Genees die wonde van die verlede, vra Ramaphosa
DIE oordrag van grond moet die wonde van die verlede eens en vir altyd genees, het pres. Cyril Ramaphosa op die African Farmers’ Association (Afasa) se voorsittersdinee gesê.
“Afasa verander die algemene beskouing dat swart mense net bestaansboere kan wees. Swart mense wil hul grond terughê sodat hulle daarop kan boer,” het Ramaphosa gesê met verwysing na die siening dat die meeste swart mense grond in stedelike gebiede wil bekom. “Die teenwoordigheid van soveel swart kommersiële boere hier wys swart Suid-Afrikaners kan hul eie grond besit, bestuur en volhoubaar boer.”
Ramaphosa het erken die Regering se gesloer verhinder dié boere om hul boerderye uit te brei. “Ek weet self hoe frustrerend dit is om saam met die Regering te probeer werk. Ek het as boer aansoek gedoen om ’n waterlisensie en dit eers drie jaar later ontvang.”
Hy het gesê die tyd van ’n burokratiese gerompslomp ten opsigte van die landbou is nou verby. “Ons moet ophou om ons landgenote se sukses te belemmer met onnodige burokrasie. Ons moet verseker dat die regulatoriese raamwerk daarop ingestel is om die landbou te ontsluit en ons boere vry te maak.”
‘GROND IS ROU WOND’
Hy het gesê die grondkwessie is sekerlik tans die belangrikste en dat grond aan swart boere oorgedra moet word om die ongeregtighede van die verlede reg te stel. “Dit (die grondkwessie) is ’n rou wond wat genees moet word. Ál manier om dit reg te kry, is om die grond aan ons mense terug te gee.”
Hy het gesê as transformasie in die landbou nie plaasvind nie, sal die wonde van die verlede nie genees nie en dit sal tot onstabiliteit in Suid-Afrika lei. “Ons het nou die kans om die kwessie eens en vir altyd by te lê. Nes ons in die verlede gedoen het, kan Suid-Afrikaners weer saamwerk, die kwessie bespreek en oplossings vind.
“Deur die grondkwessie nou aan te pak kan ons die krag van ons land se ekonomie ook verder ontsluit. Ons weet ons mense kan die grond bewerk. Nou is die kans daar om ook die landbou verder uit te bou.”
Ramaphosa het gesê die voorstel om grond te onteien het tot ’n gesonde debat gelei.
“Grondeienaars het moontlik vir die eerste keer die ongeregtighede van die verlede begin besef. Die verspreiding van grondeienaarskap is heeltemal ongelyk en ons moet iets doen om dit reg te stel.
“Een van die meganismes waarmee ons hierdie ongelykheid wil regstel, is deur onteiening sonder vergoeding, maar dit is slegs een van verskeie meganismes wat ons oorweeg.”
Hy het gesê die voorstel rakende die verandering aan artikel 25 van die Grondwet is daarop gemik om meer duidelikheid ten opsigte van onteiening te gee. “Sodra ons meer duidelikheid het, kan die proses voortgaan om die landbou te transformeer en kan ons sekerheid van verblyfreg aan alle Suid-Afrikaners gee.”
Ramaphosa het gesê die Regering wil hê die landbou moet die ekonomie help groei. “Die landbou het in verskeie lande oor die wêreld heen gewys dat dit die sektor is wat ’n leidende rol in ekonomiese groei kan speel.
“Ons as die Regering moet ons steun en dienste opskerp om veral opkomende boere beter tot diens te wees. Daarbenewens sal die Regering voortgaan om nuwe markte vir hierdie segment te ontgin.”
‘NIE TYD VIR BAKLEI’
Hy het gesê die tyd is ryp vir alle
Suid-Afrikaners om saam te werk om grondhervorming te laat slaag.
“Dit is nie die tyd om met mekaar te baklei nie. Afasa het die regte benadering deur te sê dat hy nie wit of swart boere wil hê nie, maar eerder Suid-Afrikaners wat saamwerk vir die beswil van die land.
“Laat ons dus saamwerk vir ’n beter toekoms. Daar is geleenthede vir wit én swart boere om saam met die Regering te werk vir ’n beter toekoms.”
Hy het gesê ’n hele aantal kommersiële boere het reeds met hom in verbinding getree en hul hulp aangebied. “Verskeie boere met wie ek gepraat het, het gesê Suid-Afrika is ál wat hulle het en dat hulle wil help om oplossings te vind. Dit is vir my verblydend dat die gevestigde landbou ook só betrokke wil raak.”
Ramaphosa het gesê die Regering staan gereed om na nuwe modelle vir die finansiering van swart boerderye te kyk. “Die landbou kan nie werk sonder die nodige finansiering en ondersteuning nie. Vir die ekonomie om te slaag, moet ons dus maniere vind, hetsy met finansiering van die private sektor, die Regering of ander instellings, om die landbou te ondersteun. Ons het die grond; nou is dit tyd dat ons daarmee woeker vir ’n beter toekoms.”