Luneburgers en Pannar groei saam aan toekoms
Pannar se voetspoor in die uithoeke van Suid-Afrika is verantwoordelik vir meer as net saadverkope. Vriendskappe word gesmee en ondersteuningsnetwerke geskep om saam met landbougemeenskappe die platteland te laat leef.
Luneburg is ’n goeie voorbeeld van ’n plattelandse dorp waar Pannar deel van die gemeenskap is. Hierdie dorp in KwaZulu-Natal, naby die grens met Mpumalanga, lê naby dorpe, soos Vryheid, Paulpietersburg, Piet Retief, Wakkerstroom en Volksrust. “Dit is ’n gebied wat tussen die berge lê, met bekende koppe, soos Ncaga en Maketeeskop, in die omgewing,” sê mnr. Frik Moolman, Pannar se verkoopsverteenwoordiger in dié area.
“Dit is ’n Duitse gemeenskap wat al sedert 1854 hier woon en wat die gebied uiters doeltreffend bestuur en bewaar. Dit is ’n gebied waar gemengde boerdery volop is en waar boere met mielies, sojabone, beeste, skape, varke, wild en melkbeeste boer, en bosbou bedryf.
“Die meeste boere het ten minste drie boerderyvertakkings en die meeste van die plase word uiters doeltreffend en baie professioneel bedryf. Dit is ’n gemeenskap wat saamstaan en selfs ná amper 170 jaar steeds hul Duitse tradisies behou en nastreef,” sê Moolman.
GOEIE SAAIGEBIED
Die saaiboerdery in die gebied bestaan meestal uit mielies, sojabone en springmielies.
“Die grond is oor die algemeen diep, vrugbaar en goed gedreineer, hoewel die grondtipes ook maar baie wissel, soos in die meeste dele van KwaZulu-Natal.
“Die gemiddelde reënval is ongeveer 900 mm per jaar, wat
dit in ’n goeie jaar ’n baie goeie saaigebied maak. Die gemiddelde boer plant ongeveer 200 ha, terwyl die grootste boere om en by 1 000 ha se gesaaides plant,” sê hy.
’n Paar van die beperkende faktore in die gebied is: Beperkte hitte-eenhede in sommige seisoene.
Siektedruk (blaarsiektes, soos grysblaarvlek en noordelike blaarskroei) in party seisoene, saam met die moeilike bekombaarheid van vliegtuie om bespuitings teen dié siektes te doen. Die boere moet soms weke lank wag. Daarbenewens is dit moeilike terrein tussen die berge, kragpale, plantasies en geboue. Dus verkies die boere daar kultivars wat meer siektebestand is. Ondergrondse suurversadiging. Die ondergrond het in baie gevalle ’n hoë suurinhoud. In ’n goeie reënjaar met genoeg vog en wortelontwikkeling in die bolaag het dit nie ’n groot uitwerking op die opbrengs nie. In ’n droër of stremmingsjaar kan dit egter ’n wesenlike nadelige uitwerking op die opbrengs hê. Fosfor (P) en kalium (K) se
vlakke in die ondergrond is in baie gevalle laag, wat nadelige gevolge, soos omval, tot gevolg het. Om die ondergrondse vlakke van P en K op peil te kry, kan dikwels beteken dat die boer sy grond weer moet “terugkoop” as die hoë koste daarvan in ag geneem word. As gevolg hiervan, asook die koste verbonde aan arbeid, kies boere veral kultivars met ’n bewese weerstand teen omval. By die sojabone is Sclerotinia-stamvrot in baie seisoene ’n kwaai probleem.
MIELIEBASTERS
“Wat die prestasie van witmieliebasters in die oostelike produksiestreek betref, het die baster PAN 3A-173 ongelooflik goed presteer op droëlandgrond met ’n hoë potensiaal waar die verwagte opbrengs onder besproeiing meer as 10 t/ha is,” sê mnr. Grant Pringle, Pannar se landboukundige in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.
“PAN 3A-173 se plante vaar agronomies goed in hoë plantbevolkings en lewer ’n baie goeie graangehalte. Ander witmieliebasters in die stal wat ook in hierdie omgewing in die oostelike produksiestreek goed presteer, is PAN 4A-111 en verwante glifosaat-, Bt- en stapelgeenopsies, asook PAN 5R-785BR,” sê Pringle.
“In die geelmieliereeks van droëlandbasters is PAN 5A-182 nou goed gevestig in die ooste.
Dit is ’n Duitse gemeenskap wat al sedert 1854 hier woon en die gebied uiters doeltreffend bestuur en bewaar.
Dit is ’n buitengewoon stabiele presteerder in die streek.”
PAN 5A-182 se stabiliteit, tesame met sy prestasie, het gesorg dat dit die afgelope twee seisoene die beste in sy klas presteer het in die Landbounavorsingsraad se proewe vir die oostelike deel van die saaigebied.
Nuut op die rak is die baster PAN 5A-190. Dié nuwe baster groei effe vinniger as PAN 5A-182 en saam met PAN 4A-172 vorm dit ’n formidabele pakket vir die oostelike gebiede.
“Twee splinternuwe ultravroeë basters is PAN 3R-724BR en PAN 3R-700BR, wat uitstekende opbrengste toon onder besproeiing en op droëlandgrond met hoë potensiaal.
“Ons verwag dat hierdie basters in die volgende paar seisoene ’n dominante posisie in die mark gaan geniet,” sê Pringle.
SOJABONE
“Sojabone is ’n belangrike gewas in die ooste en met die mielieprys wat tans onder druk verkeer, skep dit mededingende pryse uit eie reg, veral as die sojaprys met die mielieprys vergelyk word. Kultivarkeuse by sojabone is een van die belangrikste bestuursbesluite wat ’n reuse-impak op opbrengs kan hê,” sê Pringle.
Met tot 30% van die opbrengsverskil wat toegeskryf kan word aan kultivarkeuse, is dit vanselfsprekend dat die boer die regte keuse moet maak.
“Gelukkig is Pannar al jare lank in die sojaboonmark en het ons ’n wye keuse van wyd aangepaste hoëprestasiekultivars. PAN 1521R en PAN 1623R is albei kultivars wat boere met groot vertroue kan plant in bykans enige sojaproduksiestreek in Suid-Afrika sonder vrees om opbrengs in te boet.”
HEGTE GEMEENSKAP
Vir Pannar gaan dit egter oor meer as sojabone en mielies. In Luneburg, soos in talle ander plattelandse dorpe in Suid-Afrika, lê sy wortels diep geanker in die gemeenskap, sê Moolman.
“Die gemeente van die Luneburgkerk is volgende jaar 150 jaar oud en die skool, Luneburg Schule, is die daaropvolgende jaar 150 jaar oud, wat dit een van die oudste skole, indien nie die oudste skool in die hele omgewing nie, maak,” sê Moolman.
“Die skool gee klas van graad 1 tot graad 7 en het tans 66 leerlinge wat deur nege onderwysers onderrig word.
“Die hoof-onderrigtaal is Duits en al die gewone vakke, waaronder junior meganika, word by die skool aangebied. Die standaard is hoog en die kinders presteer puik as hulle by die plaaslike hoërskole inskakel.
“Sportsoorte, soos krieket, netbal, raakrugby, atletiek, swem en skyfskiet, word aangebied. Die skool ding mee teen ander kleiner skole in die omgewing.”
Die Pannar-boeredag wat in Maart vanjaar by die skool aangebied is, was ’n reusesukses, met ’n program wat gewissel het van Pannar-produkpraatjies en gewasse se proefresultate tot aanbiedings oor geenbewerking en die gebruik van dekgewasse nadat mielies en sojabone gestroop is.
“Ná die aanbieding in die saal is die lande net buite die skoolterrein besigtig, waar groot mielie- en sojaboonproewe aangeplant is (byna 10 ha). Daar is die verskillende kultivars en basters bespreek en kon boere vrae vra, tussen die proewe inbeweeg en dit met mekaar vergelyk.
“Die dag is op die skoolterrein met ’n geselligheid en ’n vleisbraai met vleis van die plaaslike slaghuis en talle tradisionele Duitse bykosse afgesluit,” sê Moolman.
“Die boeredag is goed bygewoon en die hele Luneburg-gemeenskap staan vierkant agter die skool as hy enige aktiwiteit of geldinsameling aanbied. Vir my is dit ’n voorreg om ook só betrokke te raak by ’n gemeenskap en sy skool en om terug te ploeg in die omgewing en sy kinders.
Hierdie interafhanklikheid sorg dat Pannar en sy boere vooruit kan boer en saam sterk kan staan vir die toekoms. Saam boer ons vir die toekoms! Die skool se leuse is dan ook: ‘Die kleine Schule mit dem großen Unterschied’,” sê Moolman.
NAVRAE: Mnr. Frik Moolman, e-pos: frik.moolman@pannar. co.za; sel 082 973 6671; mnr. Grant Pringle, sel 071 678 151 1 .