HOE WERK NORMSTELLING?
Hulle is geen waarsêers nie, verduidelik mnr. Tonie Linde van BDK Ouditeure.
“Ons standaardiseer inligting op grond van sekere beginsels om by gemiddeldes en groepsgemiddeldes te kom sodat ons neigings kan ontleed.
“Op individuele vlak kan jy jouself dan afvra of jy binne of buite die neiging lê. Normstelling is nooit ’n stok nie, dis net iets wat fokus aandui. Dis vir ons die kern van die hele ding,” sê Linde.
Verlede jaar het altesame 45 plaaseenhede – oftewel 40% van die appels en 35% van die pere wat in die streek Elgin, Grabouw, Villiersdorp en Vyeboom geproduseer word – aan die studie deelgeneem.
Ná die syfers verwerk is, bied Badenhorst en Linde ’n algemene terugvoeringsessie aan, waarna hulle bereid is om individuele plase (wat dit aanvra) te besoek en saam met die produksiespanne na die syfers te kyk en vrae te vra.
“Ek begin altyd deur te sê: Ek kan nie vir julle sê hoe om te boer nie, maar ek kan die syfers wys en ’n paar vrae vra.”
Badenhorst vertel die afgelope 20 jaar het dit al menige keer gebeur dat ’n boer by hulle, as finansiële raadgewers wat in die landbou spesialiseer, kom aanklop as hulle in die moeilikheid is op die plaas.
“Dis baie moeilik vir so ’n boer om te kan identifiseer waarop hy hom moet toespits, veral omdat hy deur sy eie bril kyk. Ons gebruik dan normstelling om gebiede uit te lig waarop die boer moet konsentreer – is sy probleem produksie, die koste van produksie, die gehalte van produksie of die ouderdom van bome?”
Linde sê dis ook ’n manier om aan boere te wys waar hulle op die regte pad is. “Ons kan vir ’n ou wys sy uitpak was goed en sy kostestruktuur was goed, so hy moenie daardie wenresep probeer verander nie, maar hy moet byvoorbeeld kyk na sy tonne, wat te min was teenoor die bevolking.”
Badenhorst haal hul winsgewendheidskedule uit. “Ons kry ouens wat in die onderste 25% lê as hulle by ons aankom en dan beland hulle binne twee, drie jaar in die top-25%, net omdat ons hulle kon help om hul probleemgebiede te identifiseer. As hulle dus bereid is om te luister, kan ons enorme waarde toevoeg.
“Dis nie ’n wonderoplossing vir die boer nie, maar ’n proses van verfyning en verfyning en verfyning oor die tyd heen. Die ouens wat hoër op die indeks lê, neem al ’n paar jaar deel. Dié wat onder lê, is gewoonlik die ouens wat heel laaste aangesluit het.”
Hy begin lag as hy vertel die boere noem dit onder mekaar die Badenhorst Bible. “Daar was ’n Engelsman op Grabouw wat gesê het jy moet die boek saam met jou Bybel in die bedkassie bêre en elke aand ’n stukkie daaruit lees!”
Maar waarom is daar dan steeds boere wat nie deelneem nie? “Dit verg ’n klomp werk om die inligting bymekaar te sit en sommige ouens sien die terugvoering as kritiek, wat vir hulle moeilik is om te hanteer,” meen Badenhorst.
Linde stem saam dat die werk mense afskrik, maar hy sê binne twee jaar is ’n plaas se boekhoustelsel gewoonlik gereed om die opgawe binne twee dae in te vul.
Wat die koste van deelname betref, het dit boere verlede jaar sowat R7 400 per plaas gekos om deel te neem.