging van alle infrastruktuur, vee en werktuie op plase kan soos ’n veldbrand versprei – hoe jammer dit ook al sal wees.
Sterkte en seën aan pres. Cyril Ramaphosa met sy uiters moei-