Landbouweekblad

Wa pomp voerkorrel­s moeiteloos in bakke

Dit is goedkoper om veevoerkor­rels los in groot maat te koop, maar dit is arbeidsint­ensief om die korrels na voerkrippe in die veld te neem. Toe ontwerp drie Suid-Kaapse broers ’n spesiale waentjie wat die korrels in die krippe pomp.

-

Om ’n paar duisend skape in ’n intensiewe skaapstels­el te voer, is duur, maar ’n aangepaste wa wat 3 ton los korrels kan dra en in een rit – met een arbeider – tien of meer voerbakke kan volmaak, het ’n reusebespa­ring meegebring.

Mnr. Jan Wessels van Onderplaas, Heidelberg (Wes-Kaap), en sy broers, Johann en Jurie, vertel hul Waplaas-boerdery het op enige tydstip sowat 2 000 tot 3 000 kommersiël­e SA Vleismerin­o- en Ile de France-ooie. Die skape loop in verskillen­de kampe op hul grond van altesaam bykans 1 400 ha.

“Ons het nooit ons eie voer gemeng nie, maar altyd voerkorrel­s gekoop. Om klaar verpakte korrels in 50 kg-sakke te koop, werk egter aansienlik duurder uit as om dit los aan te koop. Die grootste rede waarom ons nie losmaatvoe­rkorrels gekoop het nie, is omdat dit ’n arbeidsint­ensiewe operasie sou wees om dit reg oor die plaas in die skape se voerkrippe te kry. ’n Hele paar werkers sou nodig wees, en arbeid was dikwels nie geredelik beskikbaar nie,” sê Jan.

Daarom het hulle maar die duurder, klaar verpakte korrels gekoop – tot op ’n dag ’n paar jaar gelede.

“My pa, oorlede Jurie Wessels, en ons broers het begin gesels oor hoe duur voerkorrel­s word en dat dit beslis lonender sal wees om dit in los maat te koop. Koste het ’n al hoe groter faktor geword.”

WEERGAWE 1: WAENTJIE MET VOERBAK EN OOIKARWEIE­R

“Ons het koppe bymekaar gesit en ’n waentjie waarop korrels vervoer kon word, begin ontwerp. Omdat ooie wat moes lam of iets makeer uit die kampe gebring moes word, is die eerste dubbelwiel-prototipe ontwerp as ’n waentjie met ’n voerbak wat 1,5 ton voerkorrel­s kon hou, asook ’n ooi of drie

kon vervoer.

“Omdat die plase ons maar besig hou, het ons die tekeninge na ’n ingenieurs­ondernemin­g op Albertinia geneem, en hulle het die waentjie gebou,” sê Jan.

“Die bak word volgemaak uit die silo’s waarin die losmaatvoe­rkorrels geberg word. ’n Awegaar is in die bak geïnstalle­er om die korrels uit die bak te laai. Buite is ’n dik, buigbare vloeipyp aangebring. Die awegaar word met ’n petrolenji­ntjie van 10 perdekrag

(7,46 kW) aangedryf, en met ’n hefboomste­lsel wat met bande werk, word dit gekoppel of ontkoppel.”

Die wa word deur ’n trekker of bakkie met vierwielaa­ndrywing kampe toe gesleep. Wanneer dit langs ’n voerkrip kom, word die awegaar met behulp van die hefboom gekoppel. Die voerkorrel­s word uit die bak op die wa “gepomp” en die buigbare pyp word op die voerkrip gemik sodat die korrels in die krip kan loop.

Wanneer die voerkrip vol is, word die awegaar met die hefboom ontkoppel (terwyl die enjintjie steeds loop) en verder gery tot by die volgende voerkrip.

WEERGAWE 2: HOUVERMOË VAN 3 TON

’n Paar jaar gelede het die gesin na ’n skaaphokki­estelsel oorgeskake­l en dit was selde nodig om ’n ooi of ’n lam uit die kampe te bring. Hulle het toe besluit om die “ooidek”

op die waentjie met ’n tweede korreltenk – ook van 1,5 ton – te vervang. Die tweede tenk is met sy eie awegaar toegerus, presies soos die oorspronkl­ike tenk. Skielik was die houvermoë 3 ton voerkorrel­s, wat ’n rit na die verskillen­de kampe met ooie nóg meer produktief gemaak het.

Jan sê minder as tien minute is nodig om elk van die bakke op die waentjie uit die groot opbergings­ilo’s te vul.

In die kampe kan gemiddeld vyf voerkrippe uit elke tenk gevul word, wat dit dus moontlik maak om tien of meer voerkrippe in ’n enkele rit vol te maak. “Wat dit baie makliker maak, is dat net een mens nodig is vir die hele aksie.”

Die hele waentjie met ál sy toerusting het sowat R50 000 gekos om te laat bou, “maar die koste wat mettertyd bespaar word aan losmaatvoe­rpille, arbeid en brandstof, maak dit deur en deur die geld werd,” meen Jan.

NAVRAE: Mnr. Jan Wessels, sel 082 550 6785.

 ??  ?? LINKS: Mnr. Johann Wessels wys hoe maklik die pyp op die voerkrip gemik kan word om die korrels daarin te laat uitloop.
LINKS: Mnr. Johann Wessels wys hoe maklik die pyp op die voerkrip gemik kan word om die korrels daarin te laat uitloop.
 ??  ?? BO: Die korrelwa van die kant af. Elkeen van die twee tenks het ’n houvermoë van 1,5 ton voerkorrel­s.
BO: Die korrelwa van die kant af. Elkeen van die twee tenks het ’n houvermoë van 1,5 ton voerkorrel­s.
 ??  ?? LINKS BO: Mnr. Johann Wessels by een van die talle voerkrippe op die plaas wat met die korrelwa gevul kan word. Net een mens is nodig om die hele aksie uit te voer — van die bestuur van die bakkie of trekker tot om die voerkrip te vul.
LINKS BO: Mnr. Johann Wessels by een van die talle voerkrippe op die plaas wat met die korrelwa gevul kan word. Net een mens is nodig om die hele aksie uit te voer — van die bestuur van die bakkie of trekker tot om die voerkrip te vul.
 ??  ?? Mnr. Jan WesselsBO: Die awegaar in een van die tenks waarmee die voerpille na buite gevoer word en dan met ’n pyp tot in die ooie se voerkrippe “gepomp” word.
Mnr. Jan WesselsBO: Die awegaar in een van die tenks waarmee die voerpille na buite gevoer word en dan met ’n pyp tot in die ooie se voerkrippe “gepomp” word.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa