NASIONALE STRATEGIE VIR LANDBOU KOM
VIER landbou-organisasies – die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa), National African Farmers’ Union (Nafu), Agri SA en TLU SA – het onder die vaandel van die Eenheidsforum vir die Landbou (Asuf) sy voorneme verklaar om ’n nasionale strategie vir die landbousektor uit die perspektief van die georganiseerde landbou te ontwikkel.
Die vier voorsitters het gesamentlik hul verklaring van voorneme bekend gemaak en hou vandeesweek ’n nuuskonferensie daaroor.
As deel van die plan word ’n indaba vir die sektor beoog sodat ’n nasionale ontwikkelingstrategie vir ’n inklusiewe en volhoubare sektor ontwikkel kan word. Die organisasie sê hy het ook kennis geneem van die parlementêre proses vir onteiening sonder vergoeding en neem deel aan die proses.
Van die aspekte wat aandag sal geniet, sluit in die herontwerp van grondhervormingsbeleid en -programme, ondersteuning vir nuwe boere, uitvoergedrewe groei vir swart boere, institusionele mislukking op departmentele vlak, ’n gebrek aan vertroue en finansieringsmeganismes vir swart boere.
Die leiers, dr. Vuyo Mahlati (Afasa), mnre. Motsepe Matlala (Nafu SA), Dan Kriek (Agri SA), Louis Meintjes (TLU SA) en Japie Grobler (Asuf), sê daar is ’n gebrek aan verantwoordbaarheid ten opsigte van transformasie en niemand word verantwoordelik gehou vir foute met grondhervorming nie.
Die metode waarvolgens grondwaardasies gedoen word, moet ook hersien word.
Die voormalige tuislande is in ’n toestand van armoede en moet ook dringend hervorm word. Daarby moet die waarde van eienaarskap as manier om aanvullende sekuriteit te bekom erken word. Private eienaarskap en die vrye mark moet die grondslag vir ekonomiese groei wees en ’n landbou-ontwikkelingsplan moet ook ekonomies volhoubaar wees.
Kriek, voorsitter van Agri SA, het verlede week op Agri Limpopo se kongres gesê pres. Cyril Ramaphosa het tydens hul vergadering verlede Dinsdag gevra vir ’n afskrif van dié boereplan. “Dit sal die grondslag van die Regering se groeiplanne vir die landbousektor in Suid-Afrika vorm.”
In ’n afsonderlike vergadering met adj.pres. David Mabuza en mnr. Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, het ’n afvaardiging van Agri SA en die landbousakekamer Agbiz die ekonomiese en politieke onsekerheid ten opsigte van grondbesit bespreek.
KONSEPPLAN
Agri SA se afvaardiging het tydens die vergadering ’n konsepplan voorgelê wat volgens mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, grootliks op die Nasionale Ontwikkelingsplan geskoei is. “Dit is baie goed ontvang,” sê Van Zyl.
Kriek sê hoewel daar tans baie onsekerheid oor grondbesit heers, wat vererger word deur sensasionele koerantopskrifte en dikwels irrasionele vrese wat uit sekere kringe aangevuur word, glo hy daar moet ’n keerpunt kom. “Ek glo daardie keerpunt word bereik as rasionele mense met mekaar begin praat en saam oplossings soek.”
Hy glo die manier waarop die ANC en die Regering die afgelope week na Agri SA en die georganiseerde landbou uitgereik het, was vir hom een van die eerste ontwikkelings wat so ’n keerpunt verteenwoordig.
“Ek het nie sterre in my oë nie. Ek weet ons het nog baie probleme om die hoof te bied. Daarom is ons vergaderings met die Regering verby die punt van tee drink en melktert eet. Ons takel ernstige sake en ek is tevrede dat dít wat gesê moes word, in hierdie stadium deur rasionele mense gesê is.”
VERBIND TOT OPLOSSINGS
Kriek het dit duidelik gemaak dat daar ook by Agri SA erns is oor grondhervorming en restitusie. “Ons almal is verbind tot oplossings wat die ekonomie weer aan die gang sal kry en tot groei sal lei, en ek glo die Regering is ook. Ons President is ’n boer. Hy ken die landbou. Hy het goeie begrip vir wat ons moet doen en wat gedoen moet word.”
Van Zyl sê die finansiering van grondhervorming is die volgende groot kwessie wat die landbou en die Regering moet takel.
Agri SA glo die enigste manier waarop optimale finansiering ontsluit kan word, sal wees om swart boere titelaktes vir hul grond te gee. “Dit sal die maklikste oplossing wees.”
Hy sê ’n ontwikkelingsagentskap moet op die been gebring word om “sagter” lenings aan opkomende boere beskikbaar te stel. “Ons praat reeds met die private finansiële sektor en die Regering daaroor.”