Landbouweekblad

Sê tog: ‘Ek is lief vir jou’

- DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN HART TOT HART

’n Mens kan nie deur jou materiële gawes die guns van God koop nie.

In my tuin, op ’n beskermde plek, het ek ’n paar jaar gelede ’n boompie geplant wat aanvanklik groot belofte getoon het. Die vrugte wat dit gedra het, was heerlik en veel meer as wat ek verwag het. En toe – tot my teleurstel­ling – het dit geleidelik minder en minder vrugte begin dra.

Ek kon dit nie verstaan nie, want aan water en bemesting het dit beslis nie ontbreek nie.

Toe, op ’n dag, het ’n bemestingk­undige vriend van my ’n diagnose gemaak: “Dis nie hoeveel bemesting jy gooi nie, maar hoeveel bestanddel­e dit bevat.”

Later het hy aanbeveel dat die gereelde toediening van spooreleme­nte die oplossing is. Ek het sy raad gevolg en nou wag ek gretig om te sien wat vanjaar se resultate gaan wees.

Die voorval het my dadelik laat dink aan die resep vir goeie menseverho­udinge. Om te dink dat jy alles het omdat jy alles gegee het, beteken nog nie dat jou oordeel korrek was nie. Die apostel Paulus het in Korintiërs daaroor geskryf. Hy sê hy vra nie hulle goed nie, maar hulleself. ’n Mens kan nie deur jou materiële gawes die guns van God koop nie. Jy kry dit verniet as jy jouself aan God gee.

In menslike verhouding­s bied die huwelik ’n pragtige voorbeeld. ’n Man kan byvoorbeel­d sy vrou oorlaai met die duurste dinge, maar dit sal nie vir haar geluk bring as sy nie die diepe oortuiging het dat hy homself, sy opregte liefde, sy deernis, aan haar gee nie. Sy wil sy arms om haar lyf voel, sy wil hom hoor as hy in haar oor fluister: Dankie dat jy my vrou is, ek is baie lief vir jou en sal jou altyd lief hê.

As jou duurste “dinge” nie simbole is van jou opregte liefde nie, is jou “dinge” niks werd nie.

Baie mense hou op om vreugdevol vrugte te dra omdat hul diepste behoeftes en verlangens nie verstaan word nie.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa