Melkplaas word stééds gemelk
MANIE het verlede week in sy oggendkoffie gestik toe hy sien dat die Estina-melkplaas by Vrede in die Vrystaat, waar die grootskaalse verkwisting van geld al langer as vyf jaar voortduur, steeds “gemelk” word.
Met die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye se oorsigbesoek moes die parlementslede hoor ’n maatskappy met die naam E’tsho word steeds maandeliks R1 miljoen betaal om die oorblywende net meer as 100 koeie te melk.
Die somme lyk skrikwekkend. Volgens die dagblad Beeld word 2 700 liter melk per dag teen R4,33/l aan die Mountain View-maatskappy op Harrismith gelewer. Dit beteken ’n maandelikse inkomste van R350 000, terwyl veevoer alleen maandeliks R250 000 kos, elektrisiteit sowat R40 000, brandstof tot R100 000, landboumiddels R35 000 en ’n koöperasierekening van R30 000 per maand betaal moet word.
Volgens Manie se somme is dit ’n uitgawe van minstens R1,5 miljoen per maand teenoor ’n inkomste van R350 000 (en dit gaan net eenvoudig voort).
Dan sê Machene Semeng, voorsitter van die komitee, die doel van die besoek was om seker te maak die projek stort nie in duie nie. Die ondersoeke na bedrog, diefstal en geldwassery is ná jare nog nie afgehandel nie.
GUPTA-BEWERINGS AL SEDERT 2013
Manie het in Junie 2013 vir die eerste keer oor die berugte plaas gepraat toe die Gupta-familie uit Indië, met hul omstrede bande met pres. Jacob Zuma en die Suid-Afrikaanse Regering, se betrokkenheid in Suid-Afrika ook ’n landbougeur gekry het.
Toe is daar gepraat van die melkplaas waar 2 000 koeie per dag gemelk gaan word en waar daar 4 400 beeste aangehou sou word met ’n melkfabriek van 8 000 m2, kuilvoerbunkers en werkersbehuising. Kenners het beraam dit sou R200 miljoen kos, maar volgens Ace Magashule, destydse Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC, was daar in daardie stadium R342 miljoen daarvoor begroot. Teen 2014 is berig dat die projek se begroting al R570 miljoen beloop het.
Die spook oor al die ongerymdhede het voortdurend geloop en met die uitgelapte Guptae-posse ’n jaar gelede het dit gelyk of die Gupta-familie aansienlike beheer oor die projek gehad het.
Die familie het deurgaans volgehou dat hy net betrokke was by konsultasiewerk van sowat R138 000.
DIEREREGTEGROEPE OP ’N SMAAKLIKE SOUSTREIN
Diereregte-organisasies, in teenstelling met dieresorg-organisasies, kan nie hul doelstellings bereik sonder om teen die regte van ander in te druis nie, aldus The True Green Alliance (TGA).
Die TGA het in 2015 tot stand gekom om die toenemende nadelige impak van diereregte-groe-
pe op wildlewe, en veral jag, teen te werk. Mnr. Ron Thomson, uitvoerende hoof, skryf op die TGA se Facebook-blad dat die internasionale diereregte-organisasies se besorgdheid oor die natuurlewe maar net ’n rookskerm is om jaarliks honderde miljoene rande se donasies te lok.
Afgesien van die internasionale fonds vir dieresorg (IFAW), mense vir die etiese behandeling van diere (Peta), Greenpeace en Born Free is daar ander radikale groepe wat heelwat politieke en sosiale invloed uitoefen. Dit is ’n baie smaaklike soustrein, beweer Thomson.
Volgens Annie Sparg, web- en sosialemediadirekteur van die TGA, meen die organisasie dat kennis van die natuurlike omgewing en die bestuur daarvan slegs ontwikkel kan word deur wetenskaplike navorsing. Dus is die beste teenvoeter vir die belaglikhede en onderduimse propaganda wat diereregtegroepe gebruik om verbruikers teen wild- en veeboere en hul produkte op te sweep, eenvoudig om die publiek beter in te lig oor die feite.
Thomson probeer veral om die internasionale bewaringsagentskappe te beïnvloed oor die noodsaaklikheid daarvan om die behoeftes van Afrika se landelike mense met dié van die vasteland se wild te integreer. Dit is die enigste manier hoe Afrika se wilde diere vir nageslagte behoue sal bly. Volhoubare verbruik is die goue weg, nie ’n verbod op jag nie.
Hy stel ook voor dat die TGA veeboere kan help om die aanslag van die diereregtegroepe, soos Peta, se inmenging in boerderypraktyke hok te slaan.
Tog het die TGA ook ’n rol te speel as ’n waghondorganisasie (selfs in boerdery) ten opsigte van volhoubare en aanvaarbare praktyke.
Volgens Sparg is die TGA se filosofie gegrond op die internasionale bewaringstrategie se benadering, naamlik ’n geintegreerde bestuurstelsel wat daarop gemik is om ekologiese prosesse en genetiese diversiteit te beskerm en te bevorder.
Ware omgewingsbewustheid en dieresorg streef daarna om die omgewing in ’n gesonde toestand te hou waarin diere nie net kan bestaan nie, maar ook gedy. In teenstelling daarmee, beweer die TGA, is die diereregte-organisasies gekant teen die bewaringsetiek, veral ten opsigte van dierelewe. Hulle is radikaal in hul geloof dat die mens geen reg het om diere – lewend of dood, wild of mak – te mag gebruik of verbruik nie. Die mensdom mag dus net plantaardige voedsel eet.
Wat die TGA betref, het almal die reg om diere en hul produkte te benut solank dit volhoubaar en beskaaf gedoen word.
HULDE AAN HENK
Namens Landbouweekblad wil Manie ook graag hulde bring ná die afsterwe van Henk van Wyk, voorsitter van Agri NoordKaap, wat onlangs aan ’n hartaanval dood is.
Hy was ’n steunpilaar vir die landbousektor in die provinsie waar hy die afgelope jaar as voorsitter gedien het en het ook sy skoene volgestaan binne Agri SA se strukture.
Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, sê Henk het onwrikbaar in die toekoms van die landbou in Suid-Afrika geglo. “Ons sal veral sy pragmatiese benadering tot die landbou, sy menswees, grappies en sy stories mis,” sê Dan.
Manie wil ook sy medelye betuig met Henk se vrou, Ronell, en sy dogters, Sandra, Jana en Hancke.
BESIGE VRIEND
Die boer bel ’n vriend en vra hom wat hy doen. Die vriend antwoord hy is besig met die hidrotermiese behandeling van keramiek, glas, aluminium en staal onder hewige oorhoofse druk.
Baie beïndruk met die antwoord gaan Google die boer presies wat dit beteken – net om te sien sy vriend is besig om skottelgoed te was onder toesig van sy vrou.